Subscribe by Email

Novak Djokovic dring deur na die halfeindronde in New York

GTY_Novak_Djokovic_mm_160118_12x5_1600Die Amerikaanse Ope se verdedigende kampioen, Novak Djokovic van Serwië, is deur na die halfeindronde nadat Jo-Wilfried Tsonga van Frankryk die wedstryd weens ‘n besering nie kon voltooi nie. Djokovic was voor met 6-3 en 6-2 toe Tsonga die baan met ‘n kniebesering verlaat het. Die Serwiër het net twee van vyf wedstryde voltooi en voordeel getrek uit ‘n wegholoorwinning en twee teenstanders se onttrekking. Hy sal nou teen nog ‘n Fransman, Gael Monfils, te staan kom wat sy landgenoot, Lucas Pouille met 6-4, 6-3 en 6-3 afgeransel het.

In die vroueafdeling het die wêreld se nommer-twee-speler, Angelique Kerber van Duitsland, afgereken met Italië se Roberta Vinci met ‘n telling van 7-5 en 6-0. Denemarke se Caroline Wozniacki het die beseerde Anastasija Sevastova van Letland met 6-0 en 6-2 geklop om deur te dring na haar vyfde halfeindstryd by die Amerikaanse Ope. Wozniacki, wat al twee keer die eindstryd gehaal het en ongekeurd is in New York, sal nou teen Kerber te staan kom vir ‘n plek in Saterdag se eindstryd.