Subscribe by Email

Nog net tyd tot einde Mei om ou R 200.00 note in te ruil

In April is berig dat die Suid-Afrikaanse Reserwebank bekommerd is oor ‘n groot hoeveelheid vals 200 rand-note van die ou reeks wat in omloop is. Die bank sê die note het nie die nuwe opgegradeerde sekerheidskenmerke nie, en ‘n spesiale ondersoek is aan die gang.

Die president van die Reserwebank, Gill Marcus, sê alle ou reeks-note word aan sirkulasie onttrek. Mense word versoek om die note voor die einde van die maand by die naaste handelsbank om te ruil. Marcus sê 200 rand-note van die opgegradeerde reeks met haar handtekening of dié van haar voorganger, Tito Mboweni, daarop, bevat die vereiste sekerheidskenmerke en bly in sirkulasie.

Die publiek het nog net tyd tot die einde van hierdie maand (Mei) om enige van die ouer 200-rand note in te ruil by hul plaaslike handelsbanke. Vanaf volgende maand kan dit slegs omgeruil word by takke van die reserwebank self.

Vir enige navrae of inligting hieroor, kan Samantha Henkeman gekontak word by 012 313 4669

Meegaande illustrasie vanaf die “Consumer Goods Council” van SA gee ’n basiese aanduiding waarvoor mens kan waak om agter te kom of jou 200-rand noot vervals is. Klik op die foto om dit te vergroot.