Subscribe by Email

Nog aardskeerders “besoek” aarde

Die Engelse spreekwoord wat lui, “It never rains but it pours” het blykbaar vir die aarde in die vorm van besoekende asteroïde waar geword.

Slegs enkele dae nadat ‘n asteroïde, 2013 EC 370 000 “slegs” 370 000 kilometer van die aarde af verby is, kry die aarde die naweek besoek van nog ‘n aardskeerder, 2013 ET, wat 960 000 kilometer van die aarde af verby gaan vlieg.

Die nuwe besoeker is so groot soos ‘n rugbyveld.

Hoewel daar ontsteltenis onder wetenskaplikes is dat die jongste twee besoekers eers enkele dae gelede ontdek is, hou nie een gevaar vir die aarde in nie.

Die aarde het onlangs ‘n besoeker gehad wat veel nader verbygeskuur het. Die asteroïde 2012 DA 14, die helfte van die grootte van ‘n rugbyveld, het net 35 000 kilometer van die aarde af vebygeskuur. Dit is nader aan die aarde as die wentelkbane van geostasionêre satelliete. Dit het saamgeval met ‘n meteoor van sowat 17 meter wat oor Rusland in die atmosfeer ontplof het.

‘n Kanadese teleskoop wat in ‘n groot tas pas en ‘n spieël van sowat 15 cm het, is onlangs van ‘n Indiese vuurpyl af gelanseer om asteroïde naby die aarde te vind. Hy sal veral ruimtevoorwerpe soek wat naby die son wentel, wat dit vir ander teleskope moeilik maak om hulle te vind.

Dit maak deel uit van die program om voorwerpe te vind wat die gevaar inhou om met die aarde te bots.

Ruimtewetenskaplikes meen hulle het tot dusver daarin geslaag om sowat 90 persent van die geraamde 1 000 voorwerpe naby die aarde te vind, en wat sowat ‘n kilometer of groter in deursnee is.

Die probleem is dat veel kleiner ruimtevoorwerpe aansienlike skade kan aanrig, soos die voorwerp van sowat 17 meter in deursnee wat oor Chelyabinsk in Rusland in die atmosfeer ontplof het. Sowat 1 500 mense is beseer.

Die Kanadese teleskoop sal veral op twee groepe asteroïde fokus, die Atens en die Atiras. Hul wentelbane in binne dié van die aarde s’n, maar die Atens se kruis af en toe die aarde se wentelbaan. Die Atens hou na raming egter net sowat 10 tot 15 persent van die totale asteroïdebedreiging vir die aarde in.

Foto: So lyk die klein teleskoop, bekend as NeosSat