Subscribe by Email

Nuuskommentaar: ANC-eeufees en die Afrikaner

Die ou gesegde lui dat die oorwinnaar die geskiedenis skryf. Dié ou waarheid word nou in Hongarye gedemonstreer deur die regering se besluit om die Imre Nagy-medaje af te skaf. Nagy was die man wat die Hongaarse opstand in 1956 teen die Russe gelei het. Die rede vir die afskaffing was dat Nagy self ‘n kommunis was, en die opstand gelei het om van Hongarye ‘n onafhanklike kommunistiese staat soortgelyk as Joegoe-Slawië te maak.

Die medalje was bedoel vir mense wat die patriotiese moed getoon het vir die onafhanklikheid van Hongarye, vir maatskaplike dialoog en vrede, en die eenheid van die nasie.

Die medalje is deur die regering afgeskaf, maar die motief word ten beste uitgedruk deur Maria Wittner wat aanvanklik vir haar deelname aan die opstand ter dood veroordeel is: “Nagy was ‘n kommunis en is daarom onwaardig dat ‘n Hongaarse onderskeiding aan sy naam gekoppel word.”

Een van die voorgestelde naamsveranderings wat aan die ANC se eeufees gekoppel word, is om die lughawe in Bloemfontein na die kommunis Bram Fischer te vernoem. Die munisipaliteit se hoofsetel is reeds na Fischer vernoem, en Fischer se naam word kort-kort deur transformasiedrywers genoem as voorbeeld van ‘n Afrikanerheld en om sodoende aan te toon die Afrikaner moet nie in daardie geledere uitgesluit voel nie. Baie Afrikaners voel egter dat Fischer se mees aktiewe diens in die SAKP ooreengeval het met die tydperk toe Stalin ‘n skrikbewind gevoer en vir die dood van onder meer miljoene Russe verantwoordelik gehou word.

Die beeld wat van Fischer voorgehou word hang dus af van mense se persepsies en ervaringsveld: Van ‘n filantroop, ‘n geharde kommunis wat hom met Stalin moes geassosieer het tot ‘n nuttige idioot.

Op TV en in advertensies word die ANC in die aanloop tot die eeufees uitgebeeld as die oudste bevrydingbeweging op die kontinent wat tot stand gekom het om rassisme te beveg, maar in ouer ensiklopedieë word ‘n prentjie geskets van ‘n terreurorganisasie wat vir ‘n stasiebom, die Kerkstraatbom, die Magoo’s skietery in ‘n dameskroeg en landmyne op plaaspaaie wat onder meer ‘n baba aan flarde geruk het verantwoordelik gehou word. Die destydse media het baie geskryf oor die praktyke in die Quatro-kamp in Angola. En wat boonop al lank in alliansie met die SAKP staan.

Binne die ANC self is verskillende sienings oor die karakter van die ANC. Pas het die kleinseun van ‘n oud-leier van die ANC op TV die mening uitgespreek die huidige leiers en die karakter van die ANC is ‘n belediging vir die styl en benadering wat die eertydse leiers getoon het.

Dié siening is nie nuut nie. Toe die Sol Plaatjie-munisipaliteit ‘n standbeeld wou onthul van die eertydse Sekretsaris-generaal, het die familie ‘n stokkie daarvoor gesteek omdat die standbeeld ‘n swartmagsaluut toon. Die familie onthou Plaatjie as ‘n besadigde intellektueel – ‘n skrille teenstelling met Winnie Madikezela-Mandela wat juis in daardie stadium selde gesien is sonder dat sy die swartmagsaluut gee as sy ‘n TV-kamera op haar gerig sien.

Pres. Jacob Zuma het onlangs nog aangedui die kerke behoort die ANC se eeufees saam met die organisasie te vier, maar as deel van die seremonies word in die kraaltjie langs die ou kerkskooltjie waarin die ANC gestig is, ook ‘n seremonie gehou waarin die voorvadergeeste vereer gaan word. Volksblad berig hieroor as die plek waar seremonies uitgevoer gaan word wat aan die voorvaders se werk, gebede en optredes deur tradisionele geneeshere gewy sal word.

Dit alleen behoort dit vir die tipiese Afrikaner minstens vreemd te laat voel om hom volledig met die karakter van die ANC te vereenselwig. Vir baie sal dit heeltemal onaanvaarbaar wees, selfs al probeer baie van hul kerke hul diversiteitsnet so wyd werp dat dit nie te krities teenoor dié praktyke staan nie.

Reinigingseremonies is egter nie nuut nie, en soortgelyke seremonies is byvoorbeeld voor die aanbieding van die wêreldsokkebekertoernooi gehou, hoewel die ANC die wysheid aan die dag gelê het om dit onder meer weens besware van diereliefhebbers en Christene uit die openbare oog te hou. Staatsgeld word ook al lank aangewend om die voorvadergeeste van afgestorwe lede in buurlande te gaan haal en na Vryheidspark te bring.

So sal waarskynlik nie van die besoekende staatshoofde wat die eeufeesvieringe gaan bywoon, verwag word om ook hierdie deel van die seremonie by te woon nie.

Daar is egter baie ander redes waarom baie Afrikaners hulle ontuis in hierdie geledere sal voel. Die naasbestaandes van hulle wat geliefdes in politiek-gemotiveerde aanvalle verloor het sal waarskynlik nie saam fees vier nie. Hulle wat weens die ANC se rasgedrewe toepassing van affirmative action sukkel om liggaam en siel aanmekaar te hou, sal waarskynlik ook minder opgewonde wees. Hulle wat familie of kennisse in plaasaanvalle verloor het sal dalk swaar sluk aan feesvieringe terwyl die ANC sy reg om die liedjie, “skiet die boere, te sing tot in die grondwethof wil verdedig.

Afrikaners wat graag wil sien dat hul taal as volwaardige taal, ook onderrigtaal in die land sal bly bestaan sal waarskynlik minder entoesiasties wees.

Vanuit die Bram Fischer-gebou word ‘n munisipaliteit bedryf wat jaar vir jaar onder die ouditeur-generaal en Municipal IQ se verslae deurloop. Terwyl die ANC eeufees vier, is duisende inwoners se munisipale en kragrekenings in ‘n chaotiese toestand, en kan dit skynbaar op geen manier reggestel word nie. Kwitansies wat betalings bewys is blykbaar bloot nuttelose stukkies papier.

Bloemfonteiners wonder of die stad nog ‘n week lank vir die fees sonder rooiloorstroomde strate en wateronderbrekings kan bestaan.

Meer as ‘n jaar gelede het die bekende prof. Jakes Gerwel in sy rubriek in Rapport geskryf dat die ANC wel miskien ‘n vrot regering mag wees, maar beswaar gemaak teen die praktyk om die ANC as landsvyand voor te hou.

Ouers wat hul kinders met huiswerk help, vind soms van die leerinhoud oor onder meer die geskiedenis baie vreemd. Trouens, op die FAK se webwerf word ‘n projek bekend gestel om die land se ware geskiedenis op te teken wat verskil van, soos dit gestel word, die haatgeskiedenis van die land.

‘n Paar jaar gelede het die politiek-korrekte media na die ANC as ‘n party behep met middelmatigheid verwys. Vandag word die gebruik van “middelmatigheid” dikwels as erg eufemisties beskou, en klaarblyklik as belediging vir die statuur van die ANC se vroegste stigtersleiers.

Die ANC vier sy eeufees terwyl die land verder op die korrupsiepersepsie- en persvryheidsindekse gedaal het, maar die persepsie bestaan dat dit die regering nie ontstel nie.

Tog is daar baie Afrikaners wat hulle in die ANC bevind, en hul redes verskil van hul lidmaatskap van die SAKP tot ondernemings om binne die ANC die Afrikaner se stem te wees, weliswaar ‘n baie stil stem. Daar is selfs sommiges wat volhou dat hulle weens Christelik-godsdienstige redes hulle in die ANC bevind.

Wat ook al die redes, en hoe eerbaar dit mag wees, by baie Afrikaners sal die persepsie bly staan dat Afrikaners in die ANC weens opportunisme daar is; werklike vyfde kolonners. Dat sommiges van hulle poste beklee wat hulle beswaarlik op meriete sou kon behaal, help ook nie om die persepsies te verander nie.

Die vroegste Afrikaners het reeds die demokrasie omhels, en het ook die binneland ingetrek met die vaste voorneme om demokratiese regeringsvorme te skep. Die Afrikaners het, soos alle volke, verraaiers en hensoppers opgelewer, en sal dit in die toekoms ook doen.

As die Afrikaner egter daarop aanspraak wil maak dat hy steeds die demokrasie omarm, moet hy mede-Afrikaners hul politieke keuses gun, en demokratiese maniere aanwend om mede-Afrikaners na ander politieke oortuigings oor te haal, en dit mag maar taamlik robuus wees. Ja, hierin het die Afrikaner ook ‘n kleurryke geskiedenis – vergaderings waar die Natte en Sappe mekaar met die opvoustoele bygedam het en Ladybrand se stadsaal se besondere historiese voordeur selfs kosyn en al uit die muur baklei is.

Op Calvinia het iemand na hy vrugteloos die spreker probeer oortuig het om die vergadering te los en die Sappe se vergadering daar naby te gaan opbreek, self uitgewys dat hy self “reggekom” het om ‘n Nat te word deurdat hy “regged&%der” is.

In vandag se meestal veelrassige politieke omgewing is die vuiste inlê uiters onwys.

‘n Fatsoenlike benadering is nou aangewese en word wyd bepleit, al bly politiek nou maar te ene male politiek, soos Julius Malema se onlangse stortkopdansies demonstreer.

Dat die Afrikaner nie eendragtig saam met die ANC feesvier nie, is ook nie net die Afrikaner se skuld nie. Maar die geleentheid kan met waardigheid hanteer word.

Opgestel vir MaroelaMedia

Herman Toerien