Subscribe by Email

Naweekrugby: Warm harte vir hartland

Naweekrugby: Warm harte vir hartland
Binnelanders mag dalk bibber van die koue, maar die harte van die hartlanders klop warm na Griekwas die Haaie kafgedraf, en die Cheetahs teen die WP aan die wenkant was.
Veral Griekwas sal die rugbyadministrateurs wat dié span gerelegeer wil sien, se kaarte lelik deurmekaar krap. Nie net is die Haaie gelooi nie, maar behoorlik kafgedraf.
Hoede af vir die Griekwas!
Wat die Cheetahs betref, baie geluk om ‘n omgesukkelde WP-span te klop wat stert in die lug was na hulle ‘n week gelede die Blou Bulle ‘n rugbyles geleer het.
Maar … tydens die Vrydag-mediakonferensie het dit geklink of die Cheetahs se afrigters, Naka Drotské en Hawies Fourie, nie uit dieselfde mond praat nie. Na die Cheetahs in hul verloorwedstryde teen die Bulle en Haaie elke keer twee drieë met besit wegskop pasella uitgedeel het, het Naka baie sterk klem gelê op besit beskerm en behou. Teen die agtergrond dat hy reeds na die Bulle-wedstryd sy vinger op hierdie jarelange probleem van die Cheetahs gelê het, is verwag dat die Blikore nie sommer weer doelloos gaan sool nie.
Maar Hawies het sy eie taal gepraat, van ‘n balans tussen skop en bal in hand hou. Veral die voorspelers, maar ook die heelagter, word verwar as die hoofafrigter bal in die hand hou gelas, en iemand skop besit weg vir teenaanvalle. Met heelagter Hennie Daniller wat vroeg af is, was Riaan Smit bietjie uit diepte toe hy die laaste vesting moes gaan beman.
Sommer vroeg was dit die beurt van Tewis de Bruyn om ‘n mamparraskop te loods, en het die WP in die hoekie afgerond. Hierna het nog verskeie skoppe die Cheetahs onder groot druk geplaas.
Die vreemde verloop van vanjaar se Curriebekerreeks is boonop onderstreep deurdat vanjaar se aspoestertjiespan, die Luiperds, die amperse Leeutemmers, die Pumas, oortuigend geklop het. Tot dusver het die Pumas die Leeus en die Haaie groot laat skrik, maar word toe deur die Mielieboere geboor.
Vir die Blou Bulle was dit ‘n onlekker naweek, toe dit deur sy vrygestelde Bokke versterk op Loftus deur die Leeus kafgedraf is. Beide spanne het drie drieë gedruk. Die Bulle was tot kort voor die einde nog sterk in die spel, maar uiteindelik is die span se posisie onderaan die punteleer gekonsolideer. Die Leeus is nou die enigste onoorwonne span na die Haaie en die WP se onoorwonne rekords die naweek in die slag gebly het.
Het die vrygestelde Springbokke die naweek hande opgesteek, of is hul gees gebreek deur die wispelturigheid van Peter de Villiers?
Dis moeilik om te oordeel. Van die spelers staan blykbaar net Heinrich Brussouw nog ‘n kans op insluiting. Hy het te min speelkans gekry om behoorlik beoordeel te word na hy lang buite-aksie-sessies agter die blad gehad het. Van die spelers het tekens van min speelkans getoon terwyl hulle passasiers op die Australasiese toer was die Haaie het sy vrygestelde Bokke nie gekies nie, en Flip van der Merwe het eers ‘n geelkkaart, en toe danksy ‘n tweede geelkaart., ‘n rooikaart gekry en dus ook nie vreeslik baie speelkans gehad nie. Die spelers moes boonop weer by hul bonde se spelpatrone inskakel
Herman Toerien