Subscribe by Email

Nuuskommentaar: ANC se eeufees te laat vir wittebroodstyd

By die nagaan van buitelandse media kan dit moeilik anders as dat afgelei word dat die ANC se wittebroodstydperk by Europa en die VSA, en baie ander lande, reeds verstryk het.

Baie buitelandse koerante het vooraf nie ‘n woord van die fees gerep nie, en waar daar wel iets geskryf is, is dit nie belangrik genoeg vir die koerante se webportaal nie en moet dit via die argiewe opgespoor word. Dan het baie van die berigte die klem daarop laat val dat oud-pres. Nelson Mandela nie die verrigtinge kon bywoon nie.

De Standaard, ‘n Vlaamse koerant, het ook so ‘n berig gedra maar ‘n insiggewende een daarby. Die opskrif: “Herskryf die geskiedenis”, vertel reeds die verhaal dat dit krities sou wees. Op die oomblik is Wes-Europa ontsteld oor die Hongaarse parlement die bestaande grondwet, wat baie op dieselfde beginsels as die Suid-Afrikaanse grondwet van oppergesag van die reg geskoei was, afgeskaf het en met een vervang het geskoei op die oppergesag van die Parlement. Dit kom duidelik op ‘n diktatuur van die meerderheid neer. Dit wat daar toegepas word, kom baie ooreen met sake waarvoor pres. Jacob Zuma onlangs ook gepleit het, soos dat howe nie in staat moet wees om ‘n regerende party se beleid en planne te fnuik, bloot omdat teenstrydig met die grondwet kan wees nie. Omdat die Hongaarse parlement in die proses die geskiedenis herskryf om die rol van kommuniste weg te skryf, staan die Hongaarse proses ook as die herskrywing van die geskiedenis bekend.

Daarom, insiggewend, dat De Standaard juis nou hierdie opskrif sou gebruik vir die ANC se eeufeesvieringe. Die berig is krities, maar fokus daarop dat die ANC te veel van die eer opeis vir die stryd teen apartheid. Ander instellings, soos die PAC wat die Sharpville-voorval aangestig het, biskop Desmond Tutu en ander moet ook krediet kry.

Vanoggend is daar meer berigte oor die verrigtinge self, en De Standaard het op sy webblad selfs ‘n foto-bylaag – maar geen blanke gesig is daarop te sien nie.

Dat die ANC, wat die buitewêreld betref, as gister se glansparty beskou word blyk daaruit dat ‘n skamele vier regeringshoofde die amptelike dinee bygewoon het, terwyl vyf voormalige regeringshoofde die ANC met hul teenwoordigheid vereer het. Dit staan in skrille kontras met die aanvanklike beraming dat sowat ‘n honderd verwag word, wat na die aanvang van die naweek se verrigtinge tot net minder as vyftig afgeskaal is.

Dat dit ‘n, soos die Werkloosheidverenging dit stel, ‘n duur bedwelmende fees was om mense van hul werklike probleme te laat vergeet is ongetwyfeld so. ‘n Mens kan daarom die vraag vra hoeveel kapitaal Zuma in die besonder, en die ANC in die algemeen daaruit gaan kry? Sal Zuma daarop kan ry tot die ANC aan die einde van vanjaar hom as leier gaan herkies of verwerp? En die aanduidings is dat dit nee sal wees.

Wat die land self betref: Waarnemers wys daarop dat Zuma nie ‘n woord oor nasionalisering of onteiening gerep het nie, maar dit hou heel waarskynlik verband met die besoek oor die naweek deur die hoof van die IMF, Christine Legarde, aan Zuma en ander ANC-leiers. Sy het vermoedelik dit heel duidelik aan die ANC uitgespel dat selfs in die konteks van die spesifieke gehoor, die land wrange vrugte gaan pluk as dié praatjies die aandag van die wêreldmedia sou trek.

‘n Interessante aspek wat baie kommentators geheel verswyg, is Zuma se oproepe tot nasionale dialoog. Die afgelope jaar was daar uit verskeie invloedryke kringe oproepe hiervoor. Die oproepe het uit wyd-uiteenlopende kringe gekom soos die FW de Klerkstigting, die Afrikanerbond en mnr. Willie Spies van Afriforum. Aan die een kant van die spektrum is daar kommer dat die 1994-onderhandelde skikking besig is om in die sand uit te loop deur optredes en eise van die ANC wat selfs teen die onderhandelde grondwetlike beginsels gemik is. Aan die ander kant word gevoel dat die bestaande grondwet in elk geval in terme van die volkereg tekort skiet en dat ‘n nuwe grondwet onderhandel moet word wat meer in pas met internasionale gebruike is, en die belange van minderhede beter beskerm.

Zuma self het sekere voorwaardes aan hierdie dialoog gestel – nie rassig, nie-seksisties, afgestem op ‘n samelewing wat omgee en wat in diversiteit saamgebind is. Hoewel hy in die euforie van die oomblik hiermee die vinger na ander wys, het bykans elk van hierdie voorwaardes vir die ANC self ernstige implikasies.

Hoewel selektiewe geheue en die aanbieding deur die media grootliks die ander werklikheid verswyg het, het baie Suid-Afrikaners nie vergeet dat daar ook ‘n ander sy aan die ANC was, en waaroor dié liggaam selde indien ooit enige boetvaardigheid toon nie. Afriforum het die volgende syfers die wêreld ingestuur:

· Dat die Waarheids- en Versoeningskommissie (WVK) bevind het dat die ANC-leierskap verantwoordelik gehou kan word vir “die growwe skending van menseregte” vanweë die landmynaanvalle en ander terreurdade;

· Dat, ten spyte daarvan dat die ANC Protokol 1 van die Geneefse Konvensie – wat aanvalle op burgerlikes en die gebruik van landmyne en bomme uitdruklik verbied – in 1980 onderteken het, 80% van die ANC se terreuraanvalle daarna op burgerlikes gemik was. Dit was die gevolg daarvan dat die ANC se politieke leiers gedurende Junie 1985 tydens hulle nasionale konferensie in Kabwe, Zambië, besluit het dat die “onderskeid tussen harde en sagte teikens” moet verdwyn;

· Dat sowat 700 burgerlikes wreed deur die sogenaamde halssnoermetode vermoor is (brandende motorbande om slagoffers se nekke), 400 op ander maniere doodgebrand is en 250 in bom- en skietvoorvalle deur die ANC en hulle bondgenote gesterf het;

· Dat die ANC sy militêre vleuel, Umkhonto we Sizwe (MK), tussen die einde van 1985 en middel-1987 getaak het om landmyne as deel van “Operasie Kletswayo” te plant. In dié tydperk was daar 30 landmynontploffings waarin 25 mense – van wie 24 burgerlikes – gesterf het en 76 beseer is;

· Dat die slagoffers van ANC-terreuraanvalle, soos die Kerkstraatbom, steeds wag op antwoorde van veral lede van die groep van 37 ANC-leiers wie se amnestie-aansoeke deur die hof verwerp is omdat hulle nie volle onthullings voor die WVK wou maak oor die terreurdade wat uit hulle besluite en opdragte voortgevloei het nie.

Of die ANC nou in hierdie euforiese toestand bereid sal wees om te erken dat dit self met vuil hande by die dialoogtafel aansit, is ‘n oop vraag.

Die ander dele van die toespraak was duidelik meer op die gehoor en die win van kapitaal afgestem. Die praktiese impak daarvan op die land sal in wese saam met die wavragte rommel wat agtergebly het opgeruim word. Wanneer die post-euforiese trauma en –depressie intree, is Suid-Afrika weer presies waar dit was – met miljoene werkloses, armes, geweldsmisdaad, korrupsie en vervreemdes. Die lugkasteel wat opgerig is kan nie lank staande bly nie, en elke party, elke belangegroep, elke individu met ‘n deernis vir die land sal hard moet werk om van Suid-Afrika ‘n wenland te maak.

Zuma se dialoog-oproepe is egter iets waaraan belangegroepe kan probeer om hom te bind.

Die animistiese en intergeloofs-rituele wat plaasgevind het, het opnuut onderstreep hoe ‘n groot kloof oorkom moet word voor aan Zuma se voorwaardes vir dialoog voldoen kan word. Die reaksie van Christengroepe – wat nie onderskat kan word nie – dui duidelik op ontnugtering en selfs vervreemding. Die moontlikheid bestaan selfs dat kerke wat nie duidelik standpunte oor die rituele inneem nie, die gevaar loop om lidmate af te staan aan kerke wat wel die stem hieroor duidelik verhef.

In Libië word die gemeenskaplike Islam aangewend om die land wat andersins erg etnies en histories verdeel is, saam te snoer. Selfs die Weste aanvaar hierdie werklikheid en hou duime vas dat ‘n gunstige weergawe van die Islam dominant gaan wees. Die naweek se gebeure in Bloemfontein het egter vir baie Christene wat gemeen het die oorweldigende statistiek oor ‘n gedeelde Christenskap is veel ingewikkelder as ‘n blote tel van koppe.

Boonop, die mens is God se werktuig – nie God die mens se werktuig nie – ook nie politieke werktuig nie.

Verskille lê diep gewortel …

En harde werk lê voor….

Opgestel vir MaroelaMedia

Herman Toerien