Subscribe by Email

Nuuskomemntaar: Republiek en verlede

Môre, sou hy die lewe gehou het, sou hy 50 gewees het.

Dit is die Republiek van Suid-Afrika wat op 31 Mei 1961 uitgeroep is.

Voor die mylpaal van ‘n halfeeu bereik kon word, het ‘n nuwe era gekom en is dit nie meer deel van die amptelike, kontemporêre geskiedenis nie.

Die waarde van die geskiedenis is egter dat deur dit te ken, kan die hede verklaar word. Belangrike lesse kan daaruit geneem word, en foute wat gemaak is, kan uitgeskakel word.

Die geheim is egter dat die geskiedenis objektief opgeteken moet word, en objektief vertolk moet word. Dit gebeur egter baie selde… dit word soms oorgeromantiseer, as satanies afgemaak, of as bloot onbenullig hanteer.

Die oorwinnaars skryf die geskiedenis, en juis oor die geskiedenis so ‘n belangrike bepaler en dryfkrag kan wees, word dit maar te dikwels geplooi om die hede te rig. Te dikwels word persepsies en retoriek deel van ‘n valse geskiedenisbeeld.

Die Republiek van Suid-Afrika het objektief veel prestasies uit sy eerste halfeeu van onafhanklikheid geneem. Die land het onder meer kernbomme gebou en die wêreld se eerste suksesvolle hartoorplanting gedoen. Voertuigbrandstof is uit steenkool vervaardig. ‘n Enorme pad- en spoorinfrastruktuur, ongekend op die vasteland, het tot stand gekom.

Foute is ook gemaak, en om bloot by een stil te staan: Voor Republiekwording is ‘n referendum gehou waar “ja” of “nee” gestem moes word vir ‘n republiek binne die statebond. Die “ja”-stem het naelskraaps gewen, en weens veral die stof wat Indië opgeskop het, is ‘n republiek buite die Statebond uitgeroep.

Waar die afwyking erken is, en verduidelik is, het die referendums sedertdien ook nie die beloofde gevolge opgelewer nie, maar is ook nie weer oop kaarte met die kieserspubliek gespeel nie.

Met die referendum oor die 1983-grondwet, is die skeptiese kiesers by herhaling verseker ‘n ja-stem sou slegs ‘n “ja” vir die driekamerparlement beteken. Opposisiewaarskuwings dat ‘n ja”-stem as ‘n “ja” vir hervormings vertolk sou word, is soos taks ergerlik as ‘n wolhaarstorie afgemaak.

Skaars was die uitslag bekend, of dit word as ‘n “ja” vir hervormings aangebied.

Met die Kemptonparkse onderhandelings is opnuut verseker dat ‘n “ja”-stem slegs oor voortgesette onderhandelings sou handel, en dat ‘n verdere referendum vir die goedkeuring van die uitslag sou volg. Ook hierdie ondernemings het op die ashoop van oneerbare politiek beland. Moreel gesproke is die vraag nie of dit pragmaties die regte ding was om die kiesers met donkie-ore uit te rus nie, die punt is dat politici ‘n beeld van oneerbaarheid van hulself help skilder het, wat in ‘n demokrasie ‘n land se aansien aantas.

Op die oomblik is daar weer ‘n reuse lawaai oor voorverkiesingsbeloftes dat die ANC belangrike konsessies aan die nuwe voorgestelde inligtingswet sou maak. Skaars is die stemme getel, of dit blyk dat dit ‘n wolhaarstorie was.

Verkiesings is sosiale kontrakte met die kiesers. Daar is gevalle waar verkiesingsbeloftes weens omstandighede buite die beheer van politici onuitvoerbaar is. ‘n Belofte dat nie teen ‘n buurland oorlog gevoer sal word nie, beteken niks as daardie buurland die oorlogsverklaring doen nie.

Politici se geloofwaardigheid is baie belangrik. Dit lyk of die blatante kluitjie wat Kaddfi se bewind aan Suid-Afrika en Oostenryk verkoop het oor die dood van die fotograaf Anton Hammerl, Kaddafi se bewind sy laaste belangrike vriende gekos het.

‘n Ongeloofwaardige regering gaan in die geskiedenis as ‘n narreregime op.

Herman Toerien