Subscribe by Email

Nederlandse genadedood plaas fokus op staat en kerk

Uit die skemerte word die kwessie van staat en kerk onder die vergrootglas geplaas.

‘n Nederlandse dorp in Noord-Brabant, Liempde, het die toneel van kerklike en mediafokus geword na ‘n plaaslike Rooms-Katolieke priester geweier het om sterwensbegeleiding, en die begrafnismis te bedien aan ‘n lidmaat wat deur genadedood gesterf het.

Liempde is nie groot genoeg om ‘n eie munisipaliteit te hê nie, en lê in wat voorheen as Nederland se “donker kol” bekend gestaan het. Selfs toe die Verligting na die nabygeleë Eindhoven gekom het, het dit in Liempde net skemer geword. Met die verdeling van Nederland tussen die hedendaagse Nederland en België, is Brabant soos ‘n paar ander provinsies in die middel deurgesny. Soos by hul suidelike bure is die Rooms-Katolieke Kerk in Nederland se Brabant ook belangrik.

Brabants verskil van Nederlands ongeveer soveel soos Afrikaans van Nederlands verskil, en het ‘n paar jaar gelede hul eie Bybelvertaling gekry. By hierdie geleentheid het die afvaardiging uit Friesland ‘n hoër status geniet as die Nederlandse afvaardiging.

Met die Rooms-Katolieke Kerk wat streng teen genadedood gekant is, sou verwag word Liempde is die laaste plek waar iemand genadedood kan kies, en op ‘n simpatieke oor kan staatmaak.

Die plaaslike priester, Norbert van der Sluis het ook so gemeen.

Hy het streng volgens sy vertolking van die Katolieke se standpunt hieroor opgetree, maar die kerkbestuur is woedend, en wil ‘n nuwe priester hê. Toe Van der Sluis sy voet neergesit het, het die kerkbestuur aangedring dat ‘n ander priester die taak kom vervul, maar ook hier het Van der Sluis sy voet ferm neergesit. Die kerkbestuur het op ‘n verskoning van hul priester aangedring, en ‘n fondsinsamelingsveldtog vir die herstel van die kerkorrel gestaak.

Die Nederlandse media is woedend. Dae lank hamer die Nederlandse media al hierop, ook Trouw, wat homself as Christelike koerant beskryf. Onderhoude met Van der Sluis is aggressief en opsigtelik bevooroordeeld.

Volgens die Roomse kerkreg kon Van der Sluis sy kerkbestuur afgedank, en met ‘n simpatieke bestuur vervang het. So iets sou die situasie net vererger het.

In Nederland is genadedood algemeen. In 2009 het meer as 2 300 mense hierdie uitweg gekies, met u uiteraard geen aanduiding hoeveel Rooms-Katoliek was nie. Verskeie lande en ook deelstate in die VSA laat vrywillige genadedood toe. Dit word verskillend in verskillende lande se regstelsel beskryf. Die Nederlandse reg verskil van die ander deurdat dit “euthanasie” (die Nederlandse woord, bloot beskryf as die beëindiging van iemand se lewe deur ’n dokter op versoek van die pasiënt. Voorskrifte oor hoe erg en onomkeerbaar die lyding moet wees, ontbreek.

Die mediavertolking is duidelik: Die staat het wette gemaak, en die kerk moet daarby inval. Die kwessie van waar grense tussen staat en kerk in sekulêre state lê is dikwels nie baie duidelik nie, en nie in alle lande dieselfde nie. Oorwegend Moslem sekulêre state reageer dikwels ook anders as oorwegend-Christelike of post-Christelike lande op die kwessie.

Die VSA is ‘n goeie voorbeeld van hoe ver die absolute skeiding van staat en kerk gevoer kan word, waar selfs afstand tussen staat en godsdiens geplaas word. Die kontroversie van die beeld van die Tien Gebooie in ‘n regterkantoor wat as verbode beskou is, was een manifestasie, maar dit het later so ver ontwikkel dat ateïstiese groepe behoorlik op ‘n veldtog teen Christen-simbole – selfs soms onbedoeld – gegaan het. As ‘n kruis deel van ‘n monument uitgemaak het, en dit was in die openbare oog – selfs diep in ‘n toegesluite kerkerf, moes dit waai.

‘n Element daarvan was ook te sien in die veldtog om godsdiens uit staatskole te verbied, selfs al word daar vir verskillende godsdienste ruimte vir eie uitdrukking gelaat.

Tog het hierdie veldtog hom bloedneus geloop toe hulle, met die 50ste herdenking van die uitdrukking, “In God we trust” van Amerikaanse geld en ander simbole verwyder wou sien.

In Duitsland is Christelike godsdiensonderrig as verpligte vak na die Tweede Wêreldoorlog ingevoer, hoewel die verklaarde godsdiensvryheid die neem van die vak vrywillig maak. Die doel is om te voorkom dat ‘n moraliteitskrisis ontstaan soos wat die opkoms van die Nazisme moontlik gemaak het. Die afgelope jaar het leerlinge ‘n keuse tussen Christelike en Moslem-godsdiensonderrrig.

In Suid-Afrika is die volkslied in die Grondwet opgeneem, waarvan die eerste deel ‘n gebed is. ‘n Houding dat ander staatsinstellings weens die sekulêre staatsvorm nie ‘n Christelike karakter mag / kan aanneem nie, en nie in simboliek soos logo’s kan vervat nie, is dus nie juis nie.

In Sirië, so meen sommige bronne, is die 10 % Christene minder opgewonde oor die opstand teen die diktatoriale sekulêre bewind as die Moslems, juis uit vrees dat ‘n nuwe bedeling die Christene se reeds moeilike posisie nog verder sal bemoeilik. Onder die huidige bedeling waar belangegroepe eerder as partye (behalwe die Baath-party), verteenwoordiging in die parlement kry, het Christene soos ander godsdienste (hoofsaaklik Moslemfaksies) gereserveerde setels.

Die verdraagsaamheidsvlakke teenoor Christene het skerp in Irak afgeneem van die val van die Saddam-bewind, en Christenkerke loop gereeld deur.

In Turkye, bykans ‘n eeu reeds formeel sekulêr, het Christene besonder swaar gekry. Vroeg het die Christen-Armeneniërs en Christen-Assiriërs al onder volksmoorde deurgeloop. Turkye het pas eers wetgewing aanvaar wat dit vir Christen-gemeenskappe moontlik maak om hul kerkeiendomme terug te kry.

In Suid-Afrika, vanuit kerklike geledere, word twee strominge waargeneem. Die eerste is ‘n beskouing dat die kerk hom nie aan buitekerklike imperialisme skuldig moet maak nie, en die staat is die een terrein waar die kerk nie lyf moet kom rondgooi nie.

Hierteenoor die standpunt dat ‘n lidmaat nie net in die kerk ‘n Christen kan wees nie. Hy moet in sy ganse lewe – ook in sy huwelik, in sy gesin, in die skoolbeheerliggaam, by die werk, en ook wanneer hy sy kruisie in ‘n verkiesing van die staat trek, moet hy steeds ‘n Christen bly.

Dit kom min of meer ooreen met die staatsregtelike begrip dat ‘n staat se grondwet en handves van menseregte nie net ‘n vertikale werking het nie – dws van staat na burger, en burger na staat, maar ook ‘n horisontale werking het. Dit beteken sekere bepalings van die grondwet leen hom daartoe dat burgers onderling mekaar se grondwetlike regte moet eerbiedig en selfs help beskerm.

Dit, in kort, beteken ‘n nie-staatlike instansie wat volgens die beginsel van vrywillige assosiasie tot stand kom, kan nie praktyke invoer wat ongrondwetlik of onwettig is, deur aan te voer dis huishoudelik nie. As kerke hul lidmate wat dampies maak begin ophang, gaan die staat bepaald optree.

Net so het die kerk ook ‘n taak binne die staatswese, en staan in die algemeen as die kerk se profetiese roeping bekend. Dit is ook nie iets wat aan- en afgeskakel kan word nie.

Iets hiervan is bemerk toe pres. Jacob Zuma en ander politici tydens en selfs voor die verkiesingsveldtog uitlatings gemaak het wat deur baie as godslastering beskou is, en die kerke daaroor stem dikgemaak het. Daar was selfs sprake dat kerkgenootskappe hul lidmate sou afraai om ANC te stem sou Zuma dié praktyk nie staak nie, maar die betrokke kerkverband het nie daad by die woord gevoeg toe dit wel gebeur het nie.

In die reël egter, is dit die lidmaat se taak – hy kan nie skisofrenies in sy kerk saam met sy kerk stem aborsie op aanvraag of die lotto is verkeerd nie, maar tog sy kruisie by ‘n party gaan trek wat daarvoor is nie.

Die Nederlandse genadedood-voorval stel egter ook ‘n ander kerklike element aan die orde – om gemeentelede (in nood) pastoraal by te staan. ‘n Kerk is teen aborsie op aanvraag gekant, maar ‘n jong, verpletterde meisie wat pas so ‘n aborsie ondergaan het kom klop by haar predikant aan. Wat is die regte kerklike weg? Om die meisie weg te stuur en te veroordeel omdat sy onkerklik (dus volgens die kerk onchristelik) opgetree het, of ondervang haar met ‘n oorvloed kerklike liefde om haar weer ‘n heel mens te maak?

Sonder dat aborsies goedgepraat word.

Sou iets soortgelyk nie die aangewese weg van die Nederlandse priester wees nie?

Ongelukkig is dit die jakkalsies wat die wingerd verniel. Kerke word so dikwels in kerklike twiste vasgevang, en moet soveel energie in skadebeheer ingaan, dat die kerk nie sy profetiese roeping behoorlik kan vervul nie.

Herman Toerien