Subscribe by Email

Nóg ʼn kind ontvoer en vermoor

Solidariteit Helpende Hand eis dat die regering beveiligingstrukture in minderbevoorregte gemeenskappe opskerp nadat nóg ʼn kind se lyk gisteroggend in ʼn veld in Springs aan die ooste van Johannesburg gevind is. Die oproep volg nadat die vierde kind sedert Sondag uit ʼn minderbevoorregte area ontvoer is.

In dié voorval het ʼn sesjarige meisie laat Maandagmiddag uit haar tannie se huis vermis geraak. Sy is die laaste keer gesien waar sy die huis saam met ʼn familievriend verlaat het. Die 34-jarige man is kort ná die voorval in hegtenis geneem. In ʼn soortgelyke voorval is ʼn negejarige kind gevind ure nadat sy in Boksburg vanuit haar ouerhuis vermis geraak het. Volgens die misdaadvoorkomingsorganisasie eBlock Watch is sy laat gistermiddag gevind.

Dié voorvalle volg ʼn dag nadat die lyk van Lazanne Farmer (14) in Elandspoort, Pretoria-Wes gevind is nadat sy en haar 16-jarige vriendin Sondagoggend in Elandspoort ontvoer is. Lazanne is dood toe sy uit ʼn bewegende bakkie gespring het om van die 28-jarige ontvoerder te ontsnap. Haar 16-jarige vriendin is kort daarna in ʼn beboste gebied langs die Hennopsrivier verkrag.

Volgens die ma van die 16-jarige word jong meisies in die gemeenskap gereeld lastig geval deur skoorsoekers. “Ek het nie ʼn kar om my kinders rond te ry nie – hulle moet stap waar hulle wil wees. My ander 12-jarige dogter stap ook elke dag skool toe. Ek voel magteloos.”

Danie Langner, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpend Hand, sê kinders in minderbevoorregte gemeenskappe is oor die algemeen meer blootgestel aan mishandeling, verwaarlosing en uitbuiting. “Gewetenlose misdadigers teiken juis die kinders omdat hulle ouers eenvoudig nie kan bekostig om vir toesig oor hulle kinders te betaal of iemand te kry om hulle te vervoer nie. Hoeveel kinders moet nog sterf voordat die regering optree teen kinderverkragtings en ‑ontvoerings?” vra Langner.

Volgens hom is misdadigers laks omdat die meeste aangemelde kinderverkragtingsake deur die mat val nadat kinderbeskermingseenhede in 2006 uitgefaseer is. Volgens die regering sou hierdie uitfasering die diens meer toeganklik maak vir gemeenskappe. Sedertdien het die persentasie skuldigbevindings ten opsigte van kindermisdaad drasties afgeneem.

Ten spyte van ministers se beloftes verlede jaar dat kinderbeskermingseenhede heringestel gaan word, is daar die afgelope jaar nog geen tydsraamwerk aan die publiek deurgegee of ʼn plan in plek gesit vir die herinstel van die eenhede nie.

Volgens Helpende Hand se Kindermisdaadverslag wat verlede jaar vrygestel is, is 1 410 sake van kindermoord in 2007/2008 in Suid-Afrika aangemeld. Dit beteken dat ongeveer vier kinders elke dag in Suid-Afrika vermoor word. Volgens die Suid-Afrikaanse Polisiediens se webblad is daar verlede jaar 1 034 sake van kinderverwaarlosing in Suid-Afrika aangemeld.

“Wie gaan daarvoor verantwoordelikheid neem om kinders in arm gemeenskappe teen potensiële misdadigers te beskerm?” vra Langner. Volgens hom moet finansies nooit ʼn rede wees hoekom kinders nie in hulle eie gemeenskappe veilig is nie.

Feitelys oor verkragtings in SA:

  • Daar word elke 17 sekondes ʼn vrou in Suid-Afrika verkrag.
  • Ongeveer die helfte van hierdie verkragtings is kinderverkragtings.
  • Suid-Afrika het die hoogste getal aangemelde verkragtingsyfer ter wêreld.
  • Ongeveer 88% van verkragtings word nooit aangemeld nie.
  • Volgens ʼn verslag wat deur die Amerikaanse navorsingsmaatskappy Gallup en die internasionale intelligensie-agentskap Interpol uitgereik is, word een uit elke twee vroue in Suid-Afrika verkrag.