Subscribe by Email

Nie alle polisiemanne kan omgekoop word nie

Twee lede van die polisie se Valke, kon vandag kits miljoenêrs gewees het as hulle die 2 miljoen rand omkoop poging van ’n Port Elizabethse dwelmhandelaar aanvaar het.

Net een probleem en dit is dat die beweerde Port Elizabethse dwelmhandelaar die verkeerde twee polisiemanne gekies het om om te koop. Hy betaal nou ’n ander prys terwyl hy in die Port Elizabeth tronk sit en wag op sy eerste hofverskyning.

Die 54 jarige beweerde smokkelaar se arrestasie eergisteraand, kom na maande se ondersoek teen hom deur die Valke. Volgens ’n woordvoerder, Brigadier Marinda Mills, het die Valke letterlik 24 uur per dag in die bos gesit en wag om hom vas te trek. Die regte geleentheid het hom voorgedoen net na 10 uur op Dinsdagaand, toe die Valke die verdagte se pakhuis in Redhouse, Port Elizabeth, binnegegaan het. Hulle het die man in besit van mandrax tablette gevang. Die man het aangebied om die twee lede van die Valke elk 1 miljoen rand te betaal as hulle hom sou los.

Die verdagte het die twee polisiemanne gevra om hom na sy huis te vergesel, waar hy hulle R 800 000 in kontant aangebied het as deposito. Volgens Mills is hierdie bedrag ongeveer vyf maal hulle jaarlikse salaris, wat hulle nou in hul hande vasgehou het. Die twee polisiemanne het egter net nog ’n klag bygevoeg op die klagstaat, vir omkopery, in plaas van om in te gee tot so ’n groot versoeking.

Die Valke het beslag gelê op 150 000-mandrax tablette, 3 luukse voertuie, ’n 9mm pistool en 14 rondes ammunisie.