Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Amerikaanse skuldlas se oomblik van waarheid amper daar

Indien ‘n oplossing vir die Amerikaanse begrotingstekort nie voor 2 Augustus bereik word nie, gaan die VSA nie al sy rekenings meer kan betaal nie.

Aan die bod is dat die VSA sy selfopgelegde skuldperk van $14,5 triljoen in sy begroting bereik het, en nou voor twee keuses te staan gekom het: Of die skuldperk moet voor 2 Augustus met meer as $2 triljoen verhoog word, met gepaardgaande hoër belasting, of daar moet briek aangedraai word.

In die VSA, wat partykoukus-gebondenheid nie ken nie, verloop die toutrekkery dié keer byna naatloos op die partylyne, met die Republikeine wat die beginsel van “cut, cap & balance” voorstaan en selfs wetgewing deur die kongres probeer voer, teenoor pres,. Barack Obama en die Demokrate wat die skuldperk wil verhoog.

Die Republikeine het min moeite met die beoogde inperkingswet in die Huis van Verteenwoordigers waar hulle die meeste steun het, maar in die Senaat voer die Demokrate die botoon.

Kopgee in die talle onderhandelings wat gevoer is, is min, en alle berigte van kompromieë is ook nek omgedraai – sommige skynbaar voortydig. Kongreslede het ook nie waffers baie speelruimte nie. Die Christen-lobby, die Christian Coalition of America (CCA) met sy vier miljoen opbetaalde lede, het reeds laat weet die kiesers moet fyn dophou hoe hul kongreslede stem, en diegene wat Obama sy sin gee, gaan effektief geswartlys word wanneer daar weer stembus toe gegaan word.

Aan Obama se kant word dreigemente geuiter dat Amerika se betroubaarheid as finansiële krag kan skade lei, dat die spartelende ekonomiese herstel ongedaan gemaak kan word en dat baie werksgeleenthede verlore kan gaan.

Die CCA en ander teenstanders wys daarop dat Standard & Poor reeds aangedui het dat oorweeg word om die VSA sy topgradering te ontneem, dat daar steeds elke maand ‘n stewige inkomste vir die staatskas sal wees, dat tekorte uit ander bronne aangesuiwer kan word soos die verkoop van ongebruikte staatsgeboue, en dat sekere nuwe projekte gewoon uitgestel word.

In die fynskrif van die CCA staan dit ook duidelik: Obama se omstrede gesondheidsplan, Obamacare, wat triljoene dollar gaan kos, sal vir die voorsienbare toekoms op die lange baan wees – en daar kom weer verkiesings.

Die naaste aan ‘n toegewing is dat die “Cut, curb & balance” wetgewing deur die Kongres gevoer moet word, en wetgewing deurgevoer moet word wat die beginsel deel van die grondwet te maak. Dan, so lyk dit, sal Obama sy toegewing kry, maar onder streng grondwetlike voorwaardes. Dié wetgewing gaan volgens voorlopige aanduidings nie die senaat oorleef nie, wat die dooiepunt vlak voor 2 Augustus presies plaas waar dit was.

Volgens die Republikeine, en veral diegene wat deel van die sogenaamde Tea Party-beweging uitmaak, is al vordering dat Obama se aanvanklike arrogansie effens afgeblaas het. Hy erken minstens nou dat hy ook na die ander kant moet luister. Van hoor is daar egter nog geen sprake nie.

Intussen word al hoe meer in Europa van die ontluikende krisis kennis geneem. Europa skarrel steeds om die Griekse skuldkrisis onder die knie te kry, wat reeds skimbeelde in Portugal, Ierland en Spanje het, die sogenaamde Pigs-lande, met Italië wat dalk ook ingesluk kan word.

Op die oomblik speel veral kanselier Angela Merkel van Duitsland die persepsierol deur veral vertroue in Italië se ekonomie uit te spreek. Die ekonomie word immers in ‘n groot mate deur persepsie bepaal.

Maar as die VSA glip gaan baie positiewe persepsievorming daarmee heen wees.

Want, so lui die ou waarheid, as Amerika nies kry die hele wêreld verkoue.

Herman Toerien