Subscribe by Email

Nuusbrokkies, 16 September 2010, voormiddag

Die DA het die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga se standpunt verwelkom, dat leerders wat die rekord-eksamen boikot nie gratis punte sal ontvang nie. ‘n DA-woordvoerder, Wilmot James sê ten spyte van dreigemente deur die studente-organisasie, Cosas om die eksamen te ontwrig is die departement reg om by sy rooster te hou. Rekord-eksamens is gister in die Oos-Kaap, Gauteng en die Vrystaat ontwrig. Motshekga sê leerders moet wérk vir hulle punte.

 

Die KwaZulu-Natalse departement van Landbou het ‘n 500 miljoen rand meganiseringsprogram bekendgestel om plaaslike gemeenskappe by te staan met landboudienste. Deur die program is sowat 200 trekkers en ander toerusting aangekoop wat vir die gemeenskap beskikbaar gestel sal word. Die departement sê dit is deel van pogings om armoede te bekamp en landbou te bevorder. Die premier, Zweli Mkhize het tradisionele leiers aangemoedig om grond beskikbaar te maak vir produksie. Hy sê landbou kan die provinsie se ekonomie ‘n hupstoot gee

 

Die Parlement se portefeuljekomittee vir gesondheid sê sommige instansies se versuim om parlementêre vergaderings by te woon is ‘n duidelike aanduiding dat hulle geen respek vir die wetgewer en die publiek het nie. ‘n Geskeduleerde vergadering met die portefeuljekomitee is gister uitgestel, nadat sommige van die instansies wat genooi is nie opgedaag het nie. Die mediese fakulteite van die Universiteite van die Vrystaat, Pretoria en Wits is onder hulle. Die vergadering is uitgestel omdat die Universiteite van Kaapstad, Stellenbosch, KwaZulu-Natal, Limpopo en Walter Sisulu opgedaag het, maar nie voorleggings voorberei het nie.

 

‘n Parlementslid van die Demokratiese Alliansie, Masizole Mnqasela sal na verwagting vandag in die Wynbergse streekshof in die Kaapse Skiereiland verskyn op ‘n aanklag van verkragting. Mnqasela se saak is ‘n paar weke gelede van die landdroshof af oorgeplaas. Hy is op 500 rand borgtog vrygelaat. Mnqasela is in Junie in hegtenis geneem en het nog nie gepleit nie.

 

Die Amerikaanse stad, New York oorweeg streng wetgewing wat rokers uit openbare parke, strande en die bekende “Times Square” sal verbied. Dit is een van die mees ambisieuse opelug-rookvrye pogings in Amerika. Raadslede het gister aangekondig dat hulle New York se rookverbod wil uitbrei om een-duisend-700 parke, voetganger-plaza’s en 22 kilometer se kuslyn rookvry te kry.

Bron:RSG