Subscribe by Email

Nog drama by die SAUK

SABC-sinkingDrie senior joernaliste wat ‘n brief aan die SAUK se hoof bedryfsbeampte, Hlaudi Motsoeneng, geskryf het en waarin hulle aandui dat hulle ongemaklik is met die jongste redaksionele besluite, is daarvan aangekla dat hulle met die media saamwerk sonder toestemming van hul hoofde. Hulle is Busisiwe Ntuli, Krivani Pillay en Jacques Steenkamp. Die SAUK het ook die drie joernaliste, wat onlangs geskors is, minder as 24 uur tyd gegee om voor ‘n dissiplinêre komitee te verskyn. Foeta Krige, Suna Venter en Thandeka Gqubule word daarvan beskuldig dat hulle nie met die korporasie se sensuur-opdragte geïdentifiseer het nie.

Die Demokratiese Alliansie het die ANC se hoofsweep, Jackson Mthembu, gevra vir ‘n ongewone vergadering van die parlementêre komitee oor kommunikasie. Die party sê hy wil, soos hy dit noem, die kommerwekkende gekonkel by die SAUK wat nou te ver gegaan het, bespreek. Woordvoerder Phumzile van Damme sê die parlement kan nie die blatante verwerping van vryheid van spraak en die media by die openbare uitsaaier ignoreer nie. Sy sê die parlement het lank genoeg stilgebly terwyl Motsoeneng en sy bende die openbare beskermer kaap vir kleinlike politieke belange.

Van Damme sê die SAUK se optrede van die afgelope paar maande kan net beskryf word as sensuur, en die DA sal nie ophou om te eis dat Motsoeneng onmiddellik afgedank word nie.