Subscribe by Email

Nog ‘n segment van ‘n Inkapad gevind

Argeoloë het nog ‘n segment van ‘n Inkapad in Peru gevind. Dit is in die omgewing van die ou Inkahoofstad, Cuzco, en was vir ongeveer 500 jaar verlate. Dit is 4,3 kilometer lank en 1,7 meter wyd, en is onder meer met dreineringstelsels en keerwalle toegerus.

Die Inkas se paaie het saam ongeveer 40 000 kilometer beslaan, en het van Ecuador tot in Argentinië en Chili gestrek, en ook deur Bolivia geloop.

Die langste roete was die Qhapaq Ñan wat 6 000 kilometer ver langs die kruin van die Andes geloop het.

Die paaie se wydte het baie verskil – van  een tot 4 meter wyd, en baie trappies bevat (die Inkas het nie die wiel geken nie), deur tonnels gegaan en verskeie soorte brûe is ingespan. In bergagtige dele is keerwalle dikwels aangebring om oorstromings en grondstortings te keer. In woestyndele is daar dikwels muurtjies weerskante aangebring om te keer dat sand die pad bedek.

Van die paaie loop hoër as 3 500 meter bo seespieël en bied uitdagings aan stappers wat dié skilderagtige roetes aanpak. Oor die algemeen laat die Peruviaanse owerhede nie meer as 500 stappers per dag op ‘n roete toe nie.

Die pad wat pas gevind is sal na verwagting oor sowat 2 jaar vir stappers oopgestel word.

Foto: ‘n Deel van die pad wat pas ontdek is.

Bronne:

http://www.hispanicallyspeakingnews.com/notitas-de-noticias/details/new-section-of-inca-trail-discovered-in-peru/17056/

http://en.wikipedia.org/wiki/Inca_road_system

 Herman Toerien