Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Aanslag op Twin Towers se impak op wêreldvisie

Op die vooraand van die tiende herdenking van Al Kaïda se aanvalle op die VSA, word bestek opgeneem terwyl veiligheidsmaatreëls oral weer opgeskerp word. Onder letterkundige resensente is selfs ‘n evaluasie oor watter lande se skrywers die 11 September-aanvalle in hul werk laat neerslag vind het, en watter lande se skrywers nie.

Dié beoordeling handel nie werklik oor verwysings na die fisiese voorvalle nie, maar hoe die post-11 September-psige ingeweef is.

Voor daardie dag was die wêreld skynbaar onherroeplik op ‘n koers na ‘n wêreldorde waar betreklik uniformig gedink en gehandel word. Die Ystergordyn was geskiedenis, Afrikalande het die een na die ander begin demokratiese neigings ontwikkel en dit was die tiende herdenking van die skraping van die laaste apartheidswet. Hier en daar het uitgesproke ateïste begin voorspel dat kerke teen dié tyd almal leeg sou wees.

Die klassieke fase van internasionale terreur was besig om in die vergetelheid te versink. Swart September, Carlos die Jakkals, die Rooi Brigades, die Baader-Meinhoff’s, Monteneros, Tupamaros, die Japannese Rooi Leër en Asala het herinnerings van vaaghede geword. Die Polisariofront en Marokko het in ‘n skietstilstand vasgevang geraak. Ghaddafi het skynbaar mak begin word.

Teen dié agtergrond kon die wêreld ook meer aandag skenk aan sy filantropiese ideale – en het Europa byvoorbeeld ‘n vroeë waarskuwingstelsel begin ontwikkel sodat hulle wat het betyds kon begin gee wanneer hongersnood of ander krisisse elders in die wêreld ontwikkel. En daar is mildelik gegee. Soms te maklik, sodat sommige lande nie die nodige verstellings gemaak het om selfversorgend te raak nie.

Daar was oorgenoeg foutlyne wat gereeld redelik ernstige politieke aardskuddings veroorsaak het. Al Kaïda was trouens by ‘n paar hiervan betrokke, soos met aanvalle op Amerikaanse teikens in Oos-Afrika. Suid-Afrika het die Planet Hollywood-aanval beleef. Plaasmoorde in Suid-Afrika het die 1 000-kerf gehaal, en die en aanval het die volgende in wreedheid probeer oortref. In Europa het al meer mense begin lang lippie trek oor die een moskee na die ander wat in hul lande begin verrys het.

Die nuus uit pas was egter erg politiek-inkorrek. Die Internet het wel al begin-begin dien as metode om die uit-pas-uit inligting verby die gevestigde kommunikasiemiddele te kry om die wêreld daarbuite attent te maak daarop dat daar ook ‘n tweede, en selfs derde waarheid aanwesig is wat minder mooi is, wat buite die verwysingsraamwerk pas van ‘n wêreld skynbaar onherroeplik onderweg na ‘n liberale sekularisme.

Agter die skerms is wel kennis geneem maar die bedreiging is waarskynlik onderskat. Veiligheidsmaatreëls is getref, maar wat herinner aan die groot Japannese aardbewing vroeër vanjaar. Die Fukushima-kernkragsentrale se beskermingsmaatreëls het ‘n skans ingesluit wat dit teen ‘n drie-meter tsunami moes beskerm, maar toe slaan ‘n tsunami van tien meter toe.

Verskillende Amerikaanse intelligensie-agentskappe het verskillende brokkies inligting gehad wat saam moontlik die aanvalle kon fnuik, maar dit is nie met mekaar gedeel nie.

Sedert die aanval voer die wêreld, met die VSA aan die spits, die sogenaamde War on Terror. Die koste hiervan oor die laaste tien jaar beloop ongeveer dieselfde bedrag as wat die ganse Amerikaanse begroting jaarliks beloop. Daar is ‘n sterk vermoede dat die krisis waarmee die wêreldekonomie te make, ook deels hieraan toegeskryf kan word.

Die besef dat almal nie soos almal dink nie, het vir baie as ‘n reuse skok gekom. Die illusie dat minstens sommiges geïnsuleer is van bedreigings is vernietig. Terselfdertyd het die internet ‘n stroom alternatiewe nuus begin loslaat wat die, soos Rhoda Kadlie dit onlangs gestel het, politieke korrektheid as diktatuur van die liberalis taamlik kaal laat lyk het.

Vanjaar is ‘n besondere herdenkingsjaar vir baie gebeurtenisse, sommiges beduidend. Die vyftigste jaar vir die oprigting van die Berlynse muur, wat intussen getuimel het, is herdenk. Dit is ook die vyftigste herdenking van die publikasie van die boek, The Genesis Flood, wat tot die ontstaan van die Creation Science aanleiding gegee het en verdeeldheid in gevestigde kerke saai. Dit is die 20ste herdenking van die herroeping van die laaste apartheidswet. Binnekort word die veelsydige komponis, Franz Liszt se 200ste geboorteherdenking gevier.

Maar alles saam gaan nie opweeg teen die tiende herdenking van die 11 September-aanvalle nie. Nie eens die doodskiet van Osama bin Laden in die tiende herdenkingsjaar kan opweeg nie. Die dag toe die foutlyne van die wêreldspige uit hul gemaksone losgeruk is. Die wêreld is na hierdie aardskuddende gebeurtenis deur ongekende en onbekende tsunami’s geskud wat ‘n ganse nuwe verwysingsraamwerk geverg het. Die argitekte van hierdie era is nog besig om onbekende terrein te baan.

Hoeveel invloed die voorval gehad het dat daar nog baie godsdienstige mense is, en in sommige dele van die wêreld selfs veel meer is, is moeilik om te bepaal. Selfs in lande waar kerke leegloop dui peilings dat baie steeds ‘n vorm van godsdiens aanhang.

Herman Toerien