Subscribe by Email

Nuuskommentaar: ‘n Nuwe staat word gebore

Dié naweek word ‘n nuwe staat gebore wanneer die suide van Soedan onafhanklik word.

Wat dit merkwaardig maak, is dat die Afrika-Unie, soos sy voorganger, die OAE, die koloniale grense as onskendbaar beskou. Een van die newe-effekte hiervan is dat Marokko, weens sy besetting van Wes-Sahara, nie lid van die AU is nie.

Oor die jare was daar wel uitsonderings. Walivisbaai is aan Namibië “teruggegee,” Marokko self het uit ‘n vreemde en bonte besttingsituasie wat in ‘n stadium ‘n noordelike Spaans-Marokko en ‘n Suidelike Frans-Marokko, en ‘n internasionale status rondom Tangier behels het tot stand gekom, Italiaans- en Brits-Somaliland het saamgesmelt, iets soortgelyks het met Kameroen gebeur, en Eritrea het onafhanklik geword.

Oor die algemeen is grensaanpassings egter heftig teengestaan, soos onder andere blyk uit die Shifta-insurgensie, die Ogaden-oorlog, Ghaddafi se aansprake op noordelike Tsjad, die Biafra-oorlog, en vele meer.

Die probleem is dat koloniale grense dikwels dwarsdeur stamme getrek is, en dié stamreste in hul lande nou onderdrukbare minderhede vorm. Word eers aan die beginsel van irredentisme toegegee – dws waar mense staatkundig by stamgenote in ‘n buurland wil aansluit, word Pandora se boks behoorlik oopgemaak – ‘n invloed wat dalk tot ver buite die grense van Afrika gevoel sal kan word.

Soedan se situasie – ‘n Moslem-noorde en ‘n Christen-animistiese suide, is ook nie so danig uniek nie. Dit geld byvoorbeeld in ‘n ligter mate in Tsjad, waar die Christene in die suide waar olie ontdek is, deur Moslems uit die noorde verdring word. Bykans al die lande in Wes-Afrika is in ‘n soortgelyke posisie, van Nigerië tot die Ivoorkus. Nigerië moes juis, afgesien van die vestiging van etnies-federale binnelandse grense, ‘n maatreël instel waarvolgens die president om die beurt ‘n Christen en Moslem sal wees.

Die verkiesing in die Ivoorkus wat amper-amper weer op ‘n burgeroorlog uitgeloop het, is ook grootliks volgens Christen- en Moslemkandidatuur geveg, met ‘n Moslem wat die bewind oorgeneem het.

Suid-Soedan is in wese deur die Arabiese noorde gekoloniseer. Oor dekades het ‘n burgeroorlog gewoed wat ‘n paar keer skikkings van ‘n federale bedeling opgelewer is, maar wat dan deur veral die noorde verbreek is.

Skeiding is duidelik die enigste oplossing.

Dit beteken nie die moeilikheid is die naweek iets van die verlede nie. Daar is grensgeskille, en van die onderhandelde grensreëlings word reeds openlik geskend. Suid-Soedan grens ook vir ‘n lang ent aan die Darfur – ‘n Moslem-gedeelte maar wat nie Arabies is nie.

En dan is daar die olie. Die noorde kyk met begerige oë na maniere om steeds die room af te skep.

Vir die volgende ses maande gaan die suide egter baie besig wees. Die nuwe land het reeds ‘n sentrale bankier, en daar sal nou volgens die Wêreldbank vinnig gewerk moet word aan ‘n monetêre beleid, die vlak van die wisselkoers bepaal moet word, terwyl die diversifikasie van die ekonomie aandag sal moet kry. Die aanduidings is dat die nuwe land oor ses maande sy eie geldeenheid gaan hê.

Herman Toerien