Subscribe by Email

Nuuskommentaar: ‘n Land in gebed – of nie

Onlangs het ‘n berig oor ‘n predikant wat sou gesê het gebed help nie, wyd opslae gemaak. Intussen het die predikant in ‘n onderhoud op RSG te kenne gegee hy is verkeerd aangehaal. Die oorspronklike boodskap loop egter steeds, en trek steeds veel kommentaar en toeligting van kerke en kerkleiers.
Dit is duidelik dat dié insident iets is wat moes gebeur het – iets wat ook die vraag laat of die land – meer as 70 % selferkende Christene ten spyt – die wil van die Here op ons voorkoppe en hande geskryf dra.
Nog voor hierdie insident het die debat reeds binne kerkkringe en op die internet gewoed oor die kontekstuele verstaan van die Bybel. Dit kan immers erg negatief op iemand se geloofslewe inwerk as hy die Bybelse belofte van vra, en dit sal gegee word, los verstaan van die Bybelse verduideliking dat dit onderhewig sal wees aan die Wil van die Here. Selfs Jesus het gevra dat die beker by Hom verby sal gaan – maar dat die wil van die Vader steeds sal geskied.
So het ons vandag ‘n Verlosser en Saligmaker.
Dit beteken hoegenaamd nie dat ons gebede geen uitwerking het nie. Die gebed van ‘n gelowige het immers ‘n kragtige uitwerking – soos die Skrif verseker. Ons staar ons dikwels vas teen ons wil – en beperk dit tot hierdie lewe. Ons verreken dikwels nie die Wil van God deur die hiernamaals in te sluit nie – plek sonder pyn en gebrek.
Wanneer ons bid dat ons seun die hoofseun word, en hy word hoofseun, is die gebede van ander ouers wat dieselfde vir hul seuns gevra het, nie verhoor soos hulle in hul eie konteks verlang het nie. Die seuns se teleurstelling bou egter vir hulle, selfs as beproewing, aan hul lewens.
Die Woord van die Here op ons voorkoppe en hande geskrywe beteken in ons denke en dade. Die goeie vrugte van die geloof van ‘n gelowige word ruim in die Skrif behandel, en aan daardie vrugte word God in ons lewens herken.
Maar voldoen ons lewenswyse, ons optredes en gedagtes, aan die lys van eienskappe van goeie vrugte? Word na die trant van talle debatte, selfs binne kerklike kringe, gekyk, lyk dit dikwels eerder na die eienskappe van die slegte vrugte: verwaandheid, skoorsoekerig, uitlokkend, selfsugtig, leuenagtig, skynheilig en veroordelend. En ja, hierdie slegte eienskappe word in die Skrif self gelys – dis nie maar die vrug van iemand wat fout met ander gelowiges se optredes soek nie. Of dat hy self nie ook hierdie eienskappe besit nie
Die Christen word inderdaad elke dag getoets, en daagliks aan sy vrugte getoets. Hy is immers veronderstel om as ligdraer op te tree. Maar steeds kan ons nie op die kwaliteit van ons vrugte die Hiernamaals verwerf nie – en juis daarom word dit vrugte genoem – nie boustene om op meriete die Ewige Koninkryk te beërwe nie.
Die Here het Israel soms gestraf wanneer die volk volgens ons oppervlakkige norme die gehoorsaamste was. Word dieper gekyk, was dis sinagoges vol, maar die afgodery op die heuwels in volle swang. Die diens aan God het geen diepgang gehad nie.
Vergelyk dit met uitlatings wat Christene ontstel het, soos die lidmaatskap van ‘n party wat ‘n vrypas hemel toe bied, dat mense wat teen die betrokke party stem wat woedende besoeke van die voorvadergeste te wagte kan wees, waar staatsgeld gebruik word om voorvadergeeste oral in die buiteland te gaan haal en by Vryheidspark vry te laat. Waar die OVK se amptelike verrigtinge vir die komende verkiesing formeel die seën gekry het van bykans alles – van tradisionele genesers tot Moslem, maar ons klassieke verstaan van die Christelike na berig word afwesig was.
In die nuwe volkslied word gesing dat God Afrika moet seën – maar geoordeel op die geloofsvrugte lyk dit baie gevra. Binnekort het die gelowiges by die stembus geleentheid om te toon hoe hul geloof op hul hande geskryf staan.
Maar … bid sonder ophou, want die gebed van ‘n gelowige het ‘n kragtige uitwerking. En bowe al – God weet wat die beste vir ons is.