Subscribe by Email

Nuusbrokkies: 21 September 2010

Twee mans wat daarvan aangekla word dat hulle die baba, Marzanne Kruger, en haar oppasser, Francina Sekhu aangerand het, het vlugtig in die Johannesburgse landdroshof verskyn. Die saak teen Gerald Nyantumbo en Nelson Maphosa is tot 8 Oktober uitgestel, sodat hul regsverteenwoordiger toegang tot inligting kan kry en vir die verhoor kan voorberei. Die twee het na bewering die twee-jarige Marzanne wreed aangerand toe hulle in April die gesin se huis in Robindale beroof het. Marzanne was ná die aanval tydelik blind.

 

Die Laeveld Kamer van Besigheid en Toerisme sê hy het meer as 23-duisend handtekeninge van mense gekry wat wil hê dat die naam van die Mpumalanga hoofstad, Mbombela na Nelspruit terugverander word. Die kamer sê die proses wat gevolg is om die naam te verander was vol foute. Die Kamer het twee weke gelede met ‘n intensiewe veldtog teen die naamsverandering begin. Die woordvoerder, Linda Grimbeek sê hulle hou met alle rolspelers samesprekings om die pad vorentoe te bepaal.

 

Die vise kansellier van die Walter Sisulu Universiteit, Marcus Balintulo, het die akademiese jaar by die Mthatha kampus in die Oos-Kaap onbepaald opgeskort. Die universiteit het ‘n hofbevel gekry waarvolgens studente aangesê word om die kampus te verlaat. Dit volg ná uitgerekte stakings deur studente die afgelope drie weke . Hulle is oor verskeie kwessies ontevrede. Balintulo sê die universiteitsraad en die Senaat het sonder sukses alles moontlik gedoen om die staking te beëindig. Hy sê akademiese bedrywighede sal eers hervat wanneer die bestuur weer in beheer van die kampus is.

 

Die miljardêr, Richard Branson, het ‘n beroep op mense gedoen om in Zimbabwe te belê. Branson het in ‘n onderhoud gesê die wêreld kan ‘n wag-en-sien-houding inneem voor hulle in Zimbabwe belê, óf die wêreld kan die eerste minister, Morgan Tsvangirai en die koalisieregering help om Zimbabwe terug op sy voete te kry. Branson Virgin Unite, wat die filantropiese been van Branson se Virgin-groep is, gaan help om “Enterprise Zimbabwe” te stig. Dit is ‘n nie-winsgewende groep wat ten doel het om filantrope en kommersiële beleggers in kontak te bring met sakelui en maatskaplike ontwikkelaars. Branson het erken dat die politieke situasie in Zimbabwe onder aanvoering van president Robert Mugabe nie ideaal is nie, maar sê die land se ekonomie moet weer aan die gang kom.

 

Klasse by skole in Soweto het vanoggend na die normale teruggekeer ten spyte van Cosas se dreigemente om die rekord-eksamen te ontwrig. ‘n Woordvoerder van die Gautengse departement van Onderwys – Charles Phahlane – sê geen berigte van onrus is van enige skole ontvang nie. Onderwysers wat lede is van die vakbond, Sadou, het klaskamers gisteroggend, ten spyte van ‘n hofbevel, verlaat om ‘n vergadering by te woon. Alternatiewe reëlings is deur die departement getref vir leerders wat nie gister eksamen kon skryf nie.

 

Die Wes-Kaapse Premier Helen Zille het bewerings deur inwoners van Hangberg by Houtbaai verwerp dat die DA nie dienste aan die gemeenskap verskaf nie. Dit volg nadat die polisie vanoggend met rubberkoeëls op inwoners van Hangberg geskiet het, omdat hulle oproerig geraak het nadat die polisie onwettige hutte op die Sentinel, ‘n wêrelderfenisterrein, afgebreek het. Zille sê die Stad Kaapstad en die provinsie werk hard daaraan om behuising aan mense in die gebied te verskaf.

 

n Militêre helikopter het in die suide van Afghanistan neergestort. Nege soldate van die NAVO geleide mag het omgekom. Drie soldate is beseer. Volgens ‘n verklaring is dit moontlik dat die helikopter afgeskiet is. Die nasionaliteite van die soldate is nog nie bekendgemaak nie. Vanjaar het 529 soldate reeds in Afghanistan omgekom – die meeste sedert die oorlog nege jaar gelede begin het.

 

Bron: SAUK