Subscribe by Email

Nuuskommentaar: ANC-Jeugliga: Losbekkigheid geknip?

Soos ‘n stout kind wat elke keer sy kwaaddoenery ‘n stappie verder moet voer om aandag te trek?

Of dodelike erns in die romantisering van ‘n kommunistiese era waar alles ingespan is om die rewolusie te versprei?

As na die taalgebruik van Julius Malema gelet word, sou die planne om die regering van pres. Ian Khama deur ‘n “progressiewe” regering te vervang, dan tart die jeugliga steeds die onheil. Boonop is dit met ‘n rasbeheptheid gelaai oor Khama se bewind glo nie die Afrika-agenda hard genoeg dryf nie.

In ‘n seldsame stap het die ANC sy jeugliga gerepudieer. Of dit werklik oor die beginsels van nie-inmenging en bilaterale vriendskap handel, en of dit ‘n reaksie is op Malema se duidelike skoorsoekery met pres. Jacob Zuma, is moeilik om te bepaal. Zuma het naamlik nie ‘n probleem met ‘n ooreenkoms wat Botswana regstreeks met die Europese Unie gesluit het nie, en het hom ook so daaroor uitgespreek. Malema het dus geweet hy trek Zuma aan die baard toe hy gesê het Botswana is kop in een mus met die imperialiste, en, het Malema in die verlede ervaar, dis die een ding van hom wat die ANC nie duld nie.

Boonop het Malema op Zuma se tone getrap deur te sê die SAOG het ook sy Afrika-agenda versaak na oud-president Thabo Mbeki die voorsitterstoel ontruim het.

Dit lyk ook of die Jeugliga se aanhef van kommunistiese retoriek ‘n titseltjie verder strek as bloot net die romantisering daarvan. Kort-kort word sogenaamde studiereise na die laaste bastions van outoritêre sosialistiese state onderneem. En nou wou die jeugliga dié verworwe kennis, soos nasionalisering en grondroof sonder vergoeding, na Botswana en die res van Afrika uitvoer. In die proses is die hand bietjie oorspeel, want Afrikaleiers met wie die ANC nog hegter bande het as met die bewind van pres. Khama, sou stellig kennis geneem het en ‘n diplomatieke nota of twee het in alle waarskynlikheid gou op ‘n warm lessenaar beland.

Vir ‘n oomblik het Malema daarin geslaag om die aandag van die wêreld weg te lei van die fokus op sy geldsake waar skynbaar ook “struggle”-boekhouding toegepas word.

Presies hoe ver moet Malema gaan, en hoeveel skade moet hy en sy kornuite aan die land aanrig, voor die ANC hom werklik gaan vasvat? Vir Zuma die middelvinger wys of ‘n drankie oor hom uitmors?

Zuma se weifelende leiding laat al hoe meer waarnemers tot die slotsom kom dat sy sand gaan uitloop voor hy ‘n tweede termyn kan pak. Maar dit gaan Malema nog geensins baat nie, want self is hy nog geen aanspraakmaker om president van die land te word nie – in elk geval nie nou al nie, en dit is te betwyfel of enige opvolger van Zuma die jongeling sal toelaat om so aanhoudend so ‘n groot klad op die land se naam te wees.

En as Malema so disrespekvol is met die man wat hom al as ‘n toekomstige president gesalf het, is dit onwaarskynlik dat hy meer respekvol met ‘n waardiger opvolger vir Zuma gaan wees. En dit lyk nog meer onwaarskynlik dat enige opvolger, tensy dit ook ‘n frats gaan wees, sal toelaat dat die astrante, oorgewig, keffende boeldokhondjie so met die leeu se voorpoot karring.

Herman Toerien