Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Aardbewing in Myanmar: Die prys van media-onderdrukking

Die aardbewing van magnitude 6,8 en die verwoestende naskokke wat Myanmar gister getref het, dood en verwoesting gelaat het, het dié land en buurlande geskud maar kwalik ‘n rimpeling in die media veroorsaak.

Myanmar is ten spyte van kosmetiese hervormings ‘n militêre diktatuur, en mediavryheid word so erg aan bande gelê dat die bevolking selfs ontmoedig word om met die media te praat.

Volgens die jongste aanduidings is meer as 50 mense dood, terwyl nog een in die buurland Thailand omgekom het. Veral die dorp Tarlay, naby die episentrum, het erg deurgeloop, met vyf kloosters en 35 geboue wat ineengetuimel het.

Dit is wel ‘n bykans onbenullige aardbewing vergeleke met dié wat Japan onlangs met die geweld van magnitude 9 getref, en deur ‘n tsunami opgevolg is, maar dit is heelwat meer as dubbel so sterk as die aardbewing wat soveel dood en verwoesting in Christchurch, Nieu-Seeland veroorsaak het. Die skaaltelling is misleidend omdat dit hiperbolies oploop – ‘n aardbewing van 7 is tien keer sterker as een van 6.

Boonop was die skudding in Myanmar betreklik vlak, en volg dit na ‘n skudding wat as baie gevaarlik beskryf is, nie ver daarvandaan nie Myanmar op 10 Maart geskud het. Die gevolg was dat die nuwe skudding verskeie rotsstortings tot gevolg gehad het.

Hoewel die wêreld, danksy seismo-meters wêreldwyd, dadelik ‘n byna volledige prentjie van die aardbewing self gehad het, is die inligting oor die gevolge daarvan steeds baie skraps. Die gevolg is dat daar nog nie ‘n lang tou hulporganisasies aangemeld het nie.

Hierdie ramp is wel ‘n vulletjie teen die sikloonramp wat die land in 2008 getref het. Bronne het destyds die dodetal op meer as 100 000 tot selfs bykans ‘n halfmiljoen gestel. Ook toe is aanvanklik langtand aan buitelandse hulp gebyt.

Selfs na die kosmetiese verkiesings beklee Myanmar – die ou Birma – die 174de posisie uit ‘n moontlike 178 op Verslaggewers Sonder Grense se persvryheidsindeks. Dis net drie posisies beter as dié van Noord-Korea wat bykans in ‘n kokon toegedraai is, en waar die buitewêreld selfs moeite het om te weet wanneer die land deur ‘n vernietigende hongersnood getref word.

Persvryheid is nie net die publiek se beste vrywaring teen ‘n onderdrukkende staat waar korrupsie en ander wanpraktyke toegesmeer word nie, maar die bevolking se lot weens natuurrampe ook nie die wêreldaandag trek wat dit verdien nie.

En dit kos lewens. Dit is bykans ondenkbaar dat ‘n staat so harteloos en gemeen sy bevolking weens sy eie paranoia sal laat ly.

Suid-Afrikaners moet jaloers waak dat die land nie verder op die persvryheidsindeks die kreeftegang gaan nie. Die land het pas 5 posisies teruggesak tot die 38ste posisie. Enkele jare gelede het die land nog die 21ste posisie beklee, en was dit die mees persvrye land in Afrika. Nou beklee Ghana, die Kaap Verde en Namibië beter posisies en Namibië deel nou die 21ste posisie met Kanada. – Herman Toerien