Subscribe by Email

Nuus-komkommer-taar: Nie meer wat dit was nie

Die ouer nuusmense sal dit goed onthou – daardie tyd van die jaar wanneer nuus min of meer opdroog, bekend as komkommertyd.

Veral die binnelandse lesers van koerante sou dit in frustrasie ervaar – die koerante wat plankdun raak, met foto’s wat al hoe groter geplaas word. Nuus wat andersins skaars die koerant sou haal, soos ‘n klein winkeldiefstalsakie, word sommer yslike berigte…

Die ongelukkige joernaliste aan diens se grootste werk daardie tyd van die jaar was om hul dagtake te begin deur die polisie te bel om te verneem na die jongste misdaadstand, die verkeersowerhede oor waar die vakansie-padsterftesyfer staan, en die Bloeddiens om te hoor hoe ernstig die krisis dan is. Boonop val dit ooreen met wanneer die mid-Somerdroogte ‘n groot deel van die ninneland tref en mens, dier en plant laat noustrop trek. Kwalik die soort nuus wat lesers wat in ‘n Kersstemming is sou inspireer om koerant te koop.

Die moderne tegnologie het egter baie daarmee te make dat nuus nie meer so opdroog nie. Iewers in die wêreld gebeur daar iewers iets wat die nuusvoorsiensers soos Reuters en AFP die wêreld instuur. ‘n Goeie voorbeeld is die nuus dat Kim Jong Il, Noord-Koreaanse diktator, gister oorlede is. Hoewel die Noord-Koreaanse owerhede die nuus eers vandag bekend gemaak het, was daar vanoggend om 07:00 Suid-Afrikaanse tyd reeds 153 000 Google-trefslae vir “Kim Jong Il dies”.

‘n Goeie voorbeeld van nuus wat nou gepubliseer sal word, wat gewoonlik nie die paal sou haal nie, is die ligte aardtrillng by Augrabies wat tot in Upington gevoel is. Dié trilling het nie eens die USGC se lys van aardbewings van M4.5 of sterker gehaal nie – wel ene van 4.9 in die see suidoos van die land.

In die binneland neig die koerante steeds om baie dunner te wees, maar die hoofrede is nie die beskikbaarheid van min nuus nie, dit is eerder ‘n geval dat die adverteerders oordeel hul kliënte sit nou langs die see.

Hoewel die ekonomiese klimaat en duur brandstof, asook misdaadvlakke meer mense Jan Tuisby se karretjie laat ry, is die hoofrede dat binnelandse koerante steeds dunner word, en foto’s groter geplaas word nie die onbeskikbaarheid van nuus nie. Koerante se personeel word self deur die vakansietyd getref, en die vertalers is minder, die subkantoor is uitgedun, die proeflesers minder – dus ‘n kleiner vermoë om ‘n groot volume nuus vir veral Afrikaanse koerante persklaar te kry.

Sekere instansies wat afhanklik van die media is, benut dus die geleentheid ook goed. Politieke partye wat deur die jaar “all English” is sal skielik hul boodskappe soos Versoeningsdag-, Kers- en Nuwejaarsboodskappe ook van ‘n keurige Afrikaanse teks elektronies voorsien. Dié boodskappe is dikwels al lank voor die aanbreek van die komkommertyd voorberei, en iemand is bloot getaak om dit op die regte tyd met die druk van ‘n knoppie na al wat media wat nog ‘n teken van lewe toon te stuur. Knip en plak en siedaar, selfs die mees junior verslaggewer lewer ‘n pronkstukkie.

Die post-1994-bedeling het egter ook gesorg dat die land self nou veel meer belangrike nuus lewer. So ‘n voorbeeld is die ANC se provinsiale kongres in Limpopo, waar die premier, Cassel Mathale, tot leier herkies is. Dié verkiesing is belangrik aangesien Mathale as die vernaamste speerpunt beskou word om pres. Jacob Zuma se presidentskap na ‘n enkele termyn te kelder. Met die aanvang van die kongres, het Mathle dit ook duidelik gemaak hoe die wind waai deur besluite wat voor Zuma se deur gelê word te kritiseer, soos die besluit om Julius Malema te skors, om vyf departemente van die provinsie onder administrasie te plaas en Suid-Afrika se buitelandse beleid – indien so iets hoegenaamd bestaan – te kritiseer.

Wat dus die naweek gebeur het, kan moontlik die duidelikste keerpunt wees wat toon dat Zuma se presidentskap besig is om soos dié van Thabo Mbeki, op die rotse te loop, en op die minste dat die bakleistreep nou vir die ANC in die sand getrek is.

Dié nuus het selfs Zuma se jaareindtoespraak oorheers, ‘n toespraak wat veronderstel is om belangrike aanduiders vir die toekoms te gee. In plaas van die toespraak haarfyn te ontleed, ignoreer die analiste dit min of meer … die noodwendige gevolg van iemand wat daarin spesialiseer om selfs sy staatsrede met nikseggendhede en onwaarskynlikhede lyf te gee.

Trouens, die dood van Kim Jong Il sal waarskynlik in die komende dae veel meer aandag van nuuskommentators geniet.

Saam met Sirië waar die Arabiese Bond geduld met die Assad-diktatuur aan die verloor is, en die dodetal bly styg, sal ‘n paar diktators sorg dat die wêreld steeds nuus het.

Koerante, wat wêreldwyd oor die algemeen knyp, kan egter nie werklik waag om te veel oor die Kerstyd af te skaal nie. Nuusverslaafdes sal eenvoudig die internet opsoek om vas te stel wat wêreldwyd aangaan, en koerante sal die gevaar loop dat dit die lesersuittog na die elektroniese media sal versnel.

Opgestel vir MaroelaMedia

Herman Toerien