Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Alles wat blink is nie platinum nie

Terwyl analiste nog die ANC se eeufees ontleed en prof. Hussein Soloman van Kovsies mense selfs aanmoedig om weens die ontaarding van die ANC vir die res van die jaar swart roubande te dra; en terwyl die oë van die wêreld onrustig op die Europese ekonomie gewerp word, het iets amper stil-sil gebeur wat Suid-Afrika dalk veel ernstiger kan raak.

Die afgelope paar dae het iets ongewoons gebeur: die prys van goud is meer as $200 per fyn ons hoër as die prys van platinum. Op 9 Januarie was die goudprys $1 617 per fyn ons, en platinum $1 406 per fyn ons. Jare lank was die prys van platinum hoër as die goudprys – in so ‘n mate dat ‘n platinum-gradering as ‘n hoër gradering as ‘n goue beskou word.

Om na redes te soek waarom alles wat blink nou goud is, is kompleks. Die naaste vergelykbare situasie het in 1990 gegeld, en toe het ontleders dit toegeskryf daaraan dat die wêreld op ‘n resessie afstuur. Die geallieerde magte het Irak toe pas vir die eerste keer ingeval, en die olieprys die hoogte ingestuur. Platinum het egter met ‘n kortkop voorgebly.Toe die goudprys in die huidige fase die prys van platinum gejaag het, het baie soortgelyke resessionêre toestande wêreldwyd geheers, en het Navo in ‘n belangrike olieprodusent, Libië, ingegryp. Trouens, die Arabiese domino-revolusie het skerp kommer oor die lot van nog ander belangrike olieprodusente laat toeneem.

As die huidige pryse van die edelmetale in isolasie bekyk word, kan afgelei word dat die wêreld se ekonome ‘n depressie verwag. Platinum het meer industriële gebruike, en word die ekonomiese groei onder druk geplaas, is die aanvraag daarna minder, en daal die pryse. Goud daarenteen is dikwels ‘n toevlugsoord as belegging wanneer ander beleggingsopsies te onstabiel raak. In beginsel sou ‘n mens dus verwag dat die goudprys en die platinumprys in teenoorgestelde rigtings op wêreldfaktore sou reageer, maar tog het die twee vir die meeste van die tyd gelyk of hulle hande vat in hul reaksie. Spekulante het klaarblyklik die prysspel by tye sterk oorheers en opportunistiese beleggers is klaarblyklik gou van hul beleggingsgeldjies geskei. Te veel klein beleggers het saam probeer speel, en is gou maalvleis van gemaak.

In die breër konteks is dit egter belangrik om daarop te let dat die goudprys in Januarie verlede jaar nog minder as $1 400 per fyn ons was. Vyf jaar tevore was dit nog net meer as $600 per fyn ons.

Platinum se prys daarenteen was ‘n jaar gelede sowat $1 750, en vyf jaar gelede $1 200 per fyn ons.

Goud is dus steeds veel, veel hoër as vyf jaar gelede, selfs al word inflasie verreken. Platinum se prys het meer bestendig gebly, veral met inflasie bygereken – behalwe vir die 2008-prysramp. Dit is dus in ‘n sekere sin eintlik meer ‘n geval van ‘n hoë goudprys eerder as ‘n lae platinumprys, maar dit maak nie dat die onderliggende redes minder ernstig is en misgekyk kan word nie.

Goud, as gewilde juweliersmetaal, het gewoonlik in die aanloop tot Kersfees ‘n “lopie” maar dit het einde verlede jaar nie heeltemal gebeur nie as in ag geneem word dat beide goud en platinum die afgelope ses maande die $1 900-vlak getoets het, met platinum wat met so ‘n dollar hoër die neus net-net voorgekry het. Teen daardie vlak lyk selfs die huidige goudprys nie te watwonders nie.

Gelukkig vir Suid-Afrika het dié land basies die monopolie op die voorsiening van veral sommige metale van die platimum-groep. Danksy die uitgebreide Bosveld-stollingskompleks oorheers Suid-Afrika die wêreldproduksie van verskeie van die platinum-groepmetale, en is heelwat van die wêreld se voorste platinumproduserende maatskappy in die kompleks betrokke.

Voorverlede jaar het Suid-Afrika 78 % van die wêreld se platinumproduksie gelewer, 35 % van die wêreld se palladium en 86 % van die wêreld se rodium. Intussen het Zimbabwe danksy verhoogde produksie op die Zimbabwedyk, ook ‘n belangrike platinumprodusent geword. Dié gesamentlike oorheersing verseker dat die wêreldmark dit kwalik kan bekostig dat die platinumprys tot onder die vlak van produksiekoste kan sak, want ‘n ingekorte produksie sal ‘n tekort tot gevolg hê, wat die pryse baie sal laat styg, en dit waarskynlik so hoog sal moet bly solank die platinummyne wat moes afskaal, hul onlonende skagte weer operasioneel kry en die tekorte op die wêreldmark probeer afwerk.

Aan die begin van verlede jaar het Amplats onderneem om sy produksiekoste onder R12 000 per fyn ons te hou, maar teen Julie is berig dat koste tot R12 991 gestyg het. Teen die huidige wisselkoers is dit sowat $1 600 per fyn ons – dus heelwat onder die skynbare produksiekoste. In Oktober verlede jaar het Stillwater die produksiekoste van platinum egter nog op $1 276 per fyn ons geskat. Sedertdien het onder meer kragtariewe skerp gestyg, maar om die rand nog as “sterk” te beskryf is ook sedertdien wensdenkery geword.

Palladium word veral in die katalisatiors van motors gebruik, wat 63 % van die aanvraag uitmaak, en die prys hiervan is danksy die toe hand van die Amerikaanse regering nou in die orde van $650 per fyn ons. Die gemiddelde prys van rodium die afgelope maand was in die orde van $1 390 per fyn ons. Iridium se gemiddelde prys is sowat ‘n $1 000 per fyn ons, en rutenium sowat $110 per fyn ons.

Platinummyne kan dus in ‘n mate oorleef as dit meer van die groep metale gelyktydig oplewer, mits dit voldoende is om die herwinningskoste te delg. Dit is egter ook so dat van Oktober verlede jaar af al gereeld ernstige kommer uitgespreek is oor die lae platinumprys en ‘n bleek prentjie word vir 2012 geskets.

Hoewel platinumprodusente nou inspring en platinum as juweliersmetaal bemark, omdat dit soos nou, teen ‘n winskopie aangeskaf kan word, kon platinum nog nie heeltemal daarin slaag om as beleggingsmiddel te vestig nie. Die laer platinumprys het wel groter belangstelling van juweliers in veral Shanghai begin lok, en selfs die opsie van platinum as belegging geniet aandag. In Oktober verlede jaar het ‘n groot juweliersonderneming in Utah laat blyk dat sy aanvraag na platinum-gebeseerde juweliersware net die voorafgaande drie maande met 25 % gegroei het. Platinum is veel sterker as goud en bied beter beskerming aan ingelegde diamante en ander edelgesteentes.

Die persepsie dat die prys van platinum te volatiel is om as beleggingsmetaal te dien dateer uit 2008, toe platinum in Januarie van daardie jaar by die $2 300 per fyn ons verhandel het, maar sowat ‘n jaar later skaar $800 werd was. Dit was egter steeds oor die algemeen effe beter as die goudprys.

Produsente beskou daarom steeds die tradisionele nywerheidsmark as die mees betroubare, wat nie onbepaald op bestaande reserwes kan teer nie.

Rusland se opgepotte voorraad palladium is skynbaar uitgeput, wat verseker dat ander produsente nou ook beter in hierdie mark kan meeding.

Daarenteenoor ontwikkel die groen industrie baie, en word meer en meer voertuie op die mark losgelaat wat skoon kragbronne gebruik en dus nie katalisators het nie. Duitsland het verlede jaar aangekondig dat groen energie nou aan meer as 20 % van sy energiebeheftes voldoen, en ander Europese lande dryf, wat bekend staan as die “green deal, or no deal.” Die mislukking van COP17 beteken nie die groen bedryf gaan nie voort nie. Nogtans, as die wêreldekonomie gou kop optel, sal die groen industrie waarskynlik nie ‘n groot negatiewe impak op die aanvraag na katalisators hê nie.

Ekonome verskil erg in hul vooruitskattings van wat die platinumprys kan doen – van baie optimisties tot erg pessimisties, maar oor een aspek is hulle dit min of meer eens … die omkeer gaan nie gou kom nie. Die meeste kyk eers na 2013 as jaar waarin die metaal weer kop bo water sal kan kom. Van die grootste vervaardigers het hulle boonop tot loonverhogings van tussen agt en tien persent vanjaar verbind, en daardie selfvertroue spreek ook boekdele.

Opgestel vir MaroelaMedia

Herman Toerien