Subscribe by Email

Nuuskommentaar: ‘n Herdenking ontspoor

Môre, 6 April, is nie meer ‘n amptelike vakansiedag nie. Die dag, Stigtingsdag, herdenk die aankoms van Jan van Riebeeck in 1652, wat ook die Kerstening van die land ingelui het. Dit het met die post-1994-bedeling in die slag gebly.
Dit beteken allermins dat die dag histories betekenisloos geword het. Vandag maak tussen 70 en 80 persent van die land se inwoners daarop aanspraak dat hulle Christene is.
Die regstelsel is nog grootliks gebaseer op die grondslae van die Romeins-Hollandse. ‘n Oneindige lang lys oor waardetoevoeging tot die land kan gemaak word, soos die invoer van mielies, die veredeling van inheemse veetroppe, gesondheidsdienste, die lees- en skryfkuns en vele meer.
Hoewel die Amerikaanse Thanksgiving-dag nie volkome hiermee kan vergelyk nie, is een van die herkomste daarin geleë dat pelgrims na die Nuwe Wêreld teenoor God dankbaarheid vir ‘n veilige oortog betoon het. Die nuwe aankomelinge het ook God gedank vir suksesvolle oeste op nuwe bodem, ‘n gebruik wat hulle van hul lande van herkoms saamgebring het. Nog ‘n element was dat die Wampanoag-Indiane die pelgrims van Plymouth wat deur hongersnood in die gesig gestaar is, van saad voorsien en geleer is om vis te vang.
Vandag is Thanksgiving wel grootliks gesekulariseer, maar steeds ‘n groot gebeurtenis op die Amerikaners se kalender.
Soos in Amerika, was die kontakvlak met kulture wat hier ontmoet is nie altyd vreedsaam nie. Piet Retief se manifes vertel egter ‘n gans ander verhaal van ingesteldheid teenoor ander bevolkingsgroepe waarmee in kontak gekom word, as die manier waarop in die Amerikas skouer geskuur is.
Vir baie Afrikaners is môre die herdenking van volksplanting. Hoewel die Afrikaner, soos enige ander volk, nie net die mooie as deel van sy geskiedenis ingeweef het nie, het hy wel veel om op trots te wees. Uit sy geledere het van die voorste kenners op hul gebiede, van die voorste pioniers, van die bekendste sendelinge, gekom.
Sommige sal voel dat stigtingsdag as dankdag eers bietjie moet wag – tot die Afrikaner nie meer die formele teiken van “affrimative action”-diskriminasie is nie. Regstellende aksie het immers lank reeds ontspoor deurdat dit lank nie meer gaan oor iets regstel nie, maar ‘n oop kanaal vir kaderontplooiing en nepotisme bied.
Trouens, die manier waarop baie Afrikaners die diskriminasie oorkom, word deur die Jimmy Manyi’s gebruik as motivering waarom die diskriminasie skynbaar onbeperk voortgesit moet word.
Die weersin teen die herdenking van Stigtingsdag is dikwels om die verkeerde redes. Enkele swart regslui het al hul ongelukkigheid met die Romeins-Hollandse regstelsel uitgespreek – ‘n regstelsel wat baie wyd geld met die beginsel van natuurlike geregtigheid onderliggend. Pas het die regering slae by die appèlhof gekry oor die patetiese wyse waarop een van sy burgers, Crawford von Abo, se belange diplomatiek irrasioneel ondersteun is, of eintlik nie ondersteun is nie.