Subscribe by Email

Nog pekel vir Malema

AfriForum Jeug het vandag gesê die ANC-jeugliga se verskoning teenoor die Indiër-gemeenskap vir die gebruik van die woord “makula” dui op ‘n rassistiese vooroordeling teenoor wittes in Suid-Afrika.

Die jeugliga het vandag namens hul leier, Julius Malema, om verskoning gevra vir die gebruik van dié neerhalende woord. Die term is onlangs in ‘n toespraak gebruik waar Malema verwys het na die Indiër-gemeenskap wat van Suid-Afrikaanse herkoms is. Nadat die Indiër-gemeenskap aangedui het hulle is ontevrede met sy uitlating, het die jeugliga vanmiddag erken dat die term aanstootlik kan wees en dat hulle dit nie weer sal gebruik nie.

Volgens Charl Oberholzer, nasionale voorsitter van AfriForum Jeug, dui dit op dubbele standaarde.

“Afrikaner-gemeenskappe het byna twee jaar lank herhaaldelik aangedui dat hulle die lied waarin die woorde “skiet die Boer” voorkom, aanstootlik vind, maar Malema en die jeugliga verdedig tot vandag toe hul reg om dié lied te sing. Boonop maak Malema gereeld neerhalende uitsprake teenoor wit mense in Suid-Afrika. Dit is duidelik die jeugliga het dubbele standaarde,” het Oberholzer gesê.

“Malema se neerhalende verwysing na die Indiër-gemeenskap spreek van sy meerderwaardigheidskompleks teenoor ander gemeenskappe. Dit is kommerwekkend dat Malema bereid is om vir sekere gemeenskappe verskoning te vra, terwyl hy botweg weier om selfs net erkenning daaraan te gee dat daar ander rasse is wat aanstoot neem teen sy uitlatings.”

AfriForum Jeug sal waghond speel en verseker dat haatspraak in veral die politieke omgewing in Suid-Afrika uit die weg geruim word.