Subscribe by Email

Nuuskommentaar: 50-jarige herdenking van Berlynse muur.

13 Augustus 1961 word amptelik as die geboortedag van die Berlynse muur beskou. Dié muur het inderdaad onverwags oornag begin verrys en ‘n einde gebring aan die massiewe uittog van Oos-Duitsers na Wes-Duitsland. Meer as drie miljoen mense het na raming tussen die einde van die Tweede Wêreldoorlog en die oprigting van die muur juis deur dié area gevlug.

Die muur het as die skandmuur bekend geword. Nie so seer oor die mense wat doodgeskiet is nie – na raming het tussen 136 en 250 mense in die tydperk tot die muur net meer as 20 jaar gelede afgetakel is gesterf deurdat hulle deur Oos-Duitse wagte doodgeskiet is, of in die koue water verdrink het – maar oor dit so ‘n sigbare vergestalting was van die Ystergordyn. Die vyftigste herdenking van die oprigting is ‘n paar dae gelede herdenk, maar gelukkig is die tweede dekade van die tuimeling daarvan ook reeds gevier.

Die Ystergordyn en die Bamboesgordyn was ‘n besonder konkrete manifestasie van die Koue Oorlog.

Die Kommuniste se weergawe was dat die Berlynse muur gebou is om die Oos-Duitsers te beskerm teen die Fascistiese invloed wat glo nog in Wes-Duitsland ‘n bedreiging gebly het.

Na die val van die Berlynse Muur en die herenging het dit die voormalige Wes-Duitsland bykans twintig jaar geneem om dertig jaar se kommunistiese skade aan die ou Oos-Duitse ekonomie min of meer ongedaan te maak, en die twee dele ekonomies op pariteit te bring. In 2005 het baie kenners nog gewonder of die vereniging van die twee Duitslande nie ‘n mislukking was nie, en sommiges het openlik gemeen dit is ‘n mislukking ten spyte van ‘n jaarlikse investering van €100 miljard. Dié bedrag kan rofweg met tien gemaal word om die koste in rand uit te druk.

Hoewel Duitsland se ekonomie sterker as ander Europese lande daardeur gekom het, het dit tog ‘n hoë prys aan werkloosheid nagelaat. Eers na Angela Merkel se CDU die bewind oorgeneem het, het die werkloosheidskoers wat meer as 4 miljoen beloop het, geleidelik maand vir maand begin krimp. Dit het maar onlangs laer as dié van die VSA gedaal, met Duitsland se koers nou op net meer as 7 persent, en dié van die VSA nou bo 9 persent.

Die skandmuur en sy verlengings in die Yster- en Bamboesgordyne was in bykans elke opsig slegte nuus – gestremde ekonomiese potensiaal, die afwesigheid van demokrasie en ‘n skrapsheid aan vryhede, soos mediavryheid.

En teen hierdie realiteit in romantiseer die ANC se jeugliga steeds die doelwitte en retoriek wat daarmee gepaard gaan. As daar nie ge-kameraad word nie, word na sogenaamde progressiewe doelwitte gestreef, en vele meer.

Dit toon geen begrip en nog minder respek vir dit wat onlangs nog gebeur het – sinneloos begriploos soos die gebrek aan respek vir sterwende gewondes wie se bloed in die sand geloop het terwyl die skieters nie ‘n vinger verroer het om die gewonde se lewe te red nie.

Afrika het aanbeweeg. Tanzanië het sy sosialistiese eksperiment in veral die landbou, die ujamaa, laat vaar en nou Suid-Afrika genooi om boere daar te laat vestig. Die jeugliga ploeter nog met onteienings- en nasionaliseringsgedagtes.

Geen wonder investeerders begin Suid-Afrika al hoe meer as melaats hanteer nie, en hul beleggings kanaliseer na lande wat moeite doen om beleggersvriendelik te wees.

Ironies hef die jeugliga “progressive” as kenmerk aan, maar karring in werklikheid in ‘n uitgediende verstoktheid.

Herman Toerien