Subscribe by Email

Nuuskommentaar: 2011 slegte jaar vir diktators

Met die skielike afsterwe van die Noord-Koreaanse diktator, Kim Jong-il, is omtrent al wat seker is uit die kluisenaarsland dat alles onseker is.

Die jaar 2011 was nie ‘n goeie jaar vir diktators nie. Tunisië en Egipte het met betreklik min moeite van hul jarelange diktature ontslae geraak, terwyl dit veel meer bloedvergieting en internasionale inmenging geverg het om Muamar Ghaddafi wat 42 jaar lank Libië geregeer het, uit die kussings te lig.

In die Ivoorkus het die vorige president, Laurent Gbagbo die verkiesing waarin hy die onderspit gedelf het, probeer steel en dit het ‘n bloedige burgeroorlog afgegee voor Gbabgbo na inmenging deur die Franse Vreemdelingelegioen verslaan is, en nou deur die Internasionale strafhof verhoor word.

Hoewel Fidel Castro formeel in 2008 die regeringsleisels aan sy broer Raul oorhandig het, kon Raul eers in April vanjaar werklik onafhanklik begin optree na Fidel ook van sy pos as leier van die Kommunistiese Party in Kuba afstand gedoen het.

Nog ‘n diktator wat vanjaar die wind sterk van voor begin kry het, is pres. Bashar al-Assad van Sirië.

Daar is merkwaardig baie ooreenkomste tussen Noord-Korea en Sirië. Die mees opvallende ooreenkoms is dat beide lande ‘n geskiedenis ontwikkel het dat die lande deur ‘n besondere segment beheer word – in Sirië deur die Alawiete, ‘n sekte van die Sjiïtiese minderheid in Sirië, en in Noord-Korea die Kim-“clan” waarvan die oënskynlike opvolger vir Kim Jong-il, sy seun King Jong-un, die derde in die pa-seun-opvolgdinastie sal wees.

Om aan bewind te bly, is dit noodsaaklik dat die bevolkings ‘n alternatiewe werklikheid wysgemaak moet word. Noord-Korea is uit ‘n moontlike 178 plekke, die 177ste land op die persvryheidsindeks. Slegs Eritrea is laer. Sirië bly nie ver agter nie, met die 173de posisie. Noord-Korea se vernaamste bondgenote, China (171) en Kuba (166) vaar nie veel beter nie.

Gewoonlik gebruik sulke diktature ook korrupsie om die lojaliteit van invloedrykes te koop, en Noord-Korea deel die laagste posisie – 182ste met Somalië op Transparency International se korrupsie-persepsie-indeks. Sirië vaar nie veel beter nie in die 129ste posisie. Sirië kom ook op die VSA se lys van terroristestate voor saam met Kuba, maar Noord-Korea ontbreek amper vreemd op hierdie lys. Noord-Korea is in 1988 op die lys geplaas, maar in 2008 daarvan afgehaal omdat die land onder meer aan alle vereistes van inspeksies vir kernaanlegte voldoen het. Hoewel dit ‘n groot oëverblindery was, en Noord-Korea onlangs ‘n tweede kernbom getoets het, is dit nie weer op die lys geplaas nie. As deel van sy kluienaarsbeleid is steun aan internasionale terreur skynbaar opgeskort.

Nie alleen het Noord-Korea kernwapens ontwikkel nie, maar ook sy missieltegnologie uitgebrei wat veral Suid-Korea en Japan kwesbaar maak, maar van die missiele kan potensieel tot die VSA tref. Kortom, die laaste ding wat die wêreld kan bekostig, is ‘n onstabiele diktator wat op ‘n kernarsenaal sit.

Analiste is dus op die oomblik hard aan die kopkrap en ontleed oor wat om van die jong Kim Jong-un te verwag. Dié taak word bemoeilik deurdat die jongeling in die grootste geheimhouding grootgemaak is, en selfs sy skoolopleiding in Switserland onder ‘n vals naam en identiteit deurloop het. Foto’s van hom het maar onlangs eers beskikbaar geword.

Indien die waarskynlikheid bewaarheid word dat Kim Jong-un sy pa, Kim Jon- Il as Noord-Koreaanse leier opvolg, sal hy die derde uit die geledere van dieselfde dinastie wees.

In Noord-Korea speel hierdie opvolgfaktor nie net die gewone rol waar erfopvolging van korrupte diktators noodsaaklik is om die intriges van die korrupsienetwerk wat ook lojaliteite aanmekaar hou, in stand te hou nie. Daarvan was en is daar genoeg voorbeelde, wat soms in monargies omgesit is soos in die Iran van die Sjah’s. Die huidige opstand in Sirië waar die huidige leier, Bashar al-Assad die bewind by sy pa oorgeneem het is nog ‘n voorbeeld, en die aanduidings was dat pres. Hosni Mubarack van Egipte en Muamar Ghaddafi van Libië dieselfde erfopvolging in die oog gehad het.

Om die posisie in Korea in die algemeen en Noord-Korea in die besonder te verstaan moet die rol van stamme – eintlik uitgebreide families of die meer akkurate Engelse woord, “clan” in gedagte gehou word.

Die “van” Kim dui verwantskap met die horde Kim-“clans” aan wat in beide Noord- en Suid-Korea bestaan. In Suid-Korea alleen is 348 Kim-“clans.”

“Clans” het tradisioneel ‘n reuse invloed op die lewe van Koreane uitgeoefen, en in ‘n stadium is huwelike tussen lede van dieselfde “clan” verbied. Dié wetgewing is nou effen verslap en net van toepassing waar “clan”-lede te naby familie is.

Vandag word die verskillende Kim-“clans” nie as verwant aan mekaar beskou nie, en word gekwalifiseer uit die omgewing waaruit hulle kom.

Tog is daar ‘n bepaalde “status” gekoppel daaraan om tot ‘n Kim-“clan” te behoort. Kim kom in verskeie vorme ook in buurlande soos China, Viëtnam en Kambodja voor, en word dikwels nie presies dieselfde uitgespreek nie. Die Koreaanse simbool wat vir die Kim-“clan”-verwantskap gebruik word, is dieselfde wat vir die woord “goud” gebruik word (maar word nie heeltemal dieselfde uitgespreek nie).

Die oorspronklike stamvaderskap van die Kim’s word – waarskynlik meer mitologies – teruggevoer na ‘n prins wat later ‘n monnik geword het. Daar is dus ‘n element van adelstand aan gekoppel. Boonop, volgens oorlewering, stam die Kim’s van die Hunne af – die Mongole wat lank oor ‘n groot deel van China en omliggende dele, en selfs ‘n groot aantal van die Indonesiese eilande regeer het. Een van die bekendstes was Koeblai Kahn.

Dit is vir die Westerling baie moeilik om die misterie van Oosterse “clans” behoorlik te deurgrond, al word die weste al hoe meer deur die immigrasie van Oosterlinge beïnvloed wat weer in hul nuwe vaderlande rondom die “clans” groepeer.

Oor Kim Jong-un is byvoorbeeld bitter min bekend, behalwe dat hy jonger as dertig is, en dat hy by ‘n Engelstalige skool in Switserland skoolgegaan het. Hoewel die regerende Kim-“clan” Switserland – ‘n neutrale land – gereeld as basis vir “clan”-saamtrekke gebruik het, soos by die Interlaken-meer, is dit byvoorbeeld nie bekend of hy enige trek vir Westerse gebruike en gewoontes ontwikkel het nie. Hy het onlangs ook die ekwivalent van ‘n generaal geword, wat op sy ouderdom selfs in Noord-Korea ondenkbaar sou wees as hy nie uit ‘n dominante “clan” gekom het nie.

Na berig word, is die jong Kim ook betreklik onlangs in die geheim aan die Chinese owerhede as opvolger voorgestel, ‘n tipiese “clan”-gebruik wat uiteraard deur die Chinese ontken is waar die “clan”-kwessie as strydig met Mao se leerstellings ‘n netelige kwessie is.

Ook voortspruitend uit die “clan”-gebruike is daar berigte dat Noord-Korea eers deur ‘n oom van die jong Kim as regent regeer sal word tot Kim self oud genoeg is. Tipies van die Noord-Koreaanse kluisenaarshouding, is dit egter ook iets wat in groot misterie gehul is. Die meer waarskynlike aanduidings is dat die jong Kim sy pa regstreeks sal opvolg.

Amnestie Internasionaal het reeds sy kommer uitgespreek oor berigte dat potensiële opponente toegesluit en selfs gefusilleer word.

Die beheer wat die Alawiete-minderheid in Sirië verkry het, en volhou deur die beheer oor die gewapende magte uit te oefen, het bykans verseker dat Bashar sy pa, Hafiz, sou opvolg.

Die Alawiete word egter nie altyd deur die Soenie-Moslems as deel van die Islam beskou nie, en selfs in die Sjiïete-geledere, waarvan dit ‘n sekte is, word dit ook nie altyd as deel van die Islam aanvaar nie.

Terwyl die Assads binnelands betreklik goed daarin slaag om deur ‘n kombinasie van omkopery en onderdrukking ‘n vorm van nasionale eenheid te bewaar, is die Arabiese Bond, waar die Sjiïete ‘n geringe rol speel en die Alawiete effektief afwesig is, minder geduldig met die magspel en bontpraatjies.

Sirië het gister tot die vredesplan van die Arabiese Bond ingestem, hoewel dit in die onlangse verlede ook gebeur, en Sirië dit gewoon geïgnoreer het. ‘n Belangrike faktor hierin is juis dat Sirië aan sy burgers ‘n alternatiewe werklikheid voorhou, en verwag dat die Arabiese Bond – trouens die hele wêreld – daarby moet inval. Sirië hou byvoorbeeld steeds vol dat die binnelandse onrus die werk van buitelandse insurgente en terroriste is. Trouens, by die jongste aanvaarding van die vredesverdrag het Sirië tot die ontplooiing van waarnemers ingestem “sodat hulle self kan sien dat daar gewapende terroristegroepe in Sirië is.” Die standaard-bewering dat dit buitelandse insurgente en agente is, is egter nie nou so sterk beklemtoon nie.

Sirië het trouens selfs die media na Sirië genooi, maar op voorwaarde dat hulle objektief verslag doen. En daar is ‘n hemelsbreë verskil tussen dit wat ‘n diktatuur met sy alternatiewe werklikheid as objektief beskou, en dit wat die wêreld daarbuite as objektief beskou.

Sirië is egter nou deur een van sy laaste bondgenote, Rusland, aangesê om by die Arabiese Bond se vredesplan in te val.

Met die aandag van die wêreld wat nou skielik na die potensieel veel groter bedreiging, Noord-Korea verskuif, is dit bykans onafwendbaar dat die regerende kliek in Sirië die kans sal aangryp om hul posisie weer te probeer konsolideer. Die aanduidings is egter dat die Arabiese Bond se geduld met Sirië op is, en dat hierdie lande die Koreaanse kwessie aan die groot internasionale rolspelers sal oorlaat. Die strop gaan styf om die Assad-keel bly.

Opgestel vir MaroelaMedia

Herman Toerien