Subscribe by Email

Naweekrugby: NS haka, SA nie kaka

Uiteindelik!

Die Springbokke het hul deelname aan vanjaar se drienasiereeks met ‘n oorwinning oor Nieu-Seeland afgesluit. En al word dit nie as Nieu-Seeland se sterkste kombinasie beskou nie, was dit steeds ‘n sterk span volop sterre wat aapstert gekry het.

Maar voor wêreldbekerdrome gedroom word – ‘n foutlose vertoning was dit ook nie. Die Springbokke was gelukkig dat die All Blacks net een drie gaan druk het nadat die Springbokke besluit het om heelwat besit vir die besoekers te skop.

Wat die naweekspel betref; skepskoppe het ‘n ongewoon groot rol gespeel. Afgesien van Morné Steyn se skepskop teen die All Blacks, het die wedstryd tussen die WP en die Leeus twee skepskoppe elk, en die wedstryd tussen die Cheetahs en Pumas ook ‘n skepskop opgelewer. Demetri Catrakilis, die WP se blink jong losskakel, het met sy goue voet nie net ‘n skepskop deur die mikke gejaag nie, maar ook ses strafskoppe deur die pale geklits, en die enigste WP-drie in ‘n sewe-punter omskep. Die Leeus, wat twee keer agter die WP se doellyn gaan kuier het, moes dus die aftog blaas.

Al het die Blou Bulle ‘n groot oorwinning oor ‘n effens lustelose Griekwaspan behaal, het Griekwas tog die tweede helfte op Loftus meer punte as die tuisspan aangeteken, en drie keer die Bulle se doelgebied opgesoek. Die Bulle het egter ses keer gaan druk, en dit lyk asof die Bulle in Jano Vermaak ‘n goue vangs anderkant die Jukskei gemaak het.

In Durban kon die Haaie nie ‘n bonuspunt teen die Luiperds insamel nie. Die Haaie het ‘n afdag beleef na hulle ‘n week gelede die WP op Nuweland naelskraap gaan afstof het.

In ‘n naweek waar sprankel maar skaars op die rugbyveld was, het iemand darem besluit om ‘n goue wedstryd op te dis – die Cheetahs.

Vooraf is wyd gewonder of dit uiteindelik die Pumas se beurt gaan wees om die knoop deur te haak, nadat die Pumas naelskraap teen die meeste van die groot bonde in die stof gebyt het. Joost van der Westhuizen is selfs as motiveerder ingeroep om die Pumas daardie laaste entjie kopskuif te laat maak.

Elf drieë teen twee vertel egter sy eie verhaal. Boonop het eers Sias Ebersohn en later Johan Goosen al elf drieë van alle hoeke af gekroon, terwyl Goosen ook ‘n yslike skepskop oor die dwarslat laat seil het. Boom Prinsloo wat van harsingskudding herstel het, het drie keer die Pumas se doelgebied opgesoek. Die drieëfees het die spanbestuur die geleentheid gebied om ruim speelkans aan die plaasvervangers te gee, en Marcel van der Merwe het sy impak deeglik met twee drieë laat geld.

As die Cheetahs net ‘n deel van die momentum kan behou wanneer hulle weer sterker bonde aandurf, is ‘n sterk uitdaging om die Curriebeker nie vergesog nie.

Ander bonde sal seker wonder wat die Vrystaat sy inwoners voer dat ‘n skynbaar eindelose stroom skitter-losvoorspelers uit die geweste kom, en dat ander dan nog kans sien om hier hul spore te kom verdien. Die Cheetahs moes dié week verneem dat hul kaptein, Juan Smith, dit nie maak om Saterdag ‘n speelkans te geniet nie, en nou fokus om volgende jaar slaggereed te wees. Boonop moes Ashley Johnson die Bokke in die Baai gaan uithelp, terwyl Heinrich Brussow in elk geval die All Blacks geteister, en ‘n paar balle weer deur die sleutelgat gaan gaps het. Voeg hierby dat Kabamba Floors, Phillip van der Walt en Frans Viljoen nog met beserings sukkel, en ‘n mens kan maar net wonder wat die ringkoppe gaan maak die dag wat almal weer beskikbaar is, en Griekwas ook nog ‘n ster na die Blikoorkamp bloei.

Die ironie is dat ‘n mens dit met oortuiging kan stel dat iemand wat die eindtelleing tussen die Pumas en die Cheetahs reg sou voorspel, g’n snars van rugby af weet en vanjaar op die rugbyveld gebeur het nie.

Herman Toerien