Subscribe by Email

Nádine wen oorsee

nadineAnna-Retha Bouwer

Die sangeres Nádine, wat hard besig is om met haar talente oorsee te woeker, het pas ’n onverwagse meevaller gekry toe sy as wenner in ’n groot Europese liedjiekompetisie aangewys is en in die proses stof in die oë van mededingers soos Coldplay geskop het.

Nádine is vanjaar se wenner in die jaarlikse World Peace Song Festival vir haar liedjie This Time I Know It’s for Real van haar album This Time I Know.

Hierdie liedjie is reeds vir meer as ’n jaar ook gewild op Suid-Afrikaanse radiospeellyste.

Sy is die eerste Suid-Afrikaner wat wen sedert die kompetisie 14 jaar gelede ontstaan het.

“Die toekenning is vir my ’n baie groot aanmoediging dat ek op die regte pad is met my loopbaan,” het Nádine aan Beeld gesê.

“Dit is nie die eerste keer dat mense oorsee sê hulle hou van die album nie en dit bly vir my wonderlik hoeveel mense se harte deur hierdie liedjie aangeraak word.”

Volgens haar het die beoordelaars in Amerika en Engeland aan haar die hoogste punt moontlik toegeken.

Die World Peace Song Festival is ’n jaarlikse gebeurtenis wat sedert 1996 deur die OGAE – ’n organisasie in Italië – gehou word. Die OGAE is ’n interna­sionale aanhangersklub vir die gewilde Eurovision-liedjiekompetisie in Europa.

Lande soos Engeland, Italië, Frank­ryk, Spanje, Amerika en Wallis neem jaarliks daaraan deel.

Nádine het verlede jaar ook ’n Vonk-toekenning gewen vir die album, wat nog in die eerste helfte van vanjaar in verskeie lande in Europa uitgereik sal word.

“Dit was baie veeleisend om die grondwerk vir ’n Europese uitreiking te doen,” sê Nádine, wat tans weer terug in Suid-Afrika is.

Tussendeur het sy ook hard gewerk om haar loopbaan in Suid-Afrika aan die gang te hou.

“Ek het 14 jaar lank aan my loopbaan hier gewerk en sal definitief nie nou my rug daarop keer omdat ek ook in Europa ’n album gaan uitreik nie.”

En met haar 28ste verjaardag aan die einde van die maand, geniet sy dit om vir eers nou weer by die huis te wees. “Ek eet Steers-hamburgers, loop met plakkies en luister na Afrikaanse musiek in my kar!”

Nádine se DVD, Nádine Live in Europa/Europe, sal in Maart vanjaar plaaslik uitgereik word.

One Response to Nádine wen oorsee

  1. corrie moekotte

    Maart 8, 2010 at 6:57 pm

    nadine,

    wanneer kom je in Nederland en/of Belgie optreden???