Subscribe by Email

Nederlandse telekommunikasie nou groen

Terwyl ‘n Suid-Afrikaanse selfoondiensverskaffer sy korporatiewe kleur na rooi verander, word die Nederlandse telekommunikasiebedryf groen.
Nederland se telekommunikasievoorsiener, KPN, het ‘n ooreenkoms met die Wêreldnatuurfonds gesluit om voortaan net “groen” elektrisiteit te gebruik wat bv deur windkrag, sonkrag of biomassa opgewek word.
KPN is vir sowat een persent van Nederland se elektrisiteitsverbruik verantwoordelik. Om perspektief te gee – sou KPN soos die ooreenkoms bepaal, ook sy kragverbruik oor tien jaar met twintig persent verminder, beteken dit dat genoeg krag bespaar word om die stad Delft ‘n jaar lank van krag te voorsien.
Altesaam 23 persent van KPN se krag word reeds deur die Prinses Amalia-windpark in die Noordsee opgewek.
Wêreldwyd is die telekommunikasiebedryf verantwoordelik vir 2 persent van die koolstof-vrystelling in die atmosfeer.
KPN meen dat die projek ‘n reuse bydrae tot Nederland se ekonomie sal maak.