Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Afrikaner se wenslys vir die staatsrede afgemerk teenoor die Siriese perspektieflys

Môre-aand lewer pres. Jacob Zuma sy staatsrede.

Die moontlikheid bestaan dat hy ongewoon vir die Suid-Afrikaanse tradisie ‘n staatsrede kan optower wat aan internasionale standaarde voldoen, en dat doemprofete en optimiste ewe veel op hul neuse kan kyk in hul voorspellings van wat die president aan die bod gaan plaas. Die tradisie van effense staatsredes in Suid-Afrika is egter diep gevestig.

Dit is makliker en veiliger om te voorspel wat nié in die staatsrede sal staan nie. Ongelukkig is dit wat sal ontbreek, en dit wat die Afrikaner en die land se Christenmeerderheid graag daarin wil sien, min of meer dieselfde.

Indien daar nog Afrikaners is wat meen dat vyfdekolonners binne die ANC hulle daar bevind om die Afrikaner se stem te wees, sal hul hoop weer beskaam wees. Dit het ‘n dawerende stille doodse stilte gebaar.

Om te bepaal wie die Afrikaner is, word hier slegs kortliks die internasionale definisie vir volk gebruik, en wat met die volkereg en die grondwet se artikel 235 versoenbaar is. Dit is die groep mense wat hulself vrywillig inbind om Afrikaans as ankertaal te gebruik, wat hom of haar met die kultuurgoedere van die Afrikaner identifiseer en aktief standpunt vir die behoud daarvan inneem. Ras as norm word nie volkeregtelik of in die grondwet erken nie.

Die Siriese vergelyking

Die Siriese perspektieflys word ingespan om te toon dat dit wat die Afrikaner ervaar nie uniek is nie, en ook om te sorg dat die wenslys aan kriteria voldoen wat internasionaal aanvaarbaar is.

In die Siriese vertakking van die Arabiese domino-revolusie het die dodetal die afgelope jaar na raming reeds die 6 000 kerf verbygesteek. Die revolusie eskaleer, maar so verskerp die owerheid sy bloedige teenreaksie.

Soos Suid-Afrika, word Sirië deurkruis met foulyne wat dikwels tot in buurlande strek. Hierdie foutlyne is etnies en godsdienstig van aard, en elke groep het ‘n bewoë geskiedenis.

Omdat die regerende Alawiete ‘n minderheid van die Sjiïeteiminderheid is, is kaderontplooiing veral in die gewapende magte aan die orde van die dag. Om die leierskap van ander groepe in te bind is korrupsie aan die orde van die dag en deel daardie leierskappe dikwels in die vrug van korrupsie. Sirië beklee die 126ste plek op die korrupsiepersepsie-indeks, veel swakker as Suid-Afrika waar waarnemers korrupsie as endemies beskou.

In Sirië word nie net ‘n alternatiewe werklikheid aan die bevolking opgedis nie, die media word verplig om daarby in te val, en daardie Siriërs wat in ander werklikhede glo, is as’t ware vrybuit. Nie alleen word van die bevolking verwag om die selfgeskepte werklikheid as feitelik te aanvaar nie, die regering verwag veral van die Arabiese Bond en die Islamitiese groep om dit ook te glo.

Net soos Suid-Afrika wat pas tot sy skok agtergekom het dat Afrika nie by die Suid-Afrikaanse Afrika-agenda inval nie, so het die Siriese regering ontdek dat die Arabiese Bond, enkele goedgeplaaste bondgenote ten spyt, nie die Siries-geskepte werklikheid aanhang nie.

So lank as wat die Siriese en Suid-Afrikaanse regering steeds meen dat hulle hul weergawes van die werklikheid kan verkoop, en solank die magsposisie in ‘n skynbaar onaantasbare korrupsienetwerk ingebind is, so lank sal Suid-Afrikaners wat daarvan uitgesluit is, soos die uitgesluite Siriërs nie deel van die owerheid se makro-planne uitmaak nie. Behalwe miskien om daardie groepe as die kollektiewe vyand en as strooipoppe aan te bied.

Wie verteenwoordig die Afrikaner?

Dit sou help as die Afrikaner se wenslys deur ‘n erkende, verteenwoordigende owerheid of belangegroep voorgehou sou kon word. Op daardie terrein lyk die Afrikaner se verteenwoordigingstrukture egter dikwels meer na ‘n slagveld.

Trouens, in die aanloop tot die Volksraadverkiesing vir Boere-Afrikaners het onderonsies ‘n paar mense agter tralies laat beland. Eers het Piet Skiet Rudolf en vriende tydens ‘n inligtingsessie so heftig beswaar gemaak teen hierdie, soos hulle dit gestel het, nuwe ding, dat dit naderhand die karakter van ‘n ou Nat-Sap-skermutseling aangeneem het.

Hierna het ‘n Stellenbosse professor hom in ‘n opgerolde plathand vasgeloop en is uit sy bril uit gemoker.

Uiteindelik was die Volksraadsverkiesing min of meer ‘n HNP-saak, en die verkose liggaam werk hard om groter Afrikanererkenning op te bou. Weens sy selfverklaarde blanke eksklusiwiteit is volkeregtelike en grondwetlike erkenning egter by voorbaat uitgesluit.

Die Afrikaneralliansie en die grondwetlike burgerregtegroep word so goed as doodstil deur die Afrikaanse pers verswyg, en sal daarom baie moeilik algemene bekendstelling, en dus nog minder algemene steun verkry.

Wat kom op die wenslys?

Op die oog af lyk dit of Solidariteit se tienpuntplan waarby die FAK as sambreelliggam sentraal staan, die beste opsie bied, en word ook deur die media, insluitend die Afrikaanse media, ernstig genoeg opgeneem. Dié tienpuntplan, hoewel dit nie in hierdie stadium afgestem is om die Afrikaner staatkundig of politiek te verteenwoordig nie, sal dus ook heel waarskynlik die kern uitmaak van die deursnee Afrikaner se wenslysie vir die staatsrede.

Die Afrikaner se wenslysie sal dus waarskynlik min of meer soos volg daaruit sien:

Ø Die herskryf van die huidige taalwetsontwerp sodat dit aan die grondwetlike verwagtinge kan voldoen om die posisie van Afrikaans as amptelike, onderrig- en wetenskaptaal te erken en bestendig.

Ø Behoorlike geleenthede vir onderrig in Afrikaans op alle vlakke, en dat voldoende Afrikaanse belastingbydraes ook hiervoor beskikbaar gestel sal word.

Ø Dat pres. Jacob Zuma aankondig dat die ANC se appèl teen Julius Malema se skudigbevinding aan haatspraak laat vaar word, en dat die ANC sy polariserende optrede met behoorlike respek sal vervang.

Ø Dat grondhervormingsplanne op feite eerder as persepsies gebaseer sal word, en dat dit so gevoer sal word dat voedselsekuriteit nie in gedrang sal kom nie.

Ø Dat rasdiskriminerende wette finaal uit die wetboek gewis sal word ten einde die kundigheid in die land behoorlik te ontsluit om die land ekonomies ‘n wen-wen-land te maak.

Ø Aansluitend hierby, dat die ANC sy kaderbeleid sal laat vaar, en soos van ‘n demokratiese instelling verwag word, in algemene belang in plaas van sektorale verband sal regeer.

Ø Dat die Afrikaner hom nie grootliks tot die internet moet wend om vas te stel hoe sy regte en belange aangetas word, en van pogings om dit aan te spreek te moet lees nie. Dit beteken ook dat wetgewing wat so inhiberend op die media inwerk dat dit moeilik is om gehalte te bly handhaaf, geskrap word.

Ø Dat die regering die buitewêreld moet begin navolg wat toenemend oor die lot van die Afrikaner kennis neem – sake wat wissel van plaasmoorde tot die bedreiging van Afrikaans. Die regering kan nie maar net ‘n verdrag met die Nederlandse Taalunie onderteken, en dan niks doen om inhoud te gee nie. Hy moet dan verwag om ‘m afkeurende mosie oor sy gesindheid teenoor Afrikaans op die lyf te loop.

Ø Dat die Afrikaner in staat gestel word om homself ook ekonomies te bevry en sy taal ook vrylik in die korporatiewe wêreld kan gebruik.

Ø Ondernemings dat Christene se belastinggeld nie aangewend word vir rituele soos die vang van voorvadergeeste en loslating by die Vryheidsmuseum nie. Christen-Afrikaners is klaarblyklik nie gereed om hierdie animistiese gebruike as deel van hul Suid-Afrikaanse erfenis te omarm nie, en verdiep die gevoel van vervreemding.

Slegs die mees naïewe persoon sal verwag dat selfs net enige van hierdie sake in die staatsrede aan die bod sal kom.

Dit beteken dat die staatsrede nie aan die internasionale kriteria van staatsredes sal voldoen nie, maar dit het reeds deel van die Suid-Afrikaanse tradisie geword.

Dit beteken egter nie dat die Afrikaner boedel moet oorgee nie. Dit sal veel meer sin maak om te keer dat energie in negatiwiteit geanker raak – dat die energie as positiewe energie losgelaat word en aan die tienpuntplan te help bou.

Ambassadeurs vir Afrikanerskap

Afrikaners kan by minderhede in Sirië en ander omringende lande leer. ‘n Groot deel van die Koerdiese, Armeense en Assiriese energie word aangewend om steun in die buiteland te wen, en dit werp vrugte af. In Europa word minderheidsregte as net so essensieel soos individuele regte ervaar, ook onder linkse politieke groeperings. Die Franse regering moes onlangs byvoorbeeld op steun onder die linkse parlementariërs staatmaak om die ontkenning van die Armeense volksmoord strafbaar te maak.

Die Afrikaner mag in Suid-Afrika vervreem voel, maar is lank nie meer in die internasionale arena so geïsoleerd soos twee dekades gelede nie. In hierdie stadium is dit miskien nog eerder te danke aan die ANC se blapse in die internasionale arena, asook sy verknogtheid aan muishondvriende, as aan die Afrikaner se eie pogings om van elke Afrikaner ‘n ambassadeur vir sy volk te maak. Maar die Afrikaner se eie pogings werp ook reeds vrugte af.

Enige positiewe geluide teenoor die Afrikaner in die staatsrede sal bloot ‘n bonus wees.

Opgestel vir MaroelaMedia

Herman Toerien