Subscribe by Email

Nuuskomemntaar: Zero se vioolspel

Vandag word die internasionale dag vir vermiste persone gedenk. Dit is veral gemik op politieke teenstanders en joernaliste wat deur diktatoriale regerings gearresteer is, of in huisarres geplaas is, en dan so goed as verdwyn en dikwels vermoor word. Suid-Afrika is nie op Verslaggewers sonder Grense se lys van lande wat hiervan beskuldig word nie – die kollig val veel eerder op die wanordelike en gewelddadige gedrag wat met die eerste dag van Julius Malema se dissiplinêre verhoor saamgeval het.

Twee belangrike persone is egter vir alle praktiese doeleindes vermis. Pres. Jacob Zuma en sy adjunk is oorsee, ‘n optrede wat sterk herinner aan Nero se vioolspel terwyl Rome gebrand het.

Dit is so dat regeringsleiers se buitelandse reise in die reël lank vooruit beplan word. Maar so ook die datum waarop Malema en sy kornuite se verhoor sou begin. Die ANC se verduideliking dat die president en sy adjunk nie by die verhoor betrokke is nie, en hul reise daarom nie beïnvloed moes word nie, is werklik ‘n flou verskoning – Zuma het al te veel keer as sake hier skeefloop, die hasepad gekies. En ‘n politiek-blinde kon met ‘n stok aanvoel dat Malema se verhoor moeilikheid gaan oplewer, en dat sterk leierskap nodig sou wees om sake onder beheer te hou.

Boonop het dit ‘n urelange gespook afgegee om vas te stel wie as president waarneem. Nie eens die presidensie se woordvoerders het geweet nie, en die parlementêre leier van die opposisie is ook nie in kennis gestel soos protokol vereis nie.

Dit, en die feit dat geen minister, ook nie die minister van polisie of Jeff Radebe, minister van Justisie wat as president waarneem, boe of ba oor die Lethulihuis-moleste te sê gehad het nie, is aanduidend van die erns van die magstryd wat nou die broad church-konsep van die ANC uitdaag. Die enigste minister wat werklik die media gehaal het, was die minister van Verdediging, Lindiwe Sisulu, en ook bloot omdat sy gevra is of die weermag ingespan sal word om die oproerigheid te beheer. Dit was waarskynlik ‘n gelaaide vraag omdat die oproer nog betreklik goed deur die polisie beheer is, en eerder gemik was op haar openlik kantkiesery vir Malema. Uiteraard het sy dit duidelik gemaak daar is geen sprake dat die SANW ingespan gaan word nie.

Die besluit van die dissiplinêre komitee om die verhoor van vandag af na ‘n geheime plek te verskuif, is in die konteks van die straatmoles waarskynlik ‘n pragmatiese besluit, maar tog ironies dat die verhoor wat die publiek betref, op die internasionale dag vir vermiste persone, ook onder die wolk van geheimhouding in verdwyn. Dit skep die indruuk van ‘n regering wat beheer verloor.

Vir Zuma kan dit ‘n verlammende terugslag inlui – die ontevredenes kan sy afwesigheid en die aftog wat die dissiplinêre komitee neem as ‘n teken van swakheid ervaar, en Zuma as politieke drenkeling aan die kaak stel.

Uiteindelik kan die Malema-fenomeen goed wees vir die Suid-Afrikaanse politiek – as dit die eenpartymentaliteit van die ANC onder druk kan plaas, en die party in sy verskillende ideologiese vertakkings uiteen spat. Vir die eerste keer sal die breë kieserspubliek hulle dan in die posisie bevind dat hulle ideologiese en politieke keuses moet maak wanneer hulle hul kruisies trek, soos ‘n demokrasie vereis, en nie bloot blindelings vir ‘n organisasie stem wat beloftegewys alles vir almal probeer wees, maar hoofsaaklik ‘n handjievol met enorme rykdom laai, terwyl baie weens korrupsie arm en heeltemal werkloos gelaat word nie. Die Openbare Beskermer het immers pas gesê korrupsie beroof die armes, en die bekamping herinner aan ‘n poging om ‘n waterval se water met emmers na bo terug te dra.

Die gevaar bestaan egter dat die ANC soos Nero kan maak wat die skuld vir die brand op die Christene geplaas het, en in sy ou loopgraaf kan terugval en die blaam vir die probleme op olie apartheid plaas. Die oproeriges het juis die verbode lied: Maak dood die boere, gesing.

Tot dusver het die ANC en sy leierskap verseg om te aanvaar dat hy wat dorings saai, distels maai. Dis lekkerder om viool te speel en dan die vinger na ‘n sondebok te wys.

Herman Toerien