Subscribe by Email

Natter klimaat dalk rede vir Mongoolse uitbreiding

Anders as wat voorheen gemeen is, is dit dalk nie tydperke van droogte in die oosterse tuiste van die Mongole wat hul uitbreiding aan die begin van die 13de eeu gestimuleer het nie, maar ‘n natter klimaat.

Die Mongoolse ryk het uiteindelik die grootste aaneenlopende landmassa beslaan wat die wêreld nog geken het.

‘n Groep navorsers wat deur onder meer die National Geographic Society geborg is, het in Mongolië op houtstompe afgekom wat op yl grond bo ‘n gestolde lawastroom gegroei het. Hulle het een stomp vir ontleding na die VSA gestuur, waar dit geblyk het die stomp dateer terug na 657 na Christus. Hoewel dit nie die oudste stuk hout is wat nog gekry is nie, is dit insiggewend omdat die jaarringe veel verklap oor die klimaat tydens die opkoms en uitbreiding van die Mongoolse ryk van Ghensis Kahn.

Die jaarringe uit dié periode was wyer, wat op ‘n natter klimaat oor ‘n hele aantal opeenvolgende jare dui. In dié tydperk was die grasvelde digter, en sou die Mongole hul vernaamste wapentuig, perde, kon uitbrei. Elke Mongoolse soldaat het gemiddeld tien perde gehad. As is gedagte gehou word dat een van die grootste weermagte wat Ghensis ingespan het uit 200 000 manskappe bestaan het, sou dit ‘n geweldige hoeveelheid perde behels het as ook hulle ook elkeen gemiddeld tien perde tot hul beskikking sou gehad het.

Die digter plantegroei sou ook weiding verskaf aan die reuse troppe geplunderde vee wat die Mongoolse soldate nodig gehad het om hulself mee te voed.

Teen 1258 was daar ‘n reuse vulkaniese uitbarsting wat ‘n koeler, droër klimaat tot gevolg gehad het. Die Mongole het ook toe hul hoofstad uit die steppe na die hedendaagse Beijing verskuif.

Een van die navorsers, Amy Hessl van die Universiteit van West Virginia beklemtoon dat die bevindings nog baie voorlopig is, en dat die neerslag in ‘n meer onder meer in die opvolgbesoek aan Mongolië wat nou begin, ondersoek sal word. Chinese, Mongoolse en Europese geskrewe rekords sal ook deur kundiges nagegaan word om te kyk of stawende getuienis daarin opgesluit lê.

http://www.msnbc.msn.com/id/48264375/ns/technology_and_science-science/#.UArM68XNkxE

Herman Toerien