Subscribe by Email

Neptunus kry eerste kersie op die koek

Neptunus, ons son se verste erkende planeet, is nou “een jaar oud.”

Dié planeet het pas sy eerste omwenteling om die son voltooi na dit 165 jaar gelede ontdek is. Die planeet is in 1846 deur J. C. Galle ontdek, net ‘n dag na hy ‘n ander sterrekundige se berekenings ontvang het van waar die Neptunus hom moes bevind.

Al is die effek van die son se swaartekrag maar gering, en is die snelheid van die planeet stadig vergeleke met die plante nader aan die son, veral die binneplanete, kruie hy ook nie. Hy wikkel teen meer as 5 kilometer per sekonde in sy wentelbaan. Die aarde lê amper 30 kilometer in ‘n sekonde af.

En al is die planeet baie groter as die aarde – met ‘n ewenaardeursnee van byna 50 000 kilometer (die aarde se deursnee is minder as 13 000 kilometer), neem dit hom net 16 uur om om sy eie as te draai.

Neptunus het die status as die son se verste planeet verkry toe Pluto tot dwergplaneet afgegradeer is. Boonop is daar tye dat Pluto nader aan die son is as Neptunus omdat hul bane “kruis”. Die mees onlangse tydperk was in ons tyd – van 1979 tot 1999.

Al weerkaats Neptunus 84 % van die lig wat op hom val, moes sterrekundiges sy posisie wiskundig bereken voor hy opgespoor is. Sterrekundiges het waargeneem dat een van Uranus se mane ‘n afwyking in sy baan om die planeet het, wat net deur die swaartekrag van ‘n ander groot hemelliggaam veroorsaak kon word.

Neptunis se gemiddelde afstand van die son is ‘n raps meer as 4 500 miljoen kilometer (die aarde se gemiddelde afstand van die son is net minder as 200 miljoen kilometer), en dit is geen wonder dat dit moeilik was om hom op te spoor nie.

Herman Toerien