Geen einde in sig vir staatsdiens staking
Die staatsdiensstaking gaan vir die derde week voort, nadat die meerderheid van vakbonde wat by Cosatu geaffilieer is die regering se nuwe salarisverhogingsaanbod verwerp het. Die hoof-sekretaris van Cosatu, Zwelinzima Vavi sê vakbondlede is kwaad, en bereid om verder te staak vir wat hulle toekom.
Lede van Cosatu gaan vanoggend ‘n optog deur die middestad van Johannesburg hou om ‘n lys van besware aan die stad se Hooggeregshof sowel as die Gautengse Departemente van Finansies en van Behuising te oorhandig. Die optog sal om nege-uur by die Mary Fitzgeraldplein begin en sal na verwagting teen sowat drie-uur ten einde loop.
Vroeër het al die takke van die land se grootste onderwysersvakbond – Sadou – eenparig besluit om die jongste aanbod te verwerp. Lede van Sadou sal vandag plakkaatoptogte by skole in die Wes-Kaap hou. Die Wes-Kaapse voorsitter van Sadou, Bongani Moyana sê die protesoptogte sal by spesifieke skole gehou word.
Short URL: http://www.koerant.co.za/?p=1441