Subscribe by Email

Nuuskommentaar: 2 + 1 = 140

Dit is min of meer hoe die Suid-Afrikaanse nuwe wiskunde moet lyk om sekere mense se inkomste en lewenstyl bymekaar te moet uitbring. Dit wil nie klop nie, maar van die publiek word verwag om dit te laat klop.

Nou word die voet neergesit – of so lyk dit, met Cosatu wat hom by die koor aangesluit het dat gekyk word na Julius Malema se geldsake. Afriforum het ‘n klag by die polisie gelê

Dié ANC-jeugleier verdien skynbaar ‘n salaris van sowat R25 000 by die ANC, maar het op die oog af die vermoë om elke sent te rek dat dit papierdun word, om sy voorliefde vir luukshede en ‘n pierewaaier-leefstyl by mekaar te kan laat uitkom.

Ondersoeke na Malema se geldsake moet nog gedoen word, en daarom word slegs in die algemeen na korrupsie gekyk.

Die Wêreldbank beskryf korrupsie as die berowing van ‘n land van sy toekoms. Baie kenners verwys na Suid-Afrika as ‘n land waar korrupsie endemies geword het. Die ANC het ook nie korrupsie uitgevind nie – net vervolmaak lyk dit. Die tuisland-administrasies se “handling fees” om hoegenaamd na tenderaansoeke te kyk, word nou volgens aansprake sommer blatant op munisipale tenders as “administratiewe besoldiging vir die amptenaar wat die tender hanteer” ingeskryf. Di֖é tsjôtsô is bloot om die hoop lewend te hou dat die tender oorweeg sal word. Hierna kom die sakie by om die tender te kry.

Hier lyk dit dikwels ook soos ‘n slagveld – die premier se seun wat glo ‘n tender gekry het sonder dat die ander tenders oopgemaak is, en vele ander goggas. Diegene wat weet, wil nie met die verantwoordelike owerhede praat nie, want hulle is van ‘n tender hier en daar wat na hul kant mag kom afhanklik. Op die oomblik word ‘n LUR vir beweerde korrupsie en geldwassery verhoor, en ‘n lasbrief is uitgereik vir die arrestasie van nog ‘n LUR. Beide is nog in hul ampte.

In nog ‘n provinsie is verskeie tenders, veral paaietenders, deur die howe tersyde gestel. In een geval is gelas dat die tenderraad die tender moet heroorweeg, maar dat geen lid van die tenderkomitee wat by die aanvanklike toekenning betrokke was, weer op die nuwe komitee mag sit nie. In nog ‘n geval was die saak so ooglopend dat die hof sommer die tender hertoegeken het.

Endemiese korrupsie versteur die markkragte. ‘n Straat wat weens slaggate herseël is, se slaggate gaap weer aan die beginpunt nog voor die werk aan die anderkant voltooi is. Dikwels is die oorsaak van slaggate ook weer die gevolg van ‘n bedenklike transaksie waar dorpsontwikkeling op erge swellende kleigrond toegelaat is. Die geringste reën of rioollekkasie, en die slaggate pryk, veral as afskeepwerk met die padmakery en seël daarvan gedoen is.

Niks werk nie, in elk geval meer soos dit veronderstel is om te werk nie.

Die polisie se misdaadstatistiek sluit nie ‘n kategorie, korrupsie, in nie. Afleidings moet dus uit die hofie, handelsmisdaad, gedoen word. Terwyl hoog opgegee word oor verskillende soorte misdaad wat afneem, neem handelsmisdaad skerp toe. Waar slegs 115 uit elke 100 000 van die bevolking in 2004 / 05 vir handelsmisdaad gevang is, was dit in 2009 / 10 170 per 100 000. Die perspektief is egter dat dit maar ‘n totaal van 84 842 gevalle van handelsmisdaad behels – wat alles van tjek- en kredietkaartbedrog insluit. Op die oog af lyk dit of nog maar aan die oppervlak gekrap word, en dat ‘n deegliker net veel meer gevalle aan die lig behoort te bring.

En pas het die media weer gewys hoe ‘n belangrike waghondfunksie dit in landsbelang kan speel, en plaas weer vraagtekens oor hoekom die owerhede kort-kort met snoeringsplanne vorendag kom.

Wanneer kenners waarsku dat korrupsie in Suid-Afrika endemies geword het, flits die gevaarligte ernstig. Dit moet sonder aansiens des persoons met wortel en tak uitgeroei word. Dat dit glo deel van die en daai een se kultuur is, moet aangespreek en nie geduld word nie. En dit behoort ‘n geval te wees van wee hom deur wie die ander se val kom … al is dit ook die hoogste boom in die bos – juis hy moet agter tralies wees om as les en afskrikking vir ander te dien.

Want hy beroof die land van sy toekoms.

Herman Toerien