Subscribe by Email

Nuuskommentaar: “Change” ten goede of kat in sak?

In groot getalle het euforiese Amerikaners ‘n president verkies wie se verkiesingslagspreuk ‘n eenvoudige woord, “Change,” behels het.
Na afloop van die verkiesing het Amerikaanse drukgroepe kop geskud toe hul ondersoeke aan die lig bring dat talle Amerikaners wat byvoorbeeld sterk teen aborsies gekant is, vir ‘n president gaan stem het wat sterk pro-aborsie is.
Amper elkeen het sy eie vertolking aan die woord “change” gegee, wat goed en wel is voor ‘n verkiesing, maar as regering moet iemand teleurgestel word.
Namate die “change” begin intree het, soos druk dat die staat ook vir aborsies op aanvraag moet betaal, het die kiesers op elke denkbare moontlike manier vertragingstaktiek ingespan om te keer dat van die “change” wat aan die lig kom, werklikheid sou word.
Aan die spits is ‘n veldtog om die president se beoogde, en peperduur, gesondheidsplan op die rotse te laat loop. Met die mid-termynverkiesing het die Republikeine, sterk beïnvloed deur die nuwe drukgroep, die Tea Party-beweging, die Huis van Verteenwoordigers oorgeneem. Onder die eerste stappe was om ‘n besluit deur te voer dat die jaarlikse versoek van pro-aborsiedrukgroepe dat die staat aborsies befonds, “permanent” afgewys word.
Die groot geleentheid om vir pres. Obama te wys waar Dawid die wortels gegrawe het, het egter gekom toe dit blyk dat die regering sy perk van $14 biljoen – of te wel $14 Amerikaanse triljoen, op ‘n begrotingstekort gaan oorskry. Om die perk te lig, is die samewerking van die Huis van Verteenwoordigers nodig, maar met ‘n Republikeinse meerderheid, wat boonop grootliks met die steun van die Tea Party verkies is, lol dit en gaan dit bly lol. Nie net die Tea Party is hewig gekant teen die vergrote perk wat as die gevolg van onnodige ideologiese spandabelheid beskou word nie, maar ook ander invloedryke drukgroepe soos die Christian Coalition of America (CCA) is onverbiddelik. Die CCA het byvoorbeeld reeds ‘n beroep op sy 4 miljoen opbetaalde, ingeskrewe lede gedoen dat hulle hul kongreslede inlig dat fyn gelet gaan word hoe hulle stem. Gee hulle Obama sy sin, gaan hulle nie weer deur dié drukgroepe gesteun word nie.
Obama wil sy uitgawes hoofsaaklik finansier deur die twee persent Amerikaners wat meer as $250 000 per jaar verdien, swaarder te belas. Hy kan dit ook bekostig, want sy insamelingsveldtog vir die volgende presidentsverkiesing het in ‘n japtrap die teikenbedrag ver oorskry. Nou kan hy die welvarendes maar vervreem.
Die publiek word egter regstreeks geraak deur die twee kampe se planne. Kry Obama sy sin, is daar verhoogde belasting. Kry die Tea Party-groep hul sin, sal Obama die perk genoegsaam kan lig, maar daarna aan streng besparingswetgewing onderhewig wees.
Op die oog af lyk dit of Obama en sy ondersteuners, wat in die senaat ‘n meerderheid het, die probleem verkeerd benader het. Obama maak nie net die rug styf nie, maar gebruik ‘n kombinasie van die kiesers dreig en die spot dryf met sy teenstanders in die Kongres. Hy het pas, ‘n week voor die kraantjie toegedraai word, dieselfde op TV gedoen en ‘n kwartier lank sy ou taktiek uitgehaal. Nodeloos om te sê verhard dit die houding van sy teenstanders. In ‘n duidelike verwysing na die “Change”-verkiesingsplatform, het die leier van die Republikeine in die Kongres. John Boemer, dit duidelik gemaak dat hulle nie vir Obama ‘n blanko tjek gaan gee nie.
Intussen het Obama onverwags ‘n meevallertjie gekry – daar was ‘n groter as verwagte fiskus-inkomste, en finansiële instellings meen nou dat die skuldplafon nie meer op 2 Augustus bereik gaan word nie, maar op 8 of dalk selfs eers 10 Augustus. In ‘n bykomende week kan baie bereik word as Obama kan leer om sy teenstanders met meer respek te behandel.
Presies hoe belangrik die kwessie vir Obama is, blyk daaruit dat die Amerikaanse federale bedeling die sentrale owerheidsmagte, dws die president en Kongres, beperk tot buitelandse sake, verdediging en ‘n aantal maatskaplike aangeleenthede. Dit is laasgenoemde wat kiesersgewys na 2 Augustus in gedrang kom as ‘n skikking nie bereik word nie, soos pensioene vir oorlogsveterane en maatskaplike toelaes wat nie meer geld sal kan kry nie.
In die woorde van Obama: “Wanbetaling sal ‘n roekelose en onverantwoordelike opsie wees.” Voorts waarsku hy oor ‘n “diep ekonomiese krisis,” wat sal voortvloei.
Ongelukkig gaan die wêreld die prys betaal as die Amerikaners nie tot ‘n vergelyk gaan kom nie. Effektebeurse reageer reeds senuagtig.
Herman Toerien