Subscribe by Email

Nog ‘n haatspraakklag oor lied

AfriForum Jeug het ʼn klag by die Suid-Gautengse hooggeregshof, sittend as die gelykheidshof, ingedien teen Tokelo Nhlapo, ʼn studenteraadslid aan die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) nadat hy ʼn aangepaste weergawe van die verbode “skiet die Boer”-lied gesing het voor die aanvang van ʼn toespraak oor ekonomiese vryheid deur Julius Malema.

Die verbode lied “Ayesaba amagwala” is saam met studente van Wits gesing, maar die woorde “dubula iBhunu” (“skiet die Boer”) is met die woorde “dubula lekgoa”, wat “skiet die wit mense” beteken, vervang.

“Dit getuig van uiterse swak leierskap om studente aan te hits om haatliedere te sing. Die studente het, deur hierdie lied te sing, uiting gegee aan hulle haat vir wit mense,” het Charl Oberholzer, nasionale voorsitter van AfriForum Jeug, gesê.

By navraag oor sy bedoeling met die sing van die lied het Nhlapo, wat ook ʼn lid is van die ANC-jeugliga, gesê dat hy verkies om nie te sê wat hy met die woorde bedoel nie. Die South African Students’ Congress (Sasco) se sekretaris-generaal, Lazola Ndamase, het gesê dat hy self sal aanhou om die lied te sing.

“Ten einde ʼn samelewing te skep waar alle Suid-Afrikaners met respek teenoor mekaar optree, is dit nodig om polariserende gedrag wortel en tak uit te roei,” het Oberholzer gesê.

Intussen het Sdumo Dlamini, president van Cosatu, te kenne gegee dat die lied soos haatspraak klink. Wits het met ʼn ondersoek na die beweerde sing van die verbode lied op die kampus begin, maar geen bevindinge is nog bekend gemaak nie.

“Wits se reputasie lei daaronder as massas van sy studente rassistiese liedere sing wat geweld teenoor wit mense aanspoor. Sulke verskynsels is skokkend in enige samelewing en daar is geen verskoning vir sulke arrogante optrede nie,” het Oberholzer gesê.

AfriForum Jeug wag tans om te hoor wat die datum is waarop die hof die saak sal aanhoor.