Subscribe by Email

Nog ‘n satelliet stort binnekort op aarde neer

Die Berliner Umschau berig vanoggend dat die Duitse X-straalteleskoop-stalliet, Rosat, nou gouer na die aarde gaan terugval as wat aanvanklik verwag is. Stukke van tot 400 Kg kan moontlik tussen 18 en 30 Oktober op die aarde neerstort, na aanvanklik verwag is dat dit in November sou val. Verhoogde sonaktiwiteit word as rede vir die haastiger terugval aangegee.

Rosat, ‘n afkorting vir Röntgensatellit, is in 1990 vir ‘n 18 maande missie gelanseer, met die moontlikheid dat dit vyf jaar lank sou kon funksioneer. Dit het uiteindelik agt jaar lank gewerk.

Dit beteken dat ‘n tweede satelliet in minder as ‘n maand na die aarde gaan neerstort. Onlangs het die Amerikaanse UARS sonder insident na die aarde neergestort.

Hoewel UARS so groot soos ‘n kleinerige bus was, heelwat groter as Rosat, is nie verwag dat brokstukke van meer as 130 Kg die aarde sou tref nie. Die rede dat groter brokstukke nou op die aarde verwag word is dat Rosat grootliks uit meer hittewerende materiaal gebou is, soos keramiek, en dus nie so erg in die atmosfeer sal uitbrand nie. Grafika: Wikipedia