Subscribe by Email

Nog haatspraaksake teen Malema

Die Afrikanerbond verwelkom die Gelykheidshof se uitspraak in die haatspraakverhoor oor die gebruik van die woorde “dubula iBhunu” (skiet die Boer). Dit is ʼn eerste stap om mnr Julius Malema by name, maar ook ander politici en hoë profiel openbare figure, aanspreeklik te hou en te dwing om versigtig te wees met die gebruik van sekere woorde.
Die rassekaart, gebaseer op haat, agterdog en leuens, word nou te gereeld gespeel. Die noodwendige gevolge is dat die Suid-Afrikaanse gemeenskap ʼn al hoe meer rasgelaaide en verdeelde gemeenskap word. Rassisme – van watter kleur ook al en in watter vorm ook al moet onvoorwaardelik verwerp word.
Die volgende stap is nou dat die Mensregtekommissie die uitsprake van mnr Malema evalueer en beoordeel aan die Handves van Regte. Tot dusver is 510 klagtes, waaronder die sing van die lied en ander haatspraak, teen mnr Malema by die Menseregtekommissie ingedien deur organisasies en individue (wat georganiseerde landbou en politieke partye insluit). Ons inligting is dat die Nasionale Vervolgingsgesag se provinsiale hoofde van die provinsies waar die uitsprake deur mnr Malema gemaak is, die nodige toestemming verleen het vir ʼn ondersoekende verhoor deur die Menseregtekommissie waarin mnr. Malema gedagvaar sal word om te getuig.
Die Afrikanerbond het ook reeds ʼn vergadering gehad met die Menseregtekommissie en mnr Malema se regsverteenwoordigers om proses en prosedure te bespreek vir die ondersoekende verhoor. Die datum moes op daardie stadium nog bepaal word maar dit het voorgekom asof daar gewag is vir die uitspraak in die Gelykheidshof. Dit het nou gebeur en is ʼn eerste treë vir die herstel van nie-rassige waardes gegee.
Die Afrikanerbond se uitgangspunt is dat die uitsprake van mnr Malema wat sedert 2009 gemaak is diep verdelend is vir die Suid-Afrikaanse samelewing sowel as ʼn ondermyning van die grondwetlike waardes waaronder ʼn nie-rassige samelewing en die demokratiese waardes van menswaardigheid, gelykheid en vryheid. Die uitsprake is ook ʼn bedreiging vir veiligheid en sekuriteit, nie net persoonlike veiligheid nie maar ook staatsveiligheid met rewolusionêre oproepe. Hierdeur word die soeke na ʼn nasionale eenheid ongedaan gemaak. Indien Suid-Afrika wil aanspraak maak op ʼn nie-rassige demokrasie sal daar ernstig besin moet word oor die openbare uitsprake wat gemaak is en die voortdurende skending van menseregte. Die Menseregtekommissie, as grondwetlike instelling, sal deur die ondersoekende verhoor wat nou moet volg en hopelik ʼn sterk beslissing in die verbind, help om nie-rassigheid, soos wat dit deur die grondwet voorsien word, te verskans.
Waar daar in normale demokrasieë ʼn verwagting is dat individue en politieke leiers deur hulle onderskeie politieke partye tot verantwoording geroep sou word, het dit in mnr Malema se geval nie gebeur nie. Selfregulering in politieke partye, ten einde dissipline en orde toe te pas was merkbaar afwesig in die ANC en daarom die noodsaak vir organisasies in die burgerlike samelewing om hulle tot die howe te wend. Daarom is die uitspraak deur die Gelykheidshof ʼn eerste, maar broodnodige stap, om individue aanspreeklik en verantwoordelik te hou. Ons is van mening dat die toename in rassistiese ondertone, haatspraak en opruiende rasgebaseerde uitsprake deur verdere streng beslissings deur die Suid-Afrikaanse Mensregtekommissie beperk kan word.