Subscribe by Email

Naweekrugby

Of die rugbyringkoppe se besluit om volgende jaar se voorste Curriebekerliga tot ses spanne te beperk iets daarmee te make het is moeilik om te sê, maar die Pumas en die Luiperds se skrikmaak van groot bonde duur voort. Veral die Pumas kan nou enige dag die knoop deurhaak, na hulle ook die Blou Bulle laat klippe kou het.

Die Luiperds, wat onlangs toe Leeus kort voor die einde ‘n GROOT SKRIK besorg het, het weer sake vir die Griekwas bemoeilik.

‘n Speler wat met die hart speel is dikwels minder begaaf as die een wat vir ‘n vol beursie speel, maar op die veld kan hy baie meer werd wees.

Naelskraapse uitslae is egter nie net tot hierdie baklei vir hul lewe-wedstryde beperk nie, en die Haaie het ook harde bene gekou om die WP naelskraap te troef.

En dis hoe rugby moet wees.

Wat ‘n mens by die Cheetah-Leeuswedstryd bring, wat vooraf (weer eens) as ‘n moontlike hoogtepunt van hardlooprugby beskryf is.

Weer eens het die verwagtinge in die slag gebly, maar die Leeus het ‘n paar keer die Aussies met skitterende hardlooprugby nagedoen. Stil-stil gaan die Cheetahs op die punteleer die kreeftegang, terwyl die Leeus se brul bo-aan al hoe harder raak. Beide spanne het baie foute gemaak, maar omdat die Cheetahs besitgewys doodgesmoor is, was die paar keer se besit met blapse afstaan meer rampspoedig.

Die Leeus het verdien om te wen, al kon die Cheethas so maklik danksy ‘n meer gunstige TV-skeidsregterbeslissing, of ‘n paar sitters wat nie windskeef getrek het nie, die pyp gerook het. Maar as is verbrande hout.

Met van die Bokke wat regtig lanklaas op die veld was, is verwag dat die Bokke se wedstrydskerpheid en selfs fiksheid nie sou wees wat dit moes wees nie.

Voeg hierby ‘n titsel hardkoppigheid a-la-afrigter Snorreman wat teen alle logika nog vir John Smit na vaskop laat uitskuif het. Dit werk nie, en het waarskynlik daartoe bygedra dat Smit nou in elk geval weens ‘n besering nie die wêreldbekertoernooi sal kan saamspeel nie.

En of Peter de Villiers nou na goeie raad sal luister en Smit as nie-spelende kaptein saamneem, is ‘n ope vraag. Smit is waarskynlik nou die sesde beste haker in die land, en dalk is daar nog ‘n paar meer vaskoppe wat beter as hy sal vaar.

Spelers speel om die beste in hul posisies te word, en die vernaamste beloning (behalwe vir dié vir wie dit eintlik net om geld gaan) is om die groen en goud oor die kop te trek. Om hierdie rede is daar in die ou dae met sukses proewe gehou. Om nou ter wille van watter rede ook al aan hierdie waarheid te wil torring, werk ontsaglik demoraliserend op sommige spelers in. Neem maar hoe het die destydse afjak wat Jaques Rudolf op sy piek gekry het sy spel beïnvloed.

Terwyl iemand soos Coenie Oosthuizen skynbaar hieroor ‘n hink ontwikkel het, lyk dit of Adriaan Strauss eerder aangevuur is. Maar dis onnodig. ‘n Speler weet wanneer hy beter vaar as ‘n mededinger, en as die afrigter opsluit sy lyf keurder wil hou, moet hy ook.

Gelukkig vir De Villiers het sommige spelers, soos Pierre Spies, sommer goed ingeval.

Of die Bokke nou beter teen die All Blacks gaan vaar na die Wallabies hulle bene lam laat hol het, sal gesien moet word.

As plattelandse rugby, in weerwil van die ringkoppe se gerusstelling, skade gaan ly gaan dit werklik jammer wees. Geldrugby is ‘n werklikheid, maar het darem nie die gees van ‘n veld in die “gopse” waar die “pawiljoen” bestaan uit die ondersteuners wat hul karre in ‘n kring om die veld trek nie.

En hoe gaan mens daai wedstryde mis waar die plaaslike koerant se fotograaf op een been aangesnol kom na hy in sy poging om by die laerskool se vleuel wat op pad is om ‘n drie te druk by te hou, ‘n kramp in die ander been gekry het nie. Of die kannetjie se ma wat van opgewondenheid haar skoene uitskop, die rieme neerlê en nog voor haar kannetjie jillend in die doelgebied aanland.

Dis rou aarde daai wat die eens bekende rugbytalent oopgeploeg het – manne soos Saag Jonger, James O’Kennedy, Bokkie Gerber, Jan Tromp, Bert Young, Kakie Goosen en Herklaas Engelbrecht.

Sonder sulke karakters is die rugby baie armer.

Herman Toerien