Subscribe by Email

Nuuskommentaar: 2012 – Dek tafel en sit aan vir dialoogdinee en wen iets positief uit die Malema-dilemma

Dit is dié tyd van die jaar wanneer analiste die ou jaar se nuushoogtepunte onder die vergrootglas plaas, en die kristalbal vir die nuwe nadertrek.

Veral die ekonome wat reeds hul vooruitskouings gewaag het se kristalballe lewer maar ‘n somber prentjie op.

Maar is daar positiewe sake om na uit te sien?

So ongesiens het die woord “dialoog” sterk in die nuus afgestof geraak.

In Desember vanjaar is die woord agt keer in Volksblad se elektroniese argief gebruik, 10 keer in Die Burger en drie keer in Beeld. Met Versoeningsdag wat net mooi in die middel van Desember val, sou ‘n mens verwag dat nasionale dialoog wat die boodskap van verskeie meningsvormers vir dié geleentheid was, meestal na 16 Desember die argiewe sou laai. Dit is egter, interessant genoeg, nie die geval nie. Al Beeld se verwysings was voor 16 Desember, en bykans al Volksblad en Die Burger se verwysings ook.

Dus …die versugting na dialoog loop veel dieper as ‘n vinnige afstof met Versoeningsdag.

Die persoon wat onbedoeld die eer toekom om die behoefte aan voortgesette dialoog op die tafel te plaas, is interessant genoeg die persoon wat in die oorweldigende vloed mediaberigte die blaam vir die land se polarisasie kry – Julius Malema.

Die rissiepit-kommentator. Rhoda Kadalie het dit soos volg in een van haar onlangse rubrieke saamgevat: “KALLIE KRIEL se reguit reaksie in Volksblad-By op Adriaan Basson se vroeëre woord-aanval op AfriForum (in By, maar ook in City Press) is die soort openbare debat wat ons behoort te hê. Die politiek korrekte nuusmedia het AfriForum veroordeel omdat hy dit durf waag het om Julius Malema te dagvaar vir daardie afskuwelike strydkreet “Kill the Boer, kill the farmer”. Hierdie lied bly weersinwekkend, of dit nou in die vryheidstryd gedreunsing is of nie. Dit sal haat­spraak bly, of regter Colin Lamont nou daarteen beslis het of nie. Tog hou die alte vroom Basson vol dat AfriForum se regsaksie geïnspireer is deur regse opwellings wat Suid-Afrika verder polariseer. Wat as ek die teendeel beweer? Wat as ek aanvoer dat AfriForum dit juis gedoen het om rassisme en polarisasie te stuit? Dit is natuurlik vir Basson makliker om Kriel te pak – eerder as Malema, die megalomaan van rassisme en seksisme. Malema se bestaansrede is om mense te verdeel. Hy het dit gedoen in sy eie party, in so ’n mate dat pres. Jacob Zuma nie meer sy kabinet en party vertrou nie.”

Op die vooraand van Vryheidsdag reik die Afrikanerbond ‘n ope brief aan pres. Jacob Zuma uit om nasionale dialoog te voer. Twee dae tevore het mnr. Willie Spies van Afriforum daarop gewys dat die hofsaak teen Julius Malema deel uitmaak van ‘n poging om ‘n opvolgskikking te bewerkstellig, met die fokus op minderheidsregte.

Die AB vervat: “Vryheidsdag moet gesien word teen die agtergrond van ‘n minderheid en meerderheid wat mekaar, vanuit ‘n posisie van konflik, kon vind rondom ‘n onderhandelingstafel. Uit hierdie onderhandelinge is ‘n nasionale akkoord bereik wat neerslag gevind het en geformaliseer is in ‘n oorgangsgrondwet en die finale grondwet van 1996. Alhoewel nie volmaak nie, bied die grondwet voldoende ruimte aan enige regering vir wye besluitneming en word burgerlike regte voldoende beskerm.

“Na 17 jaar van demokrasie, bring ‘n bestekopname van die huidige toedrag van sake egter die donker sy van meerderheidsoorheersing na vore. Dit het duidelik geword dat die regerende party se beleidsuitvoering en uitsprake deur sommige individue die bepalings en ideale van die SA grondwet systap en soms ondermyn. Waar die SA grondwet baie duidelik is oor die nie-rassige aard van die SA samelewing, word Suid-Afrika al hoe meer ‘n samelewing wat deur rassegrense en rasbepalings gedefinieer word. Hiervan is regstellende aksie, swart ekonomiese bemagtiging, kwotas en vele meer, alles in die naam van transformasie, maar net simptomaties.”

Die FW de Klerkstigting sluit hierby aan deur in sy kommentaar op die groenskrif oor grondhervorming onder andere te beweer min dokumente verskaf ‘n meer ontmoedigende illustrasie van die mate waardeur die nasionale gesprek tans met rassegevoel beïnvloed. “Die Groenskrif se ideologiese oorsprong is die ANC se Nasionaal Demokratiese Rewolusie – wat, glo dit of nie, steeds Suid-Afrika deur die prisma van ‘n voortdurende vryheidstryd teen blankes beskou.”

So plaas die een belangegroep, politieke party en meningsvormer na die ander die behoefte aan ‘n nasionale dialoog aan die bod, dikwels afgestem op die grondwet – hetsy om die grondwet soos dit tans daaruit sien te beskerm, of om die grondwet in die proses te heronderhandel sodat dit minder ruimte vir afvalligheid bied. Willie Spies is nie die enigste wat na ‘n opvolgskikking en ‘n groter fokus op minderheidsregte streef nie.

Wat baie duidelik blyk, is dat ‘n groot deel van die polarisasie gedryf word deur verskillende persepsies van die geskiedenis. Die De Klerk-stigting se reaksie op die groenskrif dui juis aan dat sekere vertrekpunte die dood van versoening in die pot behels. Aan die een kant het Malema in die teenwoordigheid van pres. Jacob Zuma na wit mense as boewe verwys, en dit veral gebou rondom die persepsie dat blankes swart mense van hul grond beroof het. Die TLU SA aan die ander kant, stel dit duidelik dat blankes geen grond van swart mense afgevat het nie.

Die mens reageer egter nie op die waarheid nie, maar sy persepsie van die waarheid, en hieroor word wyd verskil.

‘n Tweede bron van polarisasie is die gaping tussen ryk en arm, en die regering maak politiek daarvan dat dit in hoofsaak na ‘n wit – swartverskynsel te herlei.

Die interessantheid is dat ‘n opname in België bevind het dat die welvaartskloof tussen Vlaandere en Wallonië groter word. Vlaandere vergelyk met Europa se bestes, terwyl Wallonië teruggesak het na ‘n possie wat hulle, as onafhanklike land, tussen Portugal en Spanje sou stel. Dit vind plaas ten spyte daarvan dat Vlaandere Wallonië jaarliks met miljarde euro’s subsidieer. Die Wale se reaksie hierop is om ‘n keuse vir sosialisme uit te oefen.

Die gevolg was dit 541 dae geneem het om ‘n Belgiese regering na die vorige verkiesing saam te stel. Verskeie staatkundige aanpassings moes in die proses gemaak word, en niemand verwag ernstig dat België nog lank as staat sal bly bestaan nie.

Tog kan Suid-Afrika baie leer uit die Belgiese proses wat die karakter van Kemptonpark se onderhandelings gehad het. In België is individuele regte reeds goed gevestig en selde ‘n bron van kommer. Die onderhandelings is oorheers deur groepregte, wat in Suid-Afrika gewoonlik die baadjie van minderheidsregte aanneem – soos ook as twisappel in die Malema-haatspraakverhoor uit die boom geval het. In België het die Duitse minderheid byvoorbeeld ook staatkundig uit die koppestamp tussen die Vlaminge en Wale gebaat.

In Europa word groep-, of minderheidsregte, as volwaardige deel van die pakket van menseregte beskou. Dit dra nie die etiket van regse politiek nie. Vroeër vanjaar is Max van der Stoel oorlede. Suid-Afrikaners onthou hierdie minister uit die Joop den Uyl-era veral as bitter teenstander van apartheid, maar hy het veral later in sy lewe ‘n prominente rol gespeel in die bevordering van minderheidsregte.

Trouens, die Max van der Stoel-prys word elke tweede jaar deur die Europese Organisasie vir Veiligheid en Sekuriteit se Hoë Kommissaris vir Nasionale Minderhede toegeken aan persone en instansies wat besonder baie vir minderheidsregte gedoen het. Dié prys van Eur 50 000 elke tweede jaar is in 2001 deur die Nederlandse Departement van Buitelandse Sake in die lewe geroep.

Toe Frankryk verlede week ‘n wet aanvaar het om die ontkenning van die Armeense volksmoord deur die Turke strafbaar te maak, moes pres. Sarkozy veral op die steun van linkse parlementariërs staatmaak. Turkye het hierop bande met Frankryk verbreek en die Franse van rassisme beskuldig, en boonop dreigemente oor voortgesette Turkse deelname aan Navo gemaak. Turkye, wat graag ‘n lidland van die Europese Unie wil word, moes reeds aansienlike toegewings oor Koerdiese regte te maak, omdat die EU se grondwet dit vereis.

In Suid-Afrika word sentimente oor groepregte en selfs minderheidsregte dikwels as regse politiek beskou. Dit blyk onder meer uit die Basson-Kriel-debat waarna Kadalie verwys het, maar is ook gister duidelik gemaak toe Jason Lloyd, ‘n kommunikasiebestuurder soos volg in Volksblad geskryf het: “DIT is in die belang van die voortbestaan van Afrikaans en al sy sprekers dat die Universiteit van Stellenbosch (US) so spoedig moontlik moet verengels. Nee, ek is nie teen Afrikaans gekant nie. Ook nie teen die US as akademiese instelling nie. Inteendeel, ek is baie lief vir my moedertaal. Dit moet soos al die ander landstale gelyk behandel en bevorder word…. Daarteenoor is Stellenbosch om verskeie redes nie die geskikte universiteit om Afrikaans as akademiese taal te laat gedy nie. Die US het as broeikas vir Apartheid opgetree, en daar het die bose stelsel van krag tot krag gegroei. Dit is en word steeds as ’n bakermat van die Afrikaner se akademiese en ekonomiese welvaart beskou. Die institusionele kultuur van die universiteit is steeds oorwegend ‘wit en Afrikaans’. Dit dra dus nog te swaar aan die bagasie van die verlede en sal baie moeilik – indien ooit – daarvan ontslae kan raak.”

Die debat oor Afrikaans by Maties is goed bekend, en die frustrasie van baie liberale is juis dat dit nie so maklik is om die kampvegters vir die behoud van Afrikaans by dié instelling as regses af te maak nie. Oor die jare is trouens hard probeer om hierdie kampvegters se “geloofsbriewe” onder verdenking te plaas, soos om na oud-Dakargangers as “nieu-konserwatiewes” te verwys.

Kadalie som die kwessie goed op: “Dit is nie AfriForum wat die burgerlike samelewing gepolariseer het nie, dit is jou (Basson se) dubbele standaarde!
Die onthulling van prullerige redenasie is wat ons land nodig het. Openbare dialoog is deurspek met halwe waarhede. Joernaliste is oppervlakkig oor ingewikkelde kwessies en het dikwels nie die moed om politiek ongewilde standpunte in te neem nie. Hulle sal moeite doen om wit mense aan te val wat erns maak met die beskerming van hul regte, maar sal terugdeins wanneer swart mense die regte van ander skend.“

Die land wag nou om te sien of die Menseregtekommissie die klagtes van haatspraak teen Malema wat by dié instelling aanhangig gemaak is, gaan benut om nasionale dialoog oor versoening te fasiliteer soos wat die AB verlang. Omdat soveel verskille in die persepsies oor die werklikheid bestaan, sal dit ‘n reuse uitdaging wees.

In 2012 sal dit boonop ‘n ekstra groot uitdaging wees, want dit sal in wese die ANC in sy eeufeesjaar van sy aansprake dat sy bewindsaanvaarding die gevolg van ‘n oorwinning was ontneem, en die feite rondom ‘n nasionale akkoord en onderhandelde versoening op die tafel moet plaas.

Dit word nog verder bemoeilik deur die vereiste dat minderheidsregte saam met individuele regte ‘n integrale deel van menseregte is, en nie langer deur die vorige bedeling gekontamineer kan bly nie.

In Maart 2010 het Tim du Plessis, nou hoofredakteur van Nasionale Pers, die volgende in Beeld geskryf: “’n Nuwe tydsgees is aan die ontwaak. Mense, gemeenskappe, minderhede, noem maar op, staan op en sê: genoeg is genoeg. Nou vat ons ons regte terug. Groepe en instansies uit alle sfere kom in verset teen die versmorende ANC-hegemonie van die afgelope tien jaar. Die Pretorianers veg vir hul stad se naam. Belastingbetalers weerhou dienstegeld uit protes. In die townships is die middele van protes anders, maar die boodskap dieselfde: ons eis die regte wat die staat aan ons verskuldig is. Solidariteit sleep hulle hof toe (en wen) oor die sotlike toepassing van regstellende aksie. ENB is tot ommekeer gedwing oor sy diskriminerende (teen wit mense) hulpskema vir werknemers wat swaar betaal aan kinders se skoolgeld. Cosatu het sy stem teruggekry ná Polokwane en protesteer luidkeels teen tenderpreneurs. Hy hou aan vra, totaal oneerbiedig, vir leefstyl­oudits vir die ANC se vetkatte.

Swart redakteurs en meningsvormers word weer, soos in die apartheidsjare, die stem vir gewone mense. Hulle skrik nie vir die ANC se raspolitiek nie en kritiséér….Oral behalwe by die Universiteit van Stellenbosch (US). Daar gebeur die teenoorgestelde  –  regte word geabdikeer. Die US se reg om ’n universiteit met ’n Afrikaanse skering en inslag te wees in ’n oorweldigend Afrikaanse gebied word algaande prysgegee. Dit terwyl die Wes-Kaap reeds twee Engelstalige universiteite het. Die res van Suid-Afrika se burgerlike gemeenskap staan op en oefen hul regte uit. Stellenbosch kyk eerder hoe hulle dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys en die land se laaste oorblywende Stalinis, kan paai en ter wille wees.”

Intussen hét Stellenbosse belanghebbendes die rug styf gemaak oor Afrikaans en ‘n erge twis afgegee. Onlangs was “oumatjie Heese” en “Peertjies de Vos” aan mekaar.

Die klimaat is moontlik nog nie aan al die fronte heeltemal ryp vir ‘n nasionale dialoog nie. Dit neem die belangrikheid daarvan nie weg nie, en as aanpassings aan die grondwet nodig is om ons grondwet se konflikpotensiaal te verminder en dit meer in pas met die internasionale reg te bring, dan moet die stemme vir dié dialoog in 2012 harder gehoor word.

Géén grondwet, regs, middel of links, gaan werk as dit nie in die harte van mense geskryf is nie … as mense mekaar wantrou en nie verstaan nie.

Nie eens die beste in die wêreld nie – het dr. Tjaart van der Walt toe hy in die vorige eeu president van die RGN was gemaan. Dis ‘n waarheid wat nou meer as ooit geld.

Opgestel vir MaroelaMedia

Herman Toerien