Subscribe by Email

Nog ‘n klap na die media

As mnr. Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, korrek is dat die media, veral gedrukte media, die ANC se grootste opposisie in die komende verkiesing is, beteken dit eintlik dat die ANC sy eie grootste opponent is.
Dit is immers die taak van die media om die kiesers oor die nuus op die hoogte van sake te hou.
Trouens, in ‘n veelpartydemokrasie, speel die media ‘n onontbeerlike rol om kiesers op die hoogte te hou van die opsies wat hulle het wanneer hulle hul kruisies op die stembrief trek.
Daar het altesaam 121 partye en ‘n aantal onafhanklike kandidate vir die komende verkiesing gestem. Dit spreek vanself dat al 121 partye nie gelyke blootstelling in die media gaan kry nie. Die media moet beoordeel wat is die mees nuuswaardige, en faktore soos die grootte van die nuusmakende party, die nuuswaardigheid van die nuus, die keurigheid waarmee dit aangebied word, en die tale waarin dit doeltreffend na die media versprei word, gaan ‘n groot rol speel.
Met die opkoms van gemeenskapsmedia, en die gevolglike effektiewe afwesigheid van vertalers in ‘n groot deel van die gemeenskap se mediablootstelling, is dit byna ondenkbaar dat partye met ‘n sinvolle ondersteunersbasis hul mediaverklarings slegs in een taal uitreik. Groter partye wat nie hierin belê nie, moet dus nie kla as kleiner partye in veral die gemeenskapsmedia behoorlik vlerke kry, omdat hulle wél hierdie werklikheid erken nie. Deur die internet kan ‘n klein party wat veeltaligheid inspan, se boodskap letterlik deur ‘n Afrikaanssprekende op besoek aan Rusland gelees of gehoor word.
Verder is sommige partye slegs streeksgebonde, en selfs in kleiner areas. Nasionale media sal sulke partye nie werklik kan dra nie, en is hulle grootliks op die plaaslike gemeenskapsmedia aangewese.
Sommige media maak geen geheim daarvan nie dat hulle sekere partye steun. Dit, in ‘n demokrasie, is hul reg hoewel dit moontlik handels-selfmoord is.
Mantashe en ander sal ook die les gou ter harte moet neem dat dit nie wys is om skoor te soek met hulle wat hul ink by die konka aankoop nie.
Nog minder as jou hande nie skoon is nie.
Dit is immers nie die media wat die werklikheid geskep het wat op die vooraand van die plaaslike regeringsverkiesing die negatiewe beriggewing oor die minister tot gevolg gehad het nie.
Die media het geen aandeel in die wyse waarop Suid-Afrika die kwessies in Zimbabwe, die Ivoorkus en Libië hanteer nie. Die media het byvoorbeeld nie die regering aangehits om in weerwil van ‘n wetlike verbod dat wapens nie aan lande wat menseregte onderdruk, aan Libië en Sirië te verkoop nie. Die situasie in Sirië, wat sedert die 60’s onder ‘n noodtoestand regeer word, is immers geen geheim nie, ook nie dat dit op die lys van terreurlande verkeer nie.
Dat Suid-Afrika nou deur politieke analiste beskryf word as ‘n land waar korrupsie endemies geword het, het gebeur ten spyte van, en nie as gevolg van die media-aandag hieraan nie.
Dit is nie die media wat Jimmy Manyi as regeringswoordvoerder aangestel het nie.
Dit is nie die media wat pres. Jacob Zuma, na hy deur al die beduidende kerke gelooi is, voorgesê het om weer godsdiens-aanstootlikhede kwyt te raak nie.
Dat verskeie stede en dorpe in riool en onverwyderde vullis verstik, is ook nie die media se skuld nie.
Dit is ‘n gesoute ANC-ondersteuner, dr. Jakes Gerwel, wat in Rapport geskryf het die ANC mag dalk ‘n vrotsige regering wees, maar dat dit nie reg is om die party as ‘n landsvyand voor te hou nie.
Die media skep ook nie die verdoemende Ouditeur-generaalverslae nie, hulle berig net daaroor.
Sonder ‘n vrye media is ‘n demokrasie lam, selfs al is daar veelpartyverkiesings, want oningeligte kiesers is vir ‘n demokrasie ‘n groter gevaar as bate.
Enkele jare gelede het Suid-Afrika die 21ste plek op die internasionale persvryheidsindeks beklee, en was die mees persvrye land in Afrika. Verlede jaar, na soortgelyke aanvalle op die media, het Suid-Afrika op een slag met 5 posisies tot die 38ste plek teruggesak, en is die lank nie meer die mees persvrye land op die kontinent nie. Terselfdertyd het Freedom House Suid-Afrika tot slegs gedeeltelik persvrye land geherklassifiseer.
Hoe laer ‘n land op die persvryheidsindeks is, hoe sterker is die opwaartste druk op die korrupsie-persepsieindeks, en dit beïnvloed weer ‘n land se posisie op die beleggersvertroue-indeks.
Mantashe moet weer mooi dink oor wie nou eintlik die land se belange dien.