Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Aan jou vriende sal jy geken word…

Die VN-Veiligheidsraad het pas oor verskerpte sanksies teen Sirië gestem. Soos verwag is, het Rusland en China die besluit geveto. ‘n Bietjie op die kantlyn het vier lande buite stemming gebly: die ander drie Brics-lande, Brasilië, Indië en Suid-Afrika, asook Libanon.

Libanon se stap is verwag – al is Libanon ‘n brose demokrasie is al die middelpuntvliedende kragte wat Sirië teister, ook in dié landjie aanwesig. Libanon is letterlik tussen die duiwel die diep blou see vasgepen, met die veel sterker Sirië wat feitlik die hele landsgrens vorm. Libanon was lank in wese ‘n besette vasalstaat van Sirië, en Sirië kan die besetting maklik herhaal.

Die rede wat Suid-Afrika verskaf dat dit buite stemming gebly het, is om pres. Bashar al Assad meer tyd te gun.

Meer tyd om wat te doen?

Sedert die opstand teen die outokratiese bewind van Assad vroeër vanjaar begin het, het sowat 2 700 mense aan die hand van hul eie veiligheidsdienste omgekom. Trouens, die nuus dat die sanksies geveto is, was skaars koud, of die wêreld neem kennis dat nog agt Siriese burgers met hul lewens geboet het.

Assad het weliswaar sekere hervormings beloof, maar dié sogenaamde hervormings sluit die moontlikheid dat die regerende Baath-party sy allesoorheersende posisie kan verbeur, heeltemal uit. Politieke partye wat wel sal kan deelneem, sal egter verbied word om sektorale belange te verteenwoordig. Daar is min aanduidings dat die sogenaamde hervormings enigiets anders as skynhervormings sal wees. Dit beteken dat die Assad-kliek uit die Alawitiese minderheid min of meer ongesteurd die septer sal bly swaai.

Presies hoe uit pas met internasionale denke Suid-Afrika is, is dat die Turkse eerste minister, Recep Erdogan wat pas op ‘n welwillendheidsbesoek aan Suid-Afrika was, beklemtoon het dat sy land voortgaan om sanksies teen Sirië te verskerp. Hiermee skaar hy hom by die meeste Europese lande.

Suid-Afrika se deelname as periodieke lid van die VN-Veiligheidsraad was vanuit die staanspoor omstrede. Een van die mees bisarre optredes was die steun aan die diktatoriale bewind in Mianmar, geheel teen die internasionale mening in.

Dan is Suid-Afrika die kluts kwyt met die een reddingsboei wat na Robert Mugabe uitgegooi word; met die Ivoorkus het Suid-Afrika sy Wes-Afrikaanse bande in gedrang gebring deur ook reddingsboeie na die verkiesingsknoeier, Laurent Gbagbo te werp, en dan was daar die hele kwessie van die omarming van Ghaddafi.

Die bisarre optrede word soms deur standpunte van die Afrika-Unie of streekgroeperings verdoesel, maar Suid-Afrika toon gereeld dat dit die leiding neem om despote te bly koester.

Voeg hierby die verbale steun aan wêreldmuishonde soos Kuba en Venezuela, en Suid-Afrika vestig die beeld dat hy nie in ordentlike geselskap tuishoort nie, maar bloot geduld word omdat die land ‘n strategiese waarde het.

Die hele kwessie van die Dalia Lama is een van hoe sake nié hanteer moet word nie. Suid-Afrika se verduideliking dat ‘n visum wel toegestaan sou word, is van akademiese belang na die aandag van die wêreld reeds negatief getrek was, en dit in elk geval logisties onmoontlik geword het om die land betyds te besoek. Dit is so dat China druk op lande uitoefen om nie die Dalai Lama te ontvang nie, en soortgelyke druk ook op Suid-Afrika uitgeoefen sou wees, maar die Chinese druk was nog altyd meer van simboliese aard, terwyl die land geen sanksie daaraan heg nie.

In die internasionale politiek geld in wese net een werklikheid – lande het slegs belange, nie vriende nie. Die ANC het egter ‘n vasbeslotenheid getoon om hulp uit die voor-94-bedeling met vriendskap te bly beloon, ongeag die vriende se muishondstatus. Intussen het daar egter ‘n wêrelddoktrine begin ontwikkel om onderdrukte bevolkings teen doodslag deur hul regerings te beskerm, en hoewel dié optredes dikwels nog vol opportunisme en ander belange is, regverdig dit beswaarlik dat Suid-Afrika aanhou om kant vir die despote te kies. Dit verdiep die bedenkinge wat die regering self oor sy verbintenis oor grondwetlike demokrasie in sy eie nes versprei.

Herman Toerien