Subscribe by Email

Nuusbrokkies: 3 Desember 2010

Lede van die publiek is gevra om gebottelde water aan inwoners van Beaufort-Wes te skenk wat deur een van die ergste droogtes in die Sentraal Karoo getref is. Damme in die omgewing is op hulle laagste vlak in die geskiedenis en watervoorsiening word streng gerantsoeneer. ‘n Woordvoerder van Agri Wes-Kaap, Porchia Adams het vakansiegangers wat deur die dorp ry gevra om 5-liter houers water saam te neem. Dit kan by drie vulstasies op die dorp afgegee word. Die Gamkadam is dolleeg en boorgatwater word gespaar deur ‘n beurtwaterstelsel te gebruik.

Tien verdagtes is in hegtenis geneem in verband met die besit van plofstof en sameswering om kitsbanke in en om Tazaneen, Nkowankowa en Lebowakgomo in Limpopo op te blaas. Daar is ook op drie ongelisensieerde vuurwapens beslag gelê.’n Woordvoerder van die polisie, Motlafela Mojapelo, sê die verdagtes is op die Tzaneen-Haenertsburgpad aangekeer. Hy sê hulle word verbind met kitsbank-ontploffings in Apel en pogings om kitsbanke in Seshego en Polokwane op te blaas. Mojapelo sê hulle was ook vermoedelik betrokke by verskeie kitsbank-ontploffings in Gauteng. Die verdagtes sal Maandag in die landdroshof in Tzaneen verskyn.

Die omgewingsgroep, Earthlife Africa, sê die openbare verhore oor Suid-Afrika se elektrisiteitplan, IRP2010, is afgejaag sonder dat gemeenskappe kans gekry het om betrokke te raak. Openbare verhore sal vandag op Midrand ten einde loop. Die Geïntegreerde Hulpbronplan het ten doel om ‘n aanduiding te gee van die land se vraag na elektrisiteit.

Die matrieks van 2010 skryf vandag hulle laaste vakke in die eindeksamen. Hoewel matrikulante nou kan uitspan is die werk van die onderwysers nog lank nie afgehandel nie. Die merk van antwoordstelle begin Woensdag en sal na verwagting ‘n week lank duur. Die Wes-Kaapse Minister van Onderwys, Donald Grant, sê drie-duisend-700 onderwysers is aangestel om 800-duisend antwoordstelle te merk.