Subscribe by Email

Naweekrugby: Groot kommer en baie trane

Gaan asseblief die fynskrif van Peter de Villiers se kontrak na. Is daar nie dalk ‘n tegniese punt waarop De Villiers se sê in spankeuses opgeskort kan word nie? Of – dreig hom met die prestasieklousule om afstand te doen van spankeuses doen. Oom Anneries van Ficksburg met die halwe long sal ‘n beter keurder wees.

En mag dit dalk maar so wees dat Rassie besig is om die regte Springbokspan by Rustenburg vir die Wêreldbeker dril. Daai amptelike rehabilitasiesessie vir top-“beseerde” spelers.

Want sowaar, so kan dit nie aangaan nie.

En nee, dit troos nie om te sê eintlik ons B-span wat so opgeneuk word nie. Daar behoort nie so ‘n groot verskil tussen die “A-span” en “B-span” te wees nie. Onthou nog in die dae van proewe, hoeveel keer die “B-Span” die Springbok-skimspan kafgedraf het. Want die kwaliteitverskil behoort minimaal te wees, en as ‘n man met die hart speel…

Op toere het die Skimspan soms teen ‘n span soos die Vrystaat aapstert gekry. As daai ouens wat in Australasië die B-span was, wag daar groot slae op die Springbokke met die Wêreldbeker.

En vra maar vir Griekwas en die Pumas van speel met die hart, eerder as die beursie. Hoede af vir die Pumas wat bly spook met die groot spanne, en hoede af vir Griekwas om met skitter-agterspel weer op hul voete te gekom het na verlede naweek se groot loesing teen die Goue Leeus. Sterk spanne wat bloot teen dié spanne wil gaan punte haal, gaan dit bitterlik berou.

In die verlede het dit al gebeur dat dit vir hierdie skrywer gevoel het die Cheetahs antwoord in ‘n volgende wedstryd aspris met net nog meer mamparraskoppe as die uwe na die vorige uitgewys het hoe hierdie pasallabesit deur hul opponente gebruik word vir drieë druk.

En dan boemerang daai skoppe weer.

Maar na die wedstryd tussen die Cheetahs en die Blou Bulle, waar die Cheetahs weer twee pasella-drieë, en die wedstryd op hierdie manier weggesmyt het, het die afrigter en die kaptein toegegee dat die – soos dit gestel word – doellose geskop besit afgestaan het. Dus herbesinning?

Maar van die eerste drie drieë van die Haaie se blitzkrieg van drieë was twee weer danksy dié luglangse pasellabesit.

Trouens, dit het aanvanklik gelyk of die Cheetahs erg onkant gevang is toe Stefan Terblanche wat op die bank sou wees, en die “beseerde” Frederic Michalak wel tussen die begin-15-tal se spelers was.

Die Haaie het ook baie balle weggesool, maar met veel beter dividende. Dié keer het die Cheetahs egter in die tweede helfte teruggekom en uiteindelik nog twee tweedehelfte-drieë by dié van hul twee in die eerste helfte gevoeg en ‘n bonuspunt gekry. Die Haaie se drieë is almal in die eerste helfte aangeteken. In hul vorige twee wedstryde het die Cheetahs tydens lemoentyd verklaar.

Trouens, in die tweede helfte het dit gelyk of die Cheetahs as span mekaar begin vind het, met hier en daar ‘n hik. Nou gaan ‘n paar veranderings a-la-terugkerende Springbokke gemaak word en dit sal interessant wees om te sien of die voorspelers hul man beter in die skrums en dryfbewegings kan staan.

Die Haaie met vyf drieë het vyf punte uit die wedstryd gehaal.

Nog ‘n span wat 5 punte bymekaar gemaak het is die WP, wat die Blou Bulle met totale rugby van hul voete gespeel het. Slegs met dryfspel het die Bulle gelyk of hulle dalk die WP bietjie oor is, maar die WP het met vlieënde drieë dié faktor buite spel geplaas.

Die seisoen se melkkoeie tot dusver, die Luiperds, het die Leeus groot laat skrik deur ‘n groot agterstand uit te wis, en ‘n hele ruk gelykop te loop, voor die wisselvallige Leeus die knoop kon deurhaak. Sewentien punte in die doodsnikke het die Luiperds ‘n tweede bonuspunt ontneem. Die Leeus het 8 drieë ingeryg, en die Luiperds 5

Herman Toerien