Subscribe by Email

Naweekrugby se pyne en plesier

Die oggend het die Springbokke gewys hoe dinge nié gedoen moet word nie – die middag gaan die Cheetahs jou wrintiewaar en doen dit na.
Net soos ‘n mens dink die Cheetahs het die mamparra-skopsiekte afgeskud, dan is dit weer sulke tyd …onder meer toe Gerhard van den Heefer wat ‘n drie gedruk het na die Cheetahs besit weggeskop het. Die Cheetahs het dadelik teruggeslaan, maar kort daarna het die Blou Bulle hul tweede drie gedruk van pasella-besit wat hulle luglangs gekry het.
Die Cheetahs sal ook moet begin kop krap oor hoekom die span ‘n eerste helfte so kan oorheers, en dan in die tweede helfte tweede kom. Teen die Luiperds is dit aan die speelkans van plaasvervangers toegeskryf, maar teen die Bulle het dié argument onder verdenking gekom. Tog, dit dui op ‘n span wat groot skop kan hê as die instaanspelers mekaar eers behoorlik gevind het.
Die Springbokke het Doer Onder geleer hoekom die boemerang uit daardie geweste kom – skop besit weg en die beweging word onder jou eie pale afgerond.
Maar die Springbokke het volkome rugby gespeel…wat besit afstaan betref – in die losskrums, in bewegings, in die lynstane…
Toegegee, die bal was nat.
Peter de Villiers wat hoog opgegee het van John Smit wat sy haker, en niks anders nie, gaan wees, skuif toe vir Smit na stut en laat Chilliboy Ralepele haker speel. En hét die Bokke nie vir Coenie Oosthuizen gemis nie!
Na die naweek moet die vraag gevra word: Presies hoe sterk is die Pumas?
Verlede naweek het hulle die Leeus harde bene laat kou, en die naweek daarna kou die Haaie klippe teen die einste Pumas. Die Haaie het die vorige naweek die Blou Bulle afgeslag.
En dié naweek slag die Leeus die Griekwas wat die vorige naweek teen die WP gelykop gespeel het. Die WP het dié naweek weer gewys hulle is nie optelgoed nie deur die Luiperds af te ransel.
Wat die Leeus betref: Dis ‘n sterk span, maar die knormoer lol soms en dan kom die span nie aan die gang nie. Maar werk die knormoer, dans die poppe.
Herman Toerien