Subscribe by Email

Nersa-verhoor: VF Plus beskuldig Eskom en die regering van verbreking van die Eskom-oorgangswet

Die Vryheidsfront Plus het vandag in sy skriftelike voorlegging aan NERSA vir ESKOM en die ANC-regering daarvan beskuldig dat hulle in stryd met artikel 6(5) van die ESKOM-oorgangswet 13 van 2001 optree deurdat die aandeelhouersooreenkoms tussen ESKOM en die regering nie voorsiening maak vir die verskaffing van bekostigbare elektrisiteit soos in die betrokke artikel uitgespel nie. Artikel 6(5) spesifiseer dat die minister van openbare ondernemings bekostigbare elektrisiteit as ‘n faktor in die voorgeskrewe aandeelhouersooreenkoms moet insluit. Dit blyk egter uit ESKOM se finansiële jaarverslag van 2012 dat geen sodanige faktor as ‘n sleutel prestasie area genoem is nie.

“Die effek hiervan is dat beide die regering en ESKOM nie bekostigbare kragvoorsiening as prioriteit sien nie en dat ESKOM se sogenaamde prestasies nie beoordeel word aan die hand van hulle mandaat as nutsmaatskappy om die publiek te dien nie,” het adv. Anton Alberts, VF Plus-parlementêre woordvoerder oor energie, gesê. “Die getuienis daarvoor is te vinde in die wyse waarop ESKOM gedurigdeur op die vuisvoos verbruiker staatmaak om sy uitgawes te finansier in plaas van op sy aandeelhouer, die regering, en self fondse verkwis op buitengewone hoë salarisse en bonusse vir die topbestuur en vrugtelose uitgawes soos die borgskap van The New Age-koerant se besigheidsontbyte,” het Alberts verder bygevoeg.

Gevolglik moet NERSA hierdie kwessie aanspreek, by gebreke waarvan ESKOM se onwettige tariefverhogingsaansoek deur die VF Plus in die parlement aangespreek gaan word. Indien dit nie slaag nie sal die VF Plus selfs saam met ander rolspelers die hof nader om die tariefverhogings te keer.