Subscribe by Email

Nooddiens werkers aangeval en verkrag!

Nie eers in ‘n oorlog sone, word ambulanse wat na gewondes moet omsien, aangeval nie, maar in die geteisterde misdaad oorvalde Suid-Afrika, is tot verpleeg personeel, aan diens, wat uit is op ‘n noodgeval, aangeval en verkrag deur gewetenlose geweld misdadigers.

Twee vroue is Vrydagaand aan diens onderskeidelik verkrag en onsedelik aangerand terwyl hulle ’n seuntjie met brandwonde probeer help het. Die twee vroue, tussen die ouderdom van 25 en 35, is omstreeks 21:45 na Hoofrifweg in Roodepoort aan die Wes-Rand ontbied deur ’n ma wie se seuntjie brandwonde opgedoen het.

Kort daarna het drie gewapende mans uit die bosse langs die pad verskyn. Die nooddienswerkers is toe met vuurwapens aangehou en in die bosse ingesleep waar hulle onderskeidelik verkrag en onsedelik aangerand is. Hulle het sowat 200 m van die Milestoker-sirkel in die veld gelê en het nog hul nooddiens-uniforms aangehad. Dis nog nie duidelik of hulle beroof is en ander beserings opgedoen het nie.

Die gewapende mans het ná die aanval met die ambulans gevlug en die voertuig is later verlate in die omgewing gevind. Die vroue was nog te getraumatiseer om polisie-verklarings af te lê.

Die aanvallers is steeds op vrye voete. Dis die derde onlangse voorval waar nooddienswerkers misdaadslagoffers word.