Subscribe by Email

Nederlandse navorsers ontdek Suid-Afrika se rol in ystye

Noord-Europeërs, soos die Nederlanders, gaan dalk bietjie langer wag vir die volgende ystydperk.
Hoewel ‘n artikel wat hieroor handel nou eers in die wetenskap-tydskrif Nature, verskyn het, het van die outeurs van hierdie artikel al ‘n geruime tyd daarop gewys, en aangedring dat klimaatmodelle daarom aangepas moet word.
Die grondslag vir hierdie bevinding is dat van die warm water in die Indiese Oseaan na die koue Atlantiese oseaan “lek.” Dit staan formeel as die “Agulhas lek” bekend. Soms is die stroom warm water wat saam met die koue Benguela noordwaarts vloei sowat 300 kilometer wyd.
Oseanograwe van die Universiteit Utrecht en die Nederlandse Instituut voor Onderzoek der Zee (NIOZ) het saamgewerk aan die ondersoek. Een van die navorsers, prof. Wil de Ruijter, lewer ook ‘n lesing hieroor by Unesco se interegeringskommissie vir Oseanografie se kongres wat nou in Mauritius plaasvind.
Die Agulhas-lek is die eerste keer in 2004 deur ‘n span Nederlandse navorsers in Nature bespreek. In daardie stadium was baie van die gevolgtrekkings spekulatief.
Volgens die destydse navorsing vind die “lekkasie” bykans deurlopend plaas, maar soms minder, en soms meer. Die afwesigheid daarvan het ook grootliks met ystye saamgeval. Die sterker weergawe vind elke 20 000 jaar plaas, en hou skynbaar verband met die tolbeweging van die aarde – wat nie met die draai om die as verwar moet word nie. Elke 20 000 jaar val daar as gevolg van die tolbeweging meer sonlig op Asië, wat die Moesoenstelsel aanhelp, en dit skep weer ‘n “suigbeweging” wat die Agulhasstroom voed.
Bodemtoetse wat in die see aan die Suid-Afrikaanse kus gedoen is, het daarop gedui dat die Agulhas-lek reeds tydens ‘n ystyd begin toeneem, en dus heel waarskynlik ‘n groot rol speel by die beëindiging van die ystydperk.
Die teenwoordigheid van die “Agulhas-lek” word weer bepaal deur mikro-organismes in die seewater te toets. In die stroom van die “Agulhas-lek is meer plankton en ander mikro-organismes van tropiese spesies teenwoordig, terwyl die Benguela self Arktiese spesies dra. Die “lek” reageer ook nie soos verwag nie, en die navorsers het soms groot moeite gehad om dit op te spoor.
In 2004 het die navorsers toegegee dat hul navorsing en afleidings nog baie spekulatief is. Nou gaan die klimaatmodelle aangepas word. – Herman Toerien