Subscribe by Email

Nasionalisering nie lewensvatbare beleid nie

Die Vryheidsfront Plus is van mening dat die ANC se insig dat die nasionalisering van myne, soos vervat is in die verslag van ‘n ANC-taakspan, nie ‘n lewensvatbare beleid vir Suid-Afrika is nie, mosterd na die maal is. Volgens adv. Anton Alberts, VF Plus parlementêre woordvoerder oor minerale, moet die ANC kennis neem van die geskiedkundige feit dat die groot projek van sosialisme internasionaal gefaal het en dat dit reeds in 1989 plaasgevind het met die val van die Berlynse muur.

“’n Mens moet wonder op watter planeet die ANC woon dat hulle enigsins die pleidooie van ‘n quasi-kommunis met tenderpreneuriese neigings, soos Julius Malema, ernstig opgeneem het en hierdie ondersoek geloods het. Selfs Homer Simpson sou kon aandui dat privaatbesit en die vrye mark, hoewel nie perfek nie, die beste stelsel is om rykdom en werk te skep en sosiale geregtigheid te verseker. Wat wel hierdeur gebeur het, is dat Suid-Afrika se beeld by buitelandse beleggers baie skade gely het. Dit mag dalk snaaks wees dat die ANC werklikheidsvreemd optree, maar dit is geen grap nie, veral vir die mense wat ‘n werk kon bekom het weens beleggings, maar wat nou verlore is as gevolg van die ANC se optrede,” het Alberts gesê.

Die VF Plus is van mening dat die ANC reeds deur middel van kaderontplooiing, regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging die ekonomie van Suid-Afrika toenemend begin beheer. Dit is deel van die ANC se plan soos uiteengesit in die bloudruk van die Nasionale Demokratiese Rewolusie wat met alle mag teëgestaan moet word.